Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Skroeiend soos kookwater

Fiksie

The Book of Malachi

T.C. Farren

KWELA, R320

Dis skaars Junie en Kwela Boeke het reeds twee van die jaar se indrukwekkendste fiksietitels, Yellowbone deur Ekow Duker en Lucky Packet deur Trevor Sacks, uitgegee. Hierdie twee romans bly my by wat betref die skep van unieke, aweregse manlike hoofkarakters met stemme wat diep ontroer en begogel.

T.C. oftewel Tracey Farren het reeds twee boeiende literêre rillers, Whiplash en Snake, gepen, waarvan eersgenoemde onlangs as Tess verfilm is. Met The Book of Malachi bied sy lesers haar beste roman tot op hede.

Wees gewaarsku: Hierdie teks se ongeveer 300 vlymskerp bladsye vang ’n senutergende, immer ontstellende ondersoek na die verste uithoeke van foltering en oor­lewing vas. Van die eerste hoofstuk tot die hart-wat-klop-in-die-keel-slot neem Farren ons op ’n letterlike en geestesreis met die stomme Malachi Dakwaa.

Malachi, of Maleagi in Afrikaans, is natuurlik ’n figuur uit die Bybel se Ou Testament. Sy “boek” raak die korrupsie van die Israeliete in Jerusalem ’n eeu ná hul terugkeer uit ballingskap aan.

Maar wat gebeur met hart en siel, met vleis en bloed en sening, wanneer organe onwettig en ongereguleerd geoes word?

Farren se protagonis word die leser se morele gewete en die spilpunt van die vertelling. Sy familiegeskiedenis is een van uiterste tragedie. Wanneer ons met hom kennis maak in die eerste hoofstuk – ’n kortverhaal in die kleine, sekerlik – leer ons bitter gou presies hoe dinge werk in die hoenderfabriek waar hy ’n rat in die masjien is. Gou is daar ’n nuwe werksaanbod en die belofte om vir Malachi ’n nuwe tong te skep, mits hy bereid is om op ’n olietenkskip te gaan werk en sy siel te verkoop om sodanig weer ’n stem te mag hê.

Maar wat gebeur met hart en siel, met vleis en bloed en sening, wanneer organe onwettig en ongereguleerd geoes word? Wanneer verloor ’n mens die reg op ’n stem, om gehoor te word? Waar word die onderskeid getref tussen die reg op lewe, en die reg om lewe te mag neem? Wat beteken dit om eties te verkeer in ’n tyd waar betekenis, geloof en ideologie die samelewing al hoe minder tot ’n eenheid bind?

Farren se prosa herinner aan die ontslape Yvonne Vera met beskrywings van trauma en verlies wat jou laat steier. Soos kookwater, só skroei Farren se woorde.

Wat die grootste indruk maak is die karakter en stem van Malachi Dakwaa self. Hy is veel meer as net ’n verlangse afstammeling van J.M. Coetzee se doofstom tuinmaker en reisiger Michael K. Op makro- en mikrovlak word dit deurgaans duidelik presies wat ’n enorme prestasie dit is om die gefolterde Malachi ’n ander tongval te gee as die eerstepersoonsverteller. Farren laat The Handmaid’s Tale lyk soos ’n kinderpartytjie.

Wrang, ironies, teer, hierdie meesterlike roman.

Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en -resensent van Stellenbosch.

Meer oor:  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.