Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Skryf is soms eufories, meestal pynlik'

Met haar sielkundige riller "Die laksman se dogter" (Penguin Random House) het Gerda Taljaard die kykNET-Rapport-fliekprys van R125 000 gewen.

Hoe sien jy skrywerskap – die vakmanskap van skryf – en hoe en hoekom wou jy hierdie “talent” oor die jare slyp?

Gerda Taljaard

Van kindsbeen af is ek omring deur stories. My ouma Griet was ’n bobaas-storieverteller wat met gesigsuitdrukking en stemtoon ’n hele nuwe wêreld kon oproep. Sy het eindelose staaltjies oor haar kinderlewe vertel, veral oor haar ma (my oumagrootjie) en haar broers en susters wat in die Mafikeng-konsentrasiekamp was tydens die Anglo-Boereoorlog. Een van die stories, wat die grootste indruk op my gemaak het, was oor haar suster wat lewend begrawe is; vandaar my fassinasie met die makabere.

My ma, Martha, het weer spookstories vertel oor verskynsels wat sy self gesien of waarvan sy by die plaaswerkers gehoor het. Sy het voorbodes gekry en gesigte gesien. Verder was daar my pa, Skilpad, wat ’n speurder was en vele van sy wedervaringe oorvertel het, die meeste daarvan nie vir ons kinders se ore bedoel nie. Dalk is dit waar ek aan my donker temas kom: Ek het nie gekies om oor die dood en die skadukant van menswees te skryf nie, dit het mý gekies.

Ek was nie ’n kind vir stilsit en lees nie, ek wou buite speel en my eie stories fabriseer. Verbeelding is myns insiens veel belangriker vir ’n skrywer as boekekennis. Verbeeldinglose romans wat geskryf is om die akademie te beïndruk, verveel my tot in my hakskeensenings.

Die boek wat my genoop het om skrywer te word is sonder twyfel Henriette Grové se Jaarringe, wat ek as 12-jarige in my suster Rykie se deurmekaar kamer ontdek het. Ek onthou daardie presiese oomblik toe ek dit gelees en gevoel het hoe daar iets wonderbaarliks in my kop gebeur, asof jy wegswenk in ’n magiese labirint ver buite jouself. Dit is een van die redes waarom ek skryf, om weg te kom van myself, en om te ontsnap van die banale. Dit is ook waarom ek lees.

Vir my is skryf gelyktydig ’n intuïtiewe én logiese proses – intuïtief omdat stories hulle soms byna bonatuurlik aanmeld, en logies, omdat dit deeglike beplanning verg om ’n storielyn uiteindelik te laat werk. Die skryfproses is partymaal eufories, maar meestal pynlik; dit kan eensaam en selfs ontnugterend wees. Boonop maak skryf jou weerloos en ontbloot dit dikwels dinge wat jy eerder vir jouself wou hou.

Hoe verander skryf (of die skryfdaad) jou as skrywer?

Practice makes perfect. Skryf is soos enige ander kunsvorm wat eers bemeester word ná vele mislukkings en klippe kou. Hoe meer jy skryf, hoe beter raak jy daarmee, en hoe meer respek (en empatie) kry jy vir ander skrywers. Sommige dinge skryf ek oop in myself, sodat die skryfproses byna terapeuties raak. Dit het my as mens laat groei, glo ek. Ek is nie meer so sku om voor gehore op te tree soos wat ek aan die begin was nie.

Wie is jou “eerste leser” – en hoekom is die persoon se terugvoering vir jou belangrik?

My vriend Derick van der Walt, wat self ’n skrywer is. Hy draai nie doekies om nie, maar sy mening is op die ou end altyd die pyn werd.

Waaraan werk jy tans, of wat is jou volgende skryfprojek?

Ek beplan ’n roman oor vier susters wat tydens die Tweede Wêreldoorlog in Magoebaskloof op ’n plaas woon.

Gerda Taljaard

Commendatio

Só lui die eerste sin: Gisteraand het ek weer van haar gedroom.

Uit die commendatio:

Dit is maklik om opgewonde te raak oor die wenroman van vanjaar se fliekprys omdat die sterk literêre meriete en fees van visuele moontlikhede in die verhaal ’n rolprentmaker se droom is. Daarby het die gegewe van disfunksionele families ’n volwaardige kategorie geword wat gewild is by gehore oor die wêreld heen – dink maar aan Sidney Lumet se Long Day’s Journey into Night, Darren Aronofsky se Black Swan en Sam Mendes se American Beauty. Die laksman se dogter – wat ’n titel! – pas perfek in die kategorie van “huishoudelike noir”: ’n boeiende sielkundige riller wat in ’n eksentrieke familie afspeel en die kyker by komplekse interpersoonlike verhoudings betrek. Wat Taljaard se roman verder uitlig, is die geloofwaardige en gekonsentreerde dialoog – belangrik vir die rolprentmedium – en hoe die fisieke omgewing, die huis in Pretoria, waar ’n mens juis geborge moet voel, die slagveld word waarop manipulasie, bedreiging en vervreemding afspeel. Voeg daarby die interessante, veelvlakkige karakters en jy het ’n volbloed-rolprent, ’n onvoorspelbare reis deur ’n vrou se verlede waarin verskeie donker temas soos skuld, vergifnis, verslawing en die dood van ’n dogter voorkom sonder dat ’n mens in die proses jou humorsin verloor. Die laksman se dogter is ’n boek wat jou in die ribbes skop en jou bybly lank nadat jy dit toegemaak het. Ek vermoed die fliek gaan dieselfde regkry. – Herman Binge

Meer oor:  S.J. Naudé  |  Fanie Naudé  |  Fiksie  |  Jan Rabie-Rapportprys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.