Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Skrywer laat taal dans in dié boek

Rudie van Rensburg se ‘Hans gee Herklaas horings’ is ‘bejaarde-’ of ‘ontsnappingsliteratuur’ wat eenvoudig ’n lekker storie wil wees. Alles – die lees én waarskynlik die skryf daarvan – is suiwer plesier vir oud én jonk, meen Annelise Erasmus.

Rudie van Rensburg Foto: Conrad Bornman

Hans gee Herklaas horings deur Rudie van Rensburg. Uitgewer: Queillerie. Prys: R230.

Franz Kafka het dekades lank lekkerlees vir my bederf. “I think we ought to read only the kind of books that wound or stab us. If the book we’rereading doesn’t wake us up with a blow to the head, what are we reading for? A book must be the axe for the frozen sea within us. That is my belief.”

Kafka se mening het in so ’n mate tot my gespreek dat ek dit sedertdien as maatstaf gebruik vir amper alle boeke wat ek lees. Só het ek my rug gekeer op haas alle leesstof wat ek nie diepsinnig kan ontleed of bespreek nie.

Dis nou totdat Rudie van Rensburg en Hans van Kraaienburg, die hoofkarakter in Hans steek die Rubicon oor (2017) en die nuwe opvolgboek, Hans gee Herklaas horings, my herinner het aan ’n soort lekker wat my lankal ontgaan het: die lekker van “ligsinnige” leesstof (en ek gebruik dié woord in die positiefste sin moontlik). ’n Storie wat net ’n storie is, met alles – die lees én waarskynlik die skryf daarvan – wat duidelik net op plesier gemik is.

Letterlik alles in Hans gee Herklaas horings is pret, ook die name en beskrywings van die karakters.

In die nuwe boek gaan kuier Hans saam met sy vriend Vasie by Vasie se neef Herklaas op Hermanus. Ongelukkig vir Hans, maar gelukkig vir Herklaas, val die kuiertjie saam met ’n groot probleem wat Herklaas nie self kan oplos nie: Grond Graaffwater, die rykste man in die Overstrand, wil Herklaas se eiendom koop en hy aanvaar nooit nee vir ’n antwoord nie. Dit neem Hans nie lank om op sy eiesoortige manier in te gryp om die probleem op te los nie. (Dit help so ’n bietjie as jy die eerste boek gelees of na Tobie Cronjé se voorlesing op RSG geluister het om sommer dadelik te verstaan hoe Hans se kop werk.)

Ek weet ’n mens kry iets soos kinder- en jeugliteratuur, maar bestaan daar iets soos “bejaardeliteratuur”? Ek wil aanvoer die twee Hans-boeke val in hierdie genre omdat die hele leefwêreld, ingesteldheid en taalgebruik van die hoofkarakters knus binne die daaglikse ervarings en eiesoortige kwessies van bejaarde lesers val. Ek maak egter die stelling met ’n belangrike voorbehoud: Net soos jeugliteratuur met oorgawe deur lesers van alle ouderdomme gelees word, net so is hierdie boek beslis een wat in die smaak van alle ouderdomme sal val. Sommige lesers sal met die karakters identifiseer en ander sal na hul oupa verlang.

Dit voel asof Van Rensburg se hele roman met idiome geskryf is. Net soos amper al die jonger karakters in die boek ken soveel Afrikaanssprekendes vandag nie meer die ou gesegdes en vergelykings wat die taal so lekker laat dans nie. As hierdie twee boeke enigiets gewigtigs moet beteken, is dit dat daardie uitdrukkings en manier van praat hier in oorvloed gebruik word en op dié manier behoue bly, maar tog op ’n manier wat ook nuut en toeganklik en prettig is. Hier is twee voorbeelde: “Terug in die voorkamer merk hy dat Herklaas weer die ene senuwee-orrel is. Hy loop bemierd heen en weer” of “Herklaas gaan moet leer om sy eie boontjies uit te dop”. Die skrywer veroorsaak dat ek beter Afrikaans wil praat – ek wil soos sy karakters praat. Dis ’n verlore kuns. Die maaifoedie in die verhaal se taal is weer deurspek met Engelse woorde wat hom nóg meer onaangenaam laat voorkom bloot omdat dit in sulke sterk kontras staan met die helde se taalgebruik.

Letterlik alles in Hans gee Herklaas horings is pret, ook die name en beskrywings van die karakters. Ons ontmoet byvoorbeeld vir Vaaltuin Marais en Sakkie Schietekat. Grond Graaffwater se vrou, Bernadette Smoelstra-Graaffwater, se moesie lyk weer soos ’n tor en sorg vir een van die snaaksste tonele in die boek. In ’n stadium word sy soos volg beskryf: “Haar pap mond is die ene boerboel. Selfs die vrugtetor lyk verlep.” Herklaas se vrou, Wilhelmina, sing-sing haar lysies deur die verhaal al is haar “klawers vals”. Hans is sy planmakende self soos Vasie vertel: “Sê ek vir myselwers, neef, lanklaas is iemand so met die skerpte van die swaard geslaan as Graaffwater. Aan die begin was hy ene poubors, maar met die verloop van die onderhandelinge het dit algaande afgeblaas. Hans het hom binne minute mak gemaak nadat hy geringe tekens van styfhoofdigheid getoon het.”

Tog wou Kafka my maar net nie los nie. Ek wil lae afskil, maar natuurlik is alles nie uie nie. Sommige boeke is gesonde, soet, sappige lemoene wat goed is vir almal. Wanneer ’n toneel skielik in klugtigheid ontaard, dink ek vir ’n oomblik daar is ’n diepte wat gedelf kan word indien ek die voorwaardes van slapstick sou naslaan.

In nog ’n poging om literêr te klink, lees ek na oor absurdisme en oorweeg dit in ’n diep oomblik om “bejaardeliteratuur” eerder met “ontsnappingsliteratuur” te vervang. Maar helaas, toe maak Spelonk, Beenmeel en Boel hul verskyning in die verhaal en uiteindelik verstaan ek dat daar niks is om te verstaan nie.

Ek moenie kiep-kiep roep nie. Hans gee Herklaas horings is presies wat dit wil wees: ’n lekkerleesstorie sonder enige fieterjasies, maar boordens toe vol kaskenades wat oud en jonk sal laat giggel en ontspan.

Daarvoor kan ons gerus maar vir Rudie van Rensburg heuning om die mond smeer.

* Annelise Erasmus is ’n skrywer en stigter van die Afrikaanse erotiese webwerf Kombiekiehier.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.