Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Skryf as terapie teen verlies

Niefiksie

Om tot verhaal te kom

Lizette Rabe

LAPA, R260

Lizette Rabe – gesoute joernalis, oudtydskrifredakteur en joernalistiekprofessor – se nuutste boek word met hoë verwagting opgetel.

Om tot verhaal te kom is ’n skryfgids wat lesers lei om trauma en verlies deur skryfterapie te verwerk. Rabe vertel hoe sy die verlies van haar seun weens selfdood met woorde probeer verwerk.

Die waarde van skryfterapie is goed gedokumenteer en Rabe het omvattende navorsing oor die tema gedoen. Dis egter frustrerend om die boek te lees. Slordige redigering en irriterende herhalings ondermyn die welbedoelde boodskap. Die titel alleen kom ten minste 19 keer in verskillende variasies in die boek voor.

Die deeglike navorsing wat gedoen is en Rabe se verwoording van haar eie ervaring behoort op sy eie bene te staan. Dis steurend om krukke raak te lees soos “Die punt is” en “die punt is natuurlik” (albei op bl. 59); “die punt is” (twee keer op bl. 60) en “Sommer net vir interessantheidshalwe” (bl. 71).

Daar word boonop afgeskryf na die leser, soos die verwysing na ’n wetenskaplike artikel “wat effens moeiliker lees” (bl. 83) en die “p-boek” – die “elektroniese maatjie van die e-boek” (bl. 127).

Uit ’n redigeringsoogpunt is die afbreekfoute onvergeeflik, want dis juis op bladsye wat handel oor die redigeerproses. Op bl. 54: “Spasief-oute is soms net slordig”. Op bl. 128 “natu-urlik” op dieselfde blad waar gemaan word: “Daar is min dinge wat so afbreuk kan doen aan ’n skryfstuk soos spelfoute en ander grammatikale slordighede.”

Inligting oor die skryfproses, selfpublikasie, die media en skryfterapie word nooit regtig tot ’n hegte eenheid vasgeknoop nie. Telkens word (goeie) raad oor skryf ondergrawe deur ’n slotopmerking wat die voornemende skrywer aanmoedig om eintlik maar sy eie ding te doen en hom nie te veel aan énige raad te steur nie.

Die beste skryfwerk in die boek is die boeiende persoonlike korrespondensie van Rabe met mense wat verlies probeer hanteer. Dit bied glimpse van ’n vaardige woordmens wat uit die hart skryf.

Indringende navorsing is gedoen, met inspirerende aanhalings van skrywers en ’n deurtastende leeslys. Dit is jammer dat die opsigtelike moeite met die verkryging van die inhoud nie oorgedra is in die verpakking daarvan nie.

Want skryf is helend. Nes lees terapeuties kan wees.

Die opbrengs van die boek gaan aan die Ithemba-stigting vir die bewusmaking van depressie as biologiese siekte en om navorsing oor depressie te steun. As die lees daarvan wel één mens help, is dit genoeg.

Johanna van Eeden is ’n vryskut-joernalis en resensent van Johannesburg.

Meer oor:  Johanna Van Eeden  |  Lizette Rabe  |  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.