Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Skrywer Engemi Ferreira het met 'ironiese oog na lewe gekyk'

Die skrywer Engemi Ferreira (76), wat Donderdag dood is, het met ’n “ironiese oog na die lewe gekyk”.

So onthou dr. Liesbeth Botha, ’n familievriendin, haar.

“Ek dink uiteraard aan haar uitsonderlike talent as skrywer, maar ek onthou ook die aweregse humorsin en die gasvryheid wat heerlike kuiers opgelewer het. Ons het ’n paar keer by hulle gekuier toe hulle nog in die Laeveld gewoon het. Sy was ’n unieke mens met ’n kombinasie van verskillende eienskappe.”

Engemi Ferreira, wat Donderdag in die ouderdom van 76 jaar dood is.
‘Die jaar toe my ma begin sing het’, ’n novelle deur Engemi Ferreira is in 1988 uitgereik.

Ferreira en haar man, Johan Jordaan, het in Vermont in die Wes-Kaap gewoon. Sy het die naweek geval en haar sleutelbeen gebreek waarna sy nierversaking gekry het.

Sy is veral bekend om haar novelle Die jaar toe my ma begin sing het wat in 1988 uitgereik en as die naaswenner van die ATKV-prosaprys aangewys is.

Sy het later ’n kortverhaalbundel Brood vir die engele die lig laat sien.

Sy het verlede jaar haar MA-graad in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf.

Botha onthou hoe haar ma, wyle prof. Elize Botha, voormalige kanselier van die Universiteit Stellenbosch, Ferreira se novelle hoog aangeskryf het.

Johan van der Merwe van Theatrerocket was voornemens om ’n rolprent van die boek te maak. Ferreira het die regte oorgeteken, maar toe Van der Merwe, ’n jare lange vriend, Ferreira verlede maand gesien het, was dit nog in die beplanningsfase.

Die aktrise Elma Potgieter het in die 1990’s Ferreira se novelle tot die eenvroustuk Moervrug verwerk en daarin opgetree.

“Ek het die boek in 1996 gelees en vir Schalk (Jacobsz, haar man wat in 2016 dood is) gesê hy moet dit lees. Hy het weer as argitek gewerk en het min tyd gehad. Hy het gesê hy sal my verwerking lees. Engemi het telefonies aan my die regte gegee. David van der Merwe, destyds van die Stadsteater in eMalahleni (Witbank), het my gebel met die aanbod om dit daar op te voer. Ek het vir Schalk (hy was die regisseur) die teks gegee wat hy binne ’n uur gelees het. Hy het die dekor ontwerp en ek het in my sitkamer gerepeteer. Dit is ook onder meer tydens die eerste Aardklop-kunstefees in Potchefstroom in 1998 opgevoer.”

‘Moervrug’, ’n verhoogverwerking van die novelle ‘Die jaar toe my ma begin sing het’, is deur Elma Potgieter opgevoer.

Potgieter beskryf Ferreira se novelle as ’n “ongelooflike ontroerende storie”.

“Ek het groot waardering vir hierdie meesterstuk wat sy geskep het.”

Ferreira het vir Potgieter en Jacobsz genooi om by hulle te kom kuier. Ferreira en haar man, ’n boomboer, het in daardie stadium op ’n plaas in die Laeveld gewoon.

“Sy het vir my gesê sy sal eintlik bly wees as iemand in hul gastehuis op Lydenburg slaap, ons kan elke aand in ’n ander kamer slaap, wat ons natuurlik nie gedoen het nie, maar dit was snaaks hoe sy dit gestel het. Ons het een Sondagmiddag heerlik by hulle op die plaas gebraai en gekuier. Ons was later ook by haar dogter Maia se troue.”

Die sangeres Amanda Strydom het haar lank geken, hoewel hulle mekaar lanklaas gesien het.

“Die laaste keer was in Wellington by die huldiging van Hennie Aucamp ná sy afsterwe (hy is in 2014 dood). Ons het deur die jare kontak behou. Sy was ’n unieke en lojale vriendin. Ons het altyd saam by die Nasionale Kunstefees in Makhanda (Grahamstad) gekuier en ek het (my eenvroustuk) State of the Heart vir hulle opgevoer toe hulle nog op die plaas gewoon het. Ek is mal oor haar boek Die jaar toe my ma begin sing het. Sy was altyd so liefdevol teenoor my.”

Engemi Ferreira

Prof. Joan Hambidge, digter en letterkundige wat die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad beklee, beskryf Ferreira se novelle as ’n “klein teks wat my altyd sal bybly”.

“Onpretensieus, sober, pynlik en uit die hart geskryf. Elize Botha het destyds hierdie klein juweel aangeprys juis om die poëtiese aard daarvan.”

Hambidge het haar kortverhaalbundel Brood vir die engele met sy verskyning beskryf as ’n “klein bundel met ’n lieflike omslag na Caravaggio, met sterk, filosofiese verhale wat die teenstrydighede van menswees ondersoek”.

Sy reken die letterkunde word ook in stand gehou deur boeke wat klein in omvang is, maar altyd onthou word.

Die jaar toe my ma begin sing het, het ’n soort What’s Eating Gilbert Grape in vertelvorm geword, daardie wonderbaarlike fliek met Johnny Depp en Leonardo DiCaprio.”

Ferreira word deur haar man, ses kinders en ses kleinkinders oorleef.

Johan Jordaan en sy vrou, die skrywer Engemi Ferreira, wat verlede jaar haar MA-graad in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf het.
Meer oor:  Engemi Ferreira  |  Laeveld  |  Vermont  |  Die Jaar Toe My Ma Begin Sing Het  |  Skrywers  |  Teater  |  Moervrug  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.