Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Skokkend kontemporêr’, Rabie in ’n eeu

Die Sestiger-skrywer Jan Rabie sou Saterdag 100 jaar oud word. Hy was lief vir die see en het na aan die natuur geleef, maar hy was ’n voorloper met sy denke en bewustheid van ’n groter wêreld. Verskeie mense het hul herinneringe aan hom met AJ Opperman gedeel. 

Wanneer Jan Rabie nuwe skryfwerk voorgelees het, het hy altyd ernstig gewaarsku: “Dis die brood met sy rosyntjies.”

Dit het beteken hy was tevrede met dié nuwe paragrawe prosa.

So onthou die joernalis en kunsskrywer Amanda Botha dié Sestiger, bekend om boeke soos die kortverhaalbundel 21 en romans soos Die groot anders-maak.

Jan Rabie Foto: Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln)

Hy sou Saterdag 100 jaar oud word.

Botha het Rabie en sy vrou, die Skotse skilder Marjorie Wallace, in die 1970’s ontmoet.

Hy was voorsitter van die Skrywersgilde toe Botha die sekretaresse was.

“Jan, is vir my soos Bart Nel – hy is wie hy is. Hy weet van integriteit en outensiteit – ’n man van waarde.

“Wanneer Jan besig was om te skryf, het hy eers ’n draai by die see met sy honde geloop, sy tuin en die seebamboes wat hy op ’n stellasie gedroog het, bekyk, en dan gaan werk. As hy sy kwota vir die dag geskryf het, het hy weer gelees, verstellings gemaak en dan, vir hom baie belangrik, sy dag se woorde-oes getel en dit netjies aangeteken.”

"Onthou net eén ding. Die see is nie ’n hy nie, dis ‘n sy. Sy is die oermoeder en die mens wat haar ‘hy’, sal met my te doen kry!"

Botha het Rabie ’n jaar of wat ná die onluste in 1976 in Soweto genooi om voor die Kaapstadse Persklub te praat.

Rabie het onder meer gesê Afrikaans is een van die grootste prestasies van Afrika.

“ ’n Doodse stilte en dadelik die aandag van die gehoor. Hy lewer sy toespraak grootliks in Engels en sluit af met die woorde: ‘Sonder Afrikaans is ek niks!’ Die ontvangs? ’n Staande applous.”

‘Jan en die honde’ deur Marjorie Wallace.

Sonneblomme

“Sonder Afrikaans is ek niks” is die woorde op Rabie se graf in Onrus. Sy en die skrywer Uys Krige se grafte is langs mekaar.

“Jan het drie sonneblomme by die koppenent van Uys se graf geplant en hulle gereeld water gegee,” sê die rolprentregisseur Katinka Heyns.

“Ek het op ’n keer saamgery met twee gieters vol water in die 1949-Morris. Die Suidooster het die vorige nag woes gewaai en toe ons wegtrek, was sy woorde: ‘Ek dink die wind het die sonneblom by Uys se linkerskouer onderstebo gewaai!’ En dit was ook so. Jan het die plant weer regop gehelp en nat gelei.”

Heyns het ’n dokumentêr oor Rabie en Wallace gemaak.

Sy het op haar man, die skrywer Chris Barnard, se aandrang in haar ouma se Cortina na Onrus gery om Rabie om raad te vra vir ’n dokumentêr wat sy oor die see wou maak.

“Hy het my by die houthekkie ingewag. Sy openingswoorde was: ‘Onthou net eén ding. Die see is nie ’n hy nie, dis ‘n sy. Sy is die oermoeder en die mens wat haar ‘hy’, sal met my te doen kry!’

Heyns woon lankal op Onrus.

“Hy het op ’n dag my oudste seun, Reghard, oorgenooi om vir hom te kuier en hy het sy groen rolnek kabeltrui vol gate aan hom geskenk as sy eerste duikpak. Marjorie was heel bereidwillig om ’n gebruikte paar pantyhose te skenk. Jan het besluit ‘die see is nie só koud nie’.”

