Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Skitterende kleinood van ’n vol lewe geleef

Spertyd deur Elsa Joubert. Outobiografie. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R275.

“Hoe het dit skielik laat geword?”

Dié vraag het sekerlik al almal buiten die prilstes onder ons onverwags betrap.

Elsa Joubert . . .Spertyd is die voltooiing van haar outobiografiese drieluik. Foto: Natalie Gabriels

Deur ’n skarnier wat skielik roes wys, ’n gedagte wat ontglip of ’n spieël wat eerlik terugkaats, besef ons op ’n dag dat die Nylvaart van ons lewens aan’t afloop is.

As die eindbestemming al hoe groter opdoem, is die meer tergende vraag hoe om dié werklikheid te trotseer.

In Karel Schoeman se gedagtes wat postuum as Slot van die dag (2017) verskyn het, vertel hy van ’n man, in sy vroeë 90’s, wat hy jare vantevore by ’n bushalte op die Nederlandse platteland raakgeloop het en wat hom teëpraat toe hy sê ouer word is interessant.

Wat omvang en toon betref, is Spertyd ’n kleiner en stiller boek as die twee voorgangers.

Mettertyd sou Schoeman met hom akkoord gaan en deur eie ingreep die aftakeling stopsit.

Daarenteen het Elsa Joubert, soos Schoeman een van Afrikaans se fynste prosakunstenaars, ’n ander, dalk koppiger, benadering.

In die betreklik dun bundel met die speelse titel Spertyd teken Joubert die pas afgelope anderhalf dekade, haar jare van ongeveer 80 tot 95, in dagboek-tipe inskrywings op.

Die voorblad van Spertyd.

Dit is die derde in ’n drieluik outobiografiese tekste. Die ander is ’nWonderlike geweld (2005), ’n derdepersoon-vertelling oor haar grootword- en universiteitsjare, en Reisiger (2009), wat op intiemer wyse die jare daarna, met haar man, die joernalis en skrywer Klaas Steytler, en hul drie kinders, opteken.

Wat omvang en toon betref, is Spertyd ’n kleiner en stiller boek as die twee voorgangers.

Haar man het haar ontval en Joubert trek in twee woonstelle (die een staan as studeerkamer in) in die aftreeoord Berghof, “ ’n rooibaksteengebou van vyf verdiepings”, in Kaapstad se Tuine-buurt in.

Waar vroeër Afrika, en daarna, veral in die kielsog van Die swerfjare van Poppie Nongena (1978), die wye wêreld haar woning was, krimp die uithoeke van Joubert se domein nou tot dié klein republiek van oues in.

Tog, al word sy al hoe meer lendelam én twee winkelheupe ryker, skort daar niks met haar sinne nie. Sy pak die daaglikse uitdagings met ’n hutkoffer vol humor, ironie en diepe erbarming, ook vir haarself, aan. En sy teken haar en haar oordgenote se lief en leed in ragfyn en deurgaans roerende paragrawe op.

Dikwels keer die kranke terug, met haar gesondheid tydelik herstel. En gaan die lewe net duskant die “oorstappaadjie” vir nog ’n jaar of wat voort.

So in die skryf is dit amper asof Joubert met haar tong wat haar kies laat puntstaan die genre van kosskoolverhale op sy kop keer: Ouspan op Maasdorp, of iets in dier voege. Soos daardie wêreld, het die lewe op Berghof ook ’n eie ritme, roetine en selfs slengtaal.

Hier, “op die drumpel van die hiernamaals”, is die gewildste buitemuurse aktiwiteit egter besoeke aan die hospitaal oorkant die besige pad. Wanneer dán hierdie, dán daardie inwoner in ’n kruiwa (oftewel ’n rolstoel) hospitaal toe gekarwei word, loop gerugte van reën gou soos ’n veldbrand.

Dikwels keer die kranke terug, met haar gesondheid tydelik herstel. En gaan die lewe net duskant die “oorstappaadjie” vir nog ’n jaar of wat voort.

Al is daar hiér, in die latenstyd, ’n traagheid om in nuwe vriendskappe te belê, lei Joubert tog ’n vol en geskakeerde lewe. Haar jare lange vriendin Rita is ook in Berghof ingeburger, en hulle gaan elke dan en wan op trapsuutjies-uitstappies, in Joubert se geval later, as lid van die “wielebrigade”, met behulp van haar stap-en-sit-megefter StomJapie.

En Joubert knoop ook met ander siele sinvolle dog brose verhoudinge aan. Daar’s die Ingelsman wat weifel tussen bly en Wallis toe trek om by sy dogter te wees, en die kinderlose vrou wat haar kroos van 32 teddiebere koester.

Die jare het Joubert geen snars van haar seggingskrag ontneem nie. Haar prosa is steeds fier en veerkragtig.

Die beskrywing van ’n middagete waarnatoe Joubert en Rita hul ou vriendinne Alice en Kitty op ’n deur-die-suidooster-omwoelde dag uitnooi, is tegelykertyd met deernis deurdrenk en skatersnaaks.

Kort daarna verneem hulle dat eers Alice en toe Kitty oorlede is.

Deur als, veral as sy gaandeweg meer dikwels buite weste raak, is Joubert se anker haar familie. Sy beskryf haar interaksies met haar kinders en kleinkinders met piëteit en selfspot. En tussendeur die hoofvertelling verweef Joubert flink kameebeeldjies van haar kinderjare in die Pêrel, en vakansies in die Strand, wat sy meermale gebruik om haar lewensbesluite krities en besinnend in oënskou te neem.

Die jare het Joubert geen snars van haar seggingskrag ontneem nie. Haar prosa is steeds fier en veerkragtig.

Elkeen, vertel sy, het “ ’n plekkie in die sagte pensvel waar die pyltjie sal binnedring” en, wanneer sy van Berghof se tuin praat, hoor sy “die gezoem van ’n duisend listige bye wat soos ’n vuil mat oor die bedding geel blomme hang”. Die oumense het koppe “soos ’n gieter met lekplekke”.

Kortom, Spertyd is ’n skitterende kleinood.

Met teerheid, eerlikheid en ’n verstommende ruimheid van gees, toon Joubert dat, al is die afdraand van die dag onvermydelik kil, is daar tog nog flitsies son.

* Koop die boek hier by takealot.

  • Jean Meiring is ’n vryskutresensent en regsgeleerde.
Meer oor:  Elsa Joubert  |  Boekresensie  |  Vermaak  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.