Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Skrywer-mesgooier pak gewigtige temas

Sirkus

Irma Venter

HUMAN & ROUSSEAU, R240

Irma Venter spesialiseer in voortdurend uitdagende, eenwoordtitel-misdaadfiksie.

Skoenlapper (2012) en Skrapnel (2013) het lesers aan die buitestanders Alex en Ranna bekend gestel, elk met hul eie spesiale vaardighede. Met Sonde-bok (2014) en veral Skarlaken (2015) het Venter haar dinamiese resep vervolmaak: Afwisseling tussen vertellers (in Sondebok sommer vier!); uitmuntende gebruik van kontrasterende ruimtes (elke provinsie in Suid-Afrika is ontgin as landskap in Skarlaken); uitstaande intrige en raaiselwaarde; deernisvolle karakterisering van mens-mense in ekstreme situasies; en die onlosmaaklike houvas van die verlede op die hede. Venter se antihelde – en heldinne – is almal skimme. Hul verlede bly spook. And the present remains tense.

Met haar vyfde, ongetwyfeld beste krimi het Venter, soos Karin Brynard met Tuisland en Naomi Meyer met Web, die plaaslike genre-standaard gelig. “[N]iemand is ooit heeltemal onskuldig nie” word die dawerende leitmotief.

Sirkus zoem in op die troebel verlede van Adriana van der Hoon (tans onder die van De Klerk) wat in Sondebok so aandag getrek het. Hoewel Adriana die suksesvolle restaurant Crow’s Feet bestuur saam met haar vennoot Zenani, ’n soort familie het in Alex, Ranna en haar kuberkraker-niggie Sarah, en as algeheel suksesvol beskou kan word, het sy ’n besonder traumatiese verlede: haar Hollandse pa het in die treurmare van die 1980’s die Education Trust bestuur, pro-ANC, wat deur buitelandse belanghebbendes gebruik was om politieke ommekeer in Suid-Afrika te bewerkstellig.

Hierdie betrokkenheid kos uiteindelik die Van der Hoon-patriarg sy lewe, en die (figuurlike) skietgoed is die motoriese moment wat Adriana se soeke na geregtigheid aktiveer. So moet die jong Adriana van skoolleerling en kelnerin transformeer in ’n vrou sterk genoeg om haar pa se moord te wreek.

Sirkus as geheel is bemoeid met die fisieke en geestesreis van Adriana: soos sy groei, pyn en lyding ervaar, en liggaamlik en psigies verhard; en ’n reeks fassinerende verkleurmannetjies moet uitoorlê om haar toekoms te verseker. Venter se vertelling, wat wissel tussen die jonger en ouer Adriana, en Ranna in die hede, is geslyp, trefseker. Veral opvallend is hoe Venter gender stereotipes ondermyn.

Adriana raak in ’n noir-agtige liefdesdriehoek deurmekaar met die genadelose misdadiger, ­Yasen Todorov, en sy teenpool, die sagter, medemenslike Boris, sonder toeval ’n bokser met ’n yslike linkerhaakhou. Hoewel fassinerende manlike karakters soos Jakkals Schutte en Tiny van der Westhuizen indruk maak, is dit die onverskrokke, beginselvaste vroue wat Adriana leer wat dit beteken om vrou te wees. Hier staan die kam­pioen-mes­gooier Daisy, Adriana se tjello-afrigter, Claudia, en Petra Kotze, haar etiket-afrigter, uit.

Venter skep as woordkunstenaar ’n chiaroscuro, ’n filmiese spel met lig en donker. Skarlaken het Venter as kunssinnige, kreatiewe skrywer onderstreep, en Sirkus onderstreep hoe Venter ook ekonomies met haar woorde omgaan, veral in beskrywings van stede soos Sofia in Bulgarye en Wes-Duitsland tot Johannesburg, Pretoria en Hillbrow, tot mans en vroue gedryf deur armoede en isolasie.

Irma VenterFoto: RUDI DE BEER

Lesers se harte sal gedurig in hul keel wees wanneer Venter stuk-stuk ontbloot hoe Adriana die hoof-trekpleister van Kabarett, ’n “soort sirkusklub, burlesk” in Wes-Duitsland, word. Hier leer Adriana hoe om verskillende maskers op te sit, om ’n gehoor te betower met haar liggaamsbewegings, om die stryd tussen jagter en prooi te beheer: “Hierdie is ’n sirkus en ek is in beheer. Ek is die meesteres wat die sweep klap, die vrou wat jou aandag weglok van alles om jou. Wat jou asem en jou dagdrome steel. En jou geld, as jy weer en weer wil kom kyk.”

Die sirkusmotief word deurgaans ook metafisies, en buite die sirkusarena ontgin: Ons almal, eintlik, is voortdurend op soek na ’n tuiste en ’n ruimte waar ons gesien en gehoor word soos sirkus-kunstenaars; die (onder)wêrelde van die politiek, finansies en georganiseerde misdaad, asook die slaapkamer, betrek in wese ’n transaksionele vorm van bestaan, elke aksie beoordeel op grond van simboliese of ekonomiese kapitaal. Die sirkus is dan ook ’n ruimte van georganiseerde chaos, die gehoor toeskouers wat vernuf en vermaaklikheidswaarde moet beoordeel. Gepaste metafoor vir die leesproses, nie waar nie?

Sirkus-lesers is voortdurend bewus van die vernuftige Venter as skrywer-mesgooier – sy pak gewigtige temas soos ouer-kind-verhoudings en verlies, ontheemding, die donker kant van kapitalisme, korrupsie, die natuur versus omgewingsdebat, die koste van nasionale en individuele bevryding en die Nietzscheaanse will to power met insig en ewewigtigheid.

Met verraad om elke hoek en draai is die spanning menigmaal op ’n mespunt. Sal die goeie bo die bose triomfeer? Bestaan gelukkige eindes vir uitgeworpenes soos Adriana en Boris? Ek durf beslis nie enige spoilers oor ander, onverwagse karakters hier verklap nie.

Venter se navorsing en wêreldskepping is weer eens uitmuntend. Alhoewel haar klem op en liefde vir haar karakters sentraal staan, is daar ook genoeg vir die aksievrate.

Sirkus het soos veral Venter se debuut, Skoenlapper, ’n betowerende internasionale geur. Soos Mike Nicol speel hierdie gatskop-skrywer met genre-konvensies, en bevraagteken sy die moontlikhede van afskortings, mure, grense en ook die kosmopolitaanse, in die post-waarheid, wêrelddorp-samelewing, waar privaatheid ’n mite is, en (inter)nasionale affiliasies onder die loep kom. As Deon Meyer en Nicol wêreldwyd gelees en geniet kan word, hoekom nie Venter nie?

Jonathan Amid is ’n vryskutresensent en doktorale student aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Sirkus  |  Boeke  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.