Liefde vir Afrikaans

Die skrywer Abraham H. de Vries onthou ook Rabie se liefde vir Afrikaans.

Een van sy bekendste uitsprake was: "Afrikaans gaan nog die boete betaal vir apartheid.”

De Vries het ook by hulle aan huis gekuier op Onrus waar hulle gewoon het.

Marjorie Wallace en Jan Rabie in sy 1949-Morris. Foto: Argief

“Ons het op ’n dag op die stoep gesit. Jorie sê toe Jan het gaan nagklere koop. Sy ma is oorlede en sy het geld aan hom bemaak. Hy kom toe met ‘n hengse spul pajamas daaraan. En hy sê jy sal nooit soveel geld hê nie. Dis onmoontlik om al daardie nagklere in ’n leeftyd op te dra.”

Rabie en Wallace het baie armoedig geleef ondanks die baie geld wat hulle inderwaarheid besit het.

Met daardie geld is die Jan Rabie Marjorie Wallace-skryfbeurs begin.

Jan Sebastian Rabie is op 14 November 1920 op George in die Suid-Kaap gebore.

Hy en Wallace het mekaar in die laat 1940’s in Parys ontmoet.

Rabie het in sy dagboek geskryf van “ 'n Skotse skilderessie” wat hy ontmoet het.

Hulle is op 4 Januarie 1955 getroud. Kort daarna het Rabie in Suid-Afrika aangekom. Wallace het later gevolg. Rabie het op 7 Maart as omroeper by die SAUK begin werk.

Die daaropvolgende jaar het 21 verskyn, wat bekende verhale soos “Drie kaalkoppe eet tesame” en “Ek het jou gemaak” insluit.

Die egpaar het in Cheviot Place 6 in Groenpunt, Kaapstad, gewoon en later op Onrus.

Jan en Jorie

'Onrust'

“Jan het altyd ‘Onrust’ geskryf,” sê De Vries. “Altyd met die Nederlandse ‘t’ by. Sommige van Onrus se straatname van Afrikaanse dinge uit die see is aan Jan te danke. Hy het dit voorgestel en die stadsraad het dit opgevolg.”

Dit was hier waar Jan en Jorie op die stoep geslaap het.

“En hulle het dwarsdeur die jaar daar geslaap, of dit winter of somer was,” sê Estelle Spaarwater, wat naby aan hulle gewoon het.

“Ek onthou ’n dag het Jan geval en seergekry. ’n Man in die straat het dit gesien en my kom roep. Toe ek by hulle aankom vee Marjorie met ’n vuil vadoek die bloed van sy kop af. Dis hoe hulle geleef het.”

Wanneer Wallace koffie gemaak het, kon Spaarwater vanuit haar huis hoor hoe sy Rabie roep.

“Jan! Koffie! En sy kon nie sy naam behoorlik uitspreek nie. Hulle het absoluut eiesoortige persoonlikhede gehad.”

‘Marjorie and Jan’s Sitting Room’ deur Marjorie Wallace.

Die skrywer, joernalis en uitgewer Petrovna Meterlerkamp het hulle in 1994 ontmoet toe sy begin het met navorsing oor die digter Ingrid Jonker.

“Toe hy my sien aankom, hoor ek hoe sê hy vir Marjorie: ‘Hier kom ons Ingrid.’ Ek lyk glad nie soos sy nie. Maar hy was baie na aan Ingrid. Hy het haar dalk die beste verstaan.”

Metelerkamp het hulle dikwels uitgeneem vir ete.

“Jan was ongelooflik intelligent. Hy het regtig naasteliefde gehad. Hy was iemand wat vir my net hoendervleis van lekkerkry gegee het.”

Huppel

Die digter Lina Spies het Rabie ontmoet toe sy aangewys is as die wenner van die Ingrid Jonker-debuutprys vir poësie vir haar debuutdigbundel, Digby vergenoeg.

