Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Skrywer Helene Olivier (83) dood
Die ontslape skrywer Helene Olivier (83) en haar kleindogter, Sancha Olivier. Foto: Verskaf

Die skrywer Helene Olivier is Sondag in Pretoria dood.

Olivier, wat op 29 Maart 84 sou word, was ’n veelsydige skrywer wie se laaste roman, Briewe uit Brielshoop, skaars twee jaar gelede in 2018 verskyn het. Dit handel oor ’n boervrou, wat alleen boer, en haar korrespondensie met ’n vriendin wat in die stad woon.

Dit het gunstige resensies ontvang. Hoewel dit gefiksionaliseer is, kom die raak beskrywings oor die boerdery ooreen met Olivier se lewe, wat op verskeie plekke in Suid-Afrika geboer het. Haar oorlede man, Pierre, was ’n regsgeleerde.

Olivier was ook ’n gereelde bydraer tot die tydskrifte Landbouweekblad, Sarie, Rooi Rose, Huisgenoot asook in bundels soos Reënboogmense en Spieëlbeelde, en het ook as ’n kinderboekskrywer naam gemaak, waaronder met Mev. Molle se hond. Sy het egter onder skuilname geskryf – prettige skuilname wat sy self uitgedink het.

In Briewe uit Brielshoop, wat onder haar eie naam verskyn het, ontmoet die leser vir Henna, ’n stadsvrou wat begin boer met vee op die familieplaas ná haar ma se dood. Uit haar briewe aan Ida, haar hartsvriendin, leer die leser haar ken as ’n bevryde en onkonvensionele vrou, wat weier om te leef volgens die samelewing se eng voorskrifte vir vroue. Sy het ’n raakvat-houding met die kalwers, droogte, allerhande veesiektes, ensovoorts, terwyl haar man in die stad gewerk het. Die boek belig ook die rasseverhoudinge op die platteland van die tyd.

Olivier het vermoedelik aan komplikasies met haar asemhaling beswyk.

Olivier het destyds in ’n onderhoud met Theunis Engelbrecht vir Netwerk24 gesê dat sy net 25% longfunksie het, en dat ’n longkwaal in die 1990’s by haar gediagnoseer is. Daarvoor moes sy ’n suurstofmasjien gebruik.

Sy het in die onderhoud ook gesê sy het boeke so nodig soos daaglikse brood. “Vir my is boeke en musiek my lewensbloed en kuns my asem. Ek moet die goed om my gewaar.”

Vir my is boeke en musiek my lewensbloed en kuns my asem. Ek moet die goed om my gewaar.
Helene Olivier

Louis Esterhuizen, redakteur van Briewe uit Brielshoop, wat by Protea Boekhuis verskyn het, beskryf die boek as ’n vernuwing in Afrikaanse letterkunde.

“Dit is ’n sterk feministiese roman wat ’n treffende en geloofwaardige korrektief op die chauvinistiese, rasoorheersde samelewing van die laat 1970’s tot 1994 bied.”

Daarby verruim dit die tradisie van die plaasroman in Afrikaans, aldus Esterhuizen.

“Hier is nie ’n sage of uitgebreide familie as gegewe nie, maar ’n enkeling en ’n vrou wat uitreik na geselskap. Daarby is dit ook as briefroman uniek in die direktheid en eerlikheid en word die geselstrant treffend behou. Daar is nie ’n sentrale verhaallyn nie. Dit is bloot briewe wat ’n getuigskrif is vir ’n besondere mens.”

Esterhuizen het Olivier aangemoedig om dit nie onder ’n skuilnaam te skryf soos sy aanvanklik beplan het nie, aangesien “die gegewe genoeg gefiksionaliseer is”. Hy onthou Olivier as “ ’n wyd belese vrou, intellektueel met ’n reuse-liefde vir poësie”.

Twee vorige boeke oor Brielshoop het verskyn, waarvan Donker sjokolade die laaste in die reeks was.

Hy het haar ook as groot leser geken. As bestuurder van die Protea Boekhuis op Stellenbosch het hy elke week ’n nuusbrief met die jongste boeke uitgestuur.

“Sodra daardie brief uit is, het haar bestelling uit Pretoria gekom. Sy het wyd gelees.”

Sy word oorleef deur vier seuns en kleinkinders.

Meer oor:  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.