Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Skryf in vir Woordfees en NATi se skryflaboratorium
Aansoeke vir die eerste Woordfees-toneelskryflaboratorium is nou oop. Foto: Getty Images

Suid-Afrikaanse skrywers wat al jare brand om hul hand aan ’n toneelteks te waag, het danksy die Toyota US Woordfees en die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) nou die kans.

Mense kan nou aansoek doen vir die eerste Woordfees-toneelskryflaboratorium. Skrywers wat gekeur word, sal met finansiële ondersteuning hul tekste met kundiges en mededeelnemers kan bespreek terwyl hulle daaraan slyp en skaaf.

Die einddoel van die slypskool, wat drie maande lank is, is ’n voltooide toneelteks van tussen 60 en 90 minute. Al die volledige tekste sal deur ’n geselskap akteurs voorgelees word én vir die Toyota US Woordfees se 2021-program oorweeg word.

Een of twee van die volledige tekste sal wel verder ontwikkel word en as volwaardige produksies by die Toyota US Woordfees in 2021 aangebied word.

“Ons is op soek na skrywers wat nuwe en alternatiewe vorme van teater ondersoek, bereid is om risiko’s te neem en moeilike vrae te stel,” lui ’n mediaverklaring.

“ ’n Sterk narratief, diversiteit (in aanbieding en konvensie), kreatiewe taalgebruik, ’n eksperimentele aanslag en nuwe produksievennootskappe is ’n sterk aanbeveling.”

Volgens die verklaring moet veral teksskrywers wat glo dat teater ’n “sosiale en politieke impak” kan hê – ook dié “wat toneelstukke skryf wat ons leefwêreld uitdaag en verruim” – nader staan.

“Ons ondersteun graag skrywers wat verhale vertel wat nie gereeld op Suid-Afrikaanse verhoë gesien word nie. Ons plaas ’n premie op nuwe Afrikaanse werk, maar oorweeg ook Engelse en meertalige tekste.”

Die eerste Woordfees-toneelskryflaboratorium sal in Afrikaans en Engels aangebied word en sal onder leiding van Saartjie Botha, feesdirekteur, die regisseur Janice Honeyman en die bekroonde aktrise Lee-Ann van Rooi plaasvind.

Skryf só in

Aansoekers moet ’n kort uiteensetting of motivering vir hul teks skryf en daarby óf ’n volledige weergawe van hul onopgevoerde toneelstuk (nie langer as 15 000 woorde nie) óf ’n konsep vir ’n toneelstuk met ’n monoloog (300 woorde) en ’n dialoog (500 woorde) instuur.

Opdragwerke wat reeds vir teaters of feeste ontwikkel word, sal net oorweeg word as die betrokke teater of fees toestemming daarvoor gee. Verwerkings en herwerkings van bestaande werke is ook welkom.

Benewens ’n CV of ’n kort biografie van die skrywer, moet alle aansoeke die skrywer se volledige naam en van, ID-nommer, kontakbesonderhede en fisieke adres insluit. Dui ook aan of jy toegang tot ’n rekenaar en data het.

Aansoeke moet teen 10 Junie per e-pos aan Corné Kruger gestuur word: wf2021@sun.ac.za.

Meer oor:  Woordfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.