“Hy was ’n geweldige vrolike, opgeruimde mens. Ek kan hom nie anders as uitbundig beskryf nie. Jan het altyd so met ’n huppel geloop. Die gelukkigste kuiers van my lewe was daar. Dit was gesellig en ontspanne; nie vol swaarwigtige literêre gesprekke nie. Dit het my altyd opgeval: daardie onopgesmuktheid. Hy het homself nie ’n belangrike mens geag nie. Ek sou my Onrus-kuiers vir niks ter wêreld wou mis nie.”

‘Ontbyt by Onrus’ deur Marjorie Wallace.

Rabie is op 15 November 2001, ’n dag ná sy verjaardag, oorlede. Hy het aan Lewy-liggaamsdemensie gely. Hy was 81.

Die akteur Grant Swanby het Rabie vertolk in die fliek Black Butterflies.

Hy het 21 gelees.

“En ek het gedink julle maak seker ’n grap. Dis ongelooflike verhale, met ’n skeut eksistensialisme. Nie juis blomryk nie, maar met ’n merkwaardige verbeeldingswêreld.”

Swanby reken hy het die rol in Black Butterflies gekry omdat hy teenoor die regisseur, Paula van der Oest oor Jan “seker 15 minute lank” geborrel het.

“Ek het altyd daarvan gedroom om te kon deel wees van die partytjies wat daardie groep skrywers saam gehad het. En ons kon in die rolprent daardie byeenkomste uitbeeld.”

Jan Rabie is bekend om die kortverhaalbundel ‘21’ en romans soos ‘Die groot anders-maak’. Foto: Argief

Die akteur Francois Toerien het Rabie vertolk in die tweemanstuk Jan en Jorie.

“Ek moes sy bewegings van latere jare onder die knie kry. Hy het aan Lewy liggaam-demensie gely. Ek moes my hare kleur en ek moes tan, want Jan was bruingebrand.”

Jan en Jorie is onder meer op die Kalfiefees in Hermanus opgevoer.

“Ons het in daardie tyd eendag by sy huis ingestap net voordat ons opgetree het. Ek het net ’n gevoel gekry toe ek by studeerkamer instap. Wanneer jy ’n lewe uitbeeld kan klein goedjies vir jou ’n sleutel gee.”

“Afrikaner is vir my veel meer as witman, ek probeer dit skrywe.”

Louise Viljoen, emeritus professor aan die Universiteit Stellenbosch, sê Rabie het as Afrikaanse skrywer die enge Afrikaanse wêreld, sowel as die letterkunde hier, oop geskryf.

“Hy was bewus van groter wêreldkwessies. Hy het visioenêr gedink oor die toekoms. Hy was ’n voorloper vir daardie groter denke en bewustheid.”

Viljoen beskryf 21 as “skokkend kontemporêr”. Sy glo ’n mens kan vandag nie genoeg oor dié boek sê nie.

Rabie het gesê: “Afrikaner is vir my veel meer as witman, ek probeer dit skrywe.”

Rabie het baie oor die kwessie van Suid-Afrikaanse identiteit nagedink.

“Hy het geskryf oor iets soos die Khoi-geskiedenis,” sê Viljoen. “Daar is ’n wyer geskiedenis as net die witmense van die land en Jan het dit verstrek in sy romans. Dis iets wat die ander Sestigers eers later gedoen het.

Jan Rabie is op 15 November 2001 dood. Hy was 81. Foto: Argief

“Daar is iets geweldig vars aan die manier waarop hy na dinge gekyk het.”

Rabie het verskillende genres beoefen.

“Hy het oor ’n wye spektrum geskryf. Hy was in voeling met ’n groter literêre wêreld as net die Afrikaanse. 21 is die boek wat uitstaan omdat dit so ’n vernuwend was.

“Hy het ook probeer om Afrikaanssprekendes en Afrikaanse lesers se wêreld groter te maak. Hy het baie gedoen om Afrikaans op ’n positiewe manier uit te leef en uit te straal na ander.”

Meer oor:  Lina Spies  |  Katinka Heyns  |  Grant Swanby  |  Amanda Botha  |  Petrovna Metelerkamp  |  Jan Rabie  |  Onrus  |  Letterkunde  |  Skrywers  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.