Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Skryf ’n soort besetenheid’

Die Jan Rabie-Rapport-prys ter waarde van R125 000 vir die beste eerste of tweede Afrikaanse prosawerk is toegeken aan Charl-Pierre Naudé vir sy debuutroman, ‘Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey’.

Charl-Pierre Naudé

Hoe sien jy skrywerskap – die vakmanskap van skryf – en hoe en hoekom wou jy hierdie “talent” spesifiek in Afrikaans slyp?Skryf is ’n lewensroeping – die oproep tot skryf bepaal op belangrike wyses my handel en wandel. Die opofferings was en is bykans roekeloos van aard en beslis kompromisloos. Die Griekse “daemon”-gedagte – die aspek van besetenheid in die beste sin van die woord – is deel hiervan. Tog kan die skrywer se toespitsing nie enkelvoudig wees nie, dit moet juis nié wees nie, ten einde die wydheid van jou voedingsbronne vir inspirasie en van vorming oop te hou. Tussen toespitsing en openheid is ’n konflik geleë. Nêrens kry jy dié twee strydende kragte – selfgelding en selfnivellering – wat gelyktydig so op ’n spits gedryf word soos in die skrywerskap rondom fiksie nie.

Daar is vyf soekes wat my impuls onderlê: die soeke na die poëtiese, politieke en mitiese, en na die spannende storie en die juiste woord.

Die poëtiese soeke is ’n versugting om betekenisse te vind wat meer wesenlik en samevattend kan wees as gewone betekenisse.

Die politieke soeke behels die samekoms van die private en die sosiale, die strewe na die etiese. Laasgenoemde is ’n objektiewe strewe, wat nutteloos vir fiksie is totdat dit in spanning gebring word met die subjektiewe.

Die soeke na die mitiese is die belangrikste – dit behels die skep van vertroostende “formules”, iets wat gegewe werklikhede dus kan oorskry. Die mitiese soek ’n bloudruk vir oorlewing.

Die juiste woord is die gom van alles. Dit behels om uitdrukking te gee aan dít wat “ervaringsvibrasies” kan vasvat. Die skrywer moet onherhaalbaarheid in sy segging nastreef, want dit is die enigste ding wat laat reg geskied aan die eensaamheid en andersheid van elke mens se ervaring.

Oor die vyfde soeke, die spannende storie, hoef ek niks te sê nie. Dit is maar altyd net wat dit is.

Waarom ek in Afrikaans skryf, het iets te doen met die band van Afrikaans aan die vitale, die bodemvaste, in hierdie land. Dis ’n taal wat die land ook voorafgaan, in allerlei apokriewe en verguisde vorms. Die oorlewing van hierdie taal is so oud soos wat dit nuut is. En die taal is so bodemvas as wat dit ’n transitotaal is.

Wat was jou vroegste kreatiewe invloede en hoe manifesteer dit steeds in jou skryfwerk? Die charisma wat tydens my jeug die Afrikaanse letterkunde omgeef het, veral vanweë die nasleep van die Sestigers, was ’n invloed. Die sterkste vroeë invloede was Etienne Leroux en enkele vroeë werke van André P. Brink. Ek dink Leroux manifesteer steeds in my werk. Ek het as kind my ma probeer beïndruk met versies wat ek opgemaak en in stensilskrif op papier geskryf het, maar my pa was die leser. Daar het ’n soort invloed van hom op my uitgegaan. Es’kia Mphahlele en Somerset Maugham was van sy gunstelinge. Toe ek in st. 3 was, wou ek my eie biblioteek begin, letterlik, waarvan ek al die boeke self sou skryf. Dit was dalk die vroegste weergawe van ’n “onafhanklike biblioteek” in my denkwêreld.

Waaraan werk jy tans, of wat is jou volgende skryfprojek? Ek werk aan ’n doktorsgraad in die filosofie oor Hans Blumenberg se denke. Dis gans anders as fiksie.

Uit die commendatio

“As enigiemand sê hy of sy kan dink oor kwantumfisika sonder om duiselig te raak, wys dit jou hy of sy het nog geen snars daarvan begryp nie,” het die kwantumfisikus en Nobelpryswenner Niels Bohr gesê. Charl-Pierre Naudé se digterlike, akrobatiese eerstelingroman, Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey, slaan die leser eweneens dronk. Die implikasies van die teorie dat talle kwantumwerklikhede gelyktydig bestaan, word as ryk metafoor ontgin in ’n roman waarbinne parallelle verhaalmoontlikhede in sogenaamde “ewewêrelde” afspeel, maar soms met onthutsende gevolge oorvleuel en bots om karakters met verbysterende alternatiewe te konfronteer.

Naudé se speelse tragikomedie is egter benewens magies realistiese satire, kwasi-speurverhaal en vernuftige metafiksie ook ’n boek wat die leser gaandeweg oortuig dat die idee van een kenbare werklikheid verregaande is, veral in ’n land waar soveel mense as’t ware in parallelle werklikhede rakelings aan mekaar verbyleef. Dis ’n boek wat wys hoe die verbeelding toor met taal en taal met die verbeelde wêreld, waarin geskiedenis deur fiksie spoel soos die lewe deur drome en mense en andersom.

Die boek is ’n duiselingwekkende bevestiging van waartoe fiksie in staat is en ’n roman wat ’n saak uitmaak dat die wetenskap ’n geloofskwessie is en die werklikheid ’n klomp stories. – Danie Marais

Meer oor:  Charl-Pierre Naudé
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.