Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Skrywer besoek huis waar 'monster-pa' hom, ma wou doodmaak
Pieter Fourie (regs) het die eerste keer weer vir Bloemfontein besoek, waar sy pa hom as negejarige seuntjie en sy ma aangeval het. Sy boek, ''n Hart is so groot soos 'n vuis', is by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum- en Navorsingsentrum (Naln) bekend gestel. Foto: Charles Smith

Die skrywer Pieter Fourie het vir die eerste keer ná bykans 40 jaar die huis in Bloemfontein besoek waar hy en sy ma byna deur sy pa vermoor is.

Hy het Maandagaand verby die huis in Morganstraat, Dan Pienaar, gery waar die angswekkende aand afspeel wat hy in sy boek, ’n Hart is so groot soos ’n vuisbeskryf.

Die skrywer Pieter Fourie teken die skrywersmuur in Naln se kelder. Foto: Naln

“Ek was verskriklik ongelukkig in Bloemfontein,” het hy met die bespreking van sy boek by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum- en Navorsingsentrum (Naln) gesê.

Om oor die gruwels te skryf van sy pa, ’n skrywer wat aan Sukovs verbonde was en wat hy “ ’n monster” noem, was bevrydend.

Dié aand toe sy pa hom ure in die huis gejag het en amper sy ma se keel met ’n glasskerf afgesny het, het sy ouma net gesug en die telefoon neergesit toe hy haar gebel het.

“Die stilte is soos ’n kanker wat drup en drup. Dit is ’n ontsettende gewelddadige stilte,” het hy oor die geheim gesê wat hy in hom gedra het.

Die reaksie op die boek was oorweldigend.

Hy het ’n brief gekry van ’n vrou wat saam met hom in die klas in die Laerskool Willem Postma was wat dieselfde in haar huis beleef het.

Die stilte is soos ’n kanker wat drup en drup. Dit is ’n ontsettende gewelddadige stilte.

Fourie het gesê sy besoek aan die huis was baie vinnig.

“Ek het gevoel of ek weer die negejarige is wat vlug uit daardie huis, met die verskil dat ek goddank terug kon trek in myself.

“Ek kon onthou ek is 48 en nie nege jaar oud nie en hierdie keer kon ek die kind daar wegvat en daar wegbly. Maar dit was ’n powerful oomblik. Dit was vir my metafories ontsettend heavy gewees, want ek kon nie die huis sien nie. Daar is nou ’n muur om.”

Hy het as kind ’n “skat” in die tuin begrawe en sou dit graag wou gaan soek.

Dit sou goed wees om weer saam met sy ma die huis te kon besoek waar hulle van Julie 1979 tot Junie 1982 gewoon het.

Dit het sy lewe gered dat hy die huis beter as sy bedwelmde pa geken het.

Maar hy het ná al die jare niks vir sy pa te sê nie. Hy gee nie om of sy pa dit onthou of nie.

“Ek dink glad nie aan hom nie. Ek dink net aan hierdie kind. En dit is half vir my sad dat dit só is. Hy is die pa wat in my huis was, maar ons ken mekaar al 27 jaar glad nie.”

Ek kon onthou ek is 48 en nie nege jaar oud nie en hierdie keer kon ek die kind daar wegvat en daar wegbly.

“Ek moet hierdie kind weghou van daardie situasie,” sê hy en wys na die seun op die voorblad van die boek, wat hy is toe hulle in Clarens gewoon het. Sy pa het die foto geneem.

Hy is onderweg na Clarens, waar hy ook hul huis wil aandoen.

Hy wil eendag ook aftree in die dorp.

“Clarens is die tyd van onskuld. Hierdie kind is die regte Pieter. Die Pieter daarna is beïnvloed deur wat gebeur het. Om Freud te gebruik, ek kruip terug in die baarmoeder in. Ek voel heeltemal soos myself as ek in Clarens is.”

As hy vandag die regter en sy vrou kon ontmoet wat hul bure was in Morganstraat, sou hy vir hulle dit wou sê: “Skaam julle, f*k julle. Sy was die bewaarder van kinders, hy die prins van die gereg. Julle het dit gehoor. Nie net daardie aand nie, ons het 150 naweke in daardie huis gebly wat sulke goed elke naweek gebeur het. En julle het niks gedoen nie. Ek het oorleef ten spyte van julle.”

Johannes de Villiers (links) het met die skrywer Pieter Fourie gepraat. Foto: Charles Smith

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.