Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Skryf is 'n soort dissolusie’
S.J. (Fanie) Naudé het die gesogte kykNET-Rapport-fiksieprys ter waarde van R250 000 gewen met sy roman ‘Die derde spoel’ (Umuzi).

Hoe sien jy skrywerskap – die vakmanskap van skryf – en hoe en hoekom wou jy hierdie “talent” oor die jare slyp?

Fanie Naudé

As skoolkind het ek my pad oopgelees deur die Afrikaanse letterkunde, veral die Sestigers, en mettertyd ook skrywers uit die noorde – Beckett, Joyce – en Nederlandse en Middeleuropese romansiers leer ken. Kafka was noodwendig ’n jeugheld. Ek het instinktief werke met ’n geur van hoë modernisme uitgesnuffel – terugskouend dalk ’n ongewone instink vir ’n voorstedelike Suid-Afrikaanse kind in die laat 1970’s en vroeë 1980’s.

Ek het mettertyd gedigte begin skryf – met slegs kleinletters, in losse formaat, ’n vae poging om soos E.E. Cummings of Antjie Krog te dig, maar ná hierdie misplaaste jeugpogings het die fokus in my Suid-Afrikaanse studentedae na kortverhale verskuif.

In 1994 verlaat ek die land met behulp van studiebeurse en voltooi my regstudie in Cam­bridge en aan die Columbia-Universiteit. Daarna begin ek ’n allesverterende soort professionele lewe in ’n internasionale korporatiewe regspraktyk in New York en Londen wat geen tyd of psigiese ruimte vir skryf gebied het nie, hoewel die behoefte my nie verlaat het nie.

Die derde spoel

Ek het die eerste keer regtig begin skryf toe ek in 2010 teruggekeer het na Suid-Afrika, ’n land waar ek, behalwe vir gesinsbande, eintlik geen verbintenisse meer gehad het nie. Ek het die strukture waarin ek my oor ’n halwe leeftyd in ’n ander land ingebed het, afgesweer. Juis die feit dat ek my van alles losgemaak het, en my as vreemdeling in die land van my jeug bevind het, het onverwags vrugbare toestande geskep, energie losgeslaan. Die aandrang van die skryfimpuls het eindelik net te dwingend geraak; die stuwing het geweier om langer in toom gehou te word. Die kortverhale in my eerste boek, Alfabet van die voëls, is geskryf in ’n soort roes; hulle het eenvoudig gevloei.

Sedertdien is my prosesse nie altyd haakplekvry nie. Veral omdat Die derde spoel ’n perioderoman is, het dit baie navorsing geverg, en was die skryf daarvan nogal moeisaam. Dit was soos om met ’n yspik teen ’n gletser te kap, oor en oor, sonder ophou, en dan, ineens, wanneer ’n mens dit die minste verwag, deur te breek. Dan kom die swymeling, die pen wat self oor die papier beweeg.

Tans is my skryfwerk heel vryvloeiend, maar ek dink dis belangrik om die onsekerheid lewend te hou; dis noodsaaklik om die grond waarop ’n mens beweeg – soms katvoet, soms met roekelose drif en spoed – voortdurend te bevraagteken, te wantrou. Om ook die maniere waarop taal vir ons énigiets beteken, nooit as vanselfsprekend te aanvaar nie.

Hoe verander skryf (of die skryfdaad) jou as skrywer?

’n Afrikaanse skrywer het eenmaal gesê dat die self geleidelik aanwas soos ’n mens se oeuvre groei, dat ’n soort eksterne self as’t ware vorm aanneem. Vir my is dit die teenoorgestelde. Met elke nuwe werk is die voorvereiste die ópoffering van die gewaande self, van aannames oor die self, en by uitstek van enige selftevredenheid of ingenomenheid met vorige werk. Skryf behels ’n soort dissolusie, bykans ’n aflegging van persoonlikheid. ’n Mens begin elke keer van voor, sonder enige verwagtinge, in ’n toestand van ongerief en opwinding oor die onbekende. ’n Mens ledig jouself en wag vir die onverwagte. Dis soos om in die woestyn te wandel in die hoop dat ’n messias in die hittenewels sal verskyn.

Wie is jou “eerste leser” – en hoekom is hierdie persoon se terugvoering vir jou belangrik?

Tot dusver het ek gewoonlik my werk vir drie eerste lesers gewys: Marlene van Niekerk, Michiel Heyns en my man, Pierre Brugman. Pierre, ’n aktuaris, se veld is komplekse wiskunde en hy is nie noodwendig so geïnteresseerd in literêre fiksie nie, maar het onfeilbare emosionele intuïsie en fokus soos ’n laserstraal op enigiets in ’n teks wat vals voel – of wat goed werk.

Waaraan werk jy tans, of wat is jou volgende skryfprojek?

Ek is redelik ver gevorder met twee projekte – ’n korterige roman sowel as ’n bundel verhale – maar die geboorte van ons seun, Emile Brugman-Naudé, op 20 Augustus laat die fokus vir eers enigsins verdeeld . . .

Commendatio

 

Uit die commendatio: S.J. Naudé se Die derde spoel lyk aanvanklik of dit die bekende pad van ’n jongman se verset teen die Afrikanernasionalistiese patriargie gaan inslaan, maar kom dan met so ’n verrassende, energieke en gelade invulling van daardie gegewe vorendag dat dit die leser heeltemal oorrompel. 
Die hoofkarakter, Etienne Nieuwenhuys, verlaat Suid-Afrika in 1986 om te ontvlug van diensplig en maak homself op radikale wyse los van sy familie en van Suid-Afrika. Die roman se drie afdelings vertel hoedat hy vir hom ’n nuwe bestaan uitkerf in verskillende omgewings, telkens as lid van een van die marginale groepe of subkulture wat in opstand kom teen die heersende waardes van die tyd, veral dié van ’n oorwoekerende kapitalisme: Londen tydens die Thatcher-bewind, Berlyn onder die Sowjetregime met daarnaas Wes-Berlyn; en ook Suid-Afrika, Berlyn en Buenos Aires in 1990. Elkeen van hierdie omgewings word in boeiende detail geteken, met ’n fokus op die artistieke uitdrukkings van elke ruimte en ’n eie klankbaan wat verband hou met die feit dat Etienne ’n musikant is. Die spanningslyn in die roman en die samehang tussen die drie dele word bewerkstellig deur ’n speurtog na die verlore rolprent Berliner Chronik, gegrond op die werk van Walter Benjamin, wat in die vroeë 1930’s in Nazi-Duitsland gemaak is en nou verknoop is met die geskiedenis van Etienne se enigmatiese en ontwykende minnaar Axel.

Die uitsonderlike ryk tekstuur van die roman, die sorgvuldige aandag aan detail, die wye historiese greep, die goed deurdagte denkstruktuur wat dit onderlê en die presisie van die taalgebruik maak die lees van hierdie roman ’n uitdaging en ’n avontuur. Louise Viljoen

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.