Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Skrywer van omstrede boek oor Tsafendas wen Britse prys

Harris Dousemetzis, skrywer van die omstrede boek The Man Who Killed Apartheid: The Life of Dimitri Tsafendas, het onlangs die Fage & Oliver-letterkundeprys gewen.

Dié prys word deur die Vereniging vir Afrikastudies in die Verenigde Koninkryk toegeken aan ’n werk wat met Afrika verband hou en wat in die vorige twee jaar verskyn het.

‘The Man Who Killed Apartheid: The Life of Dimitri Tsafendas’ deur Harris Dousemetzis.

Dousemetzis wou met die boek leuens in die kiem smoor oor dié eertydse parlementêre bode wat dr. H.F. Verwoerd, destydse eerste minister van Suid-Afrika, in 1966 vermoor het.

Die boek is verlede jaar deur Jacana uitgereik.

Volgens Dousemetzis, wat in Griekeland gebore is en daar grootgeword het, het Tsafendas aan geen geestestoestand gely nie.

Die moord op Verwoerd was om ideologiese redes. “Hy is verkeerd uitgebeeld deur die apartheidsregime,” sê Dousemetzis.

“Sy lewe is van hom weggeneem. Jy kan jou nie voorstel hoeveel werk en geld in hierdie projek ingegaan het nie. Ek is nie spyt daaroor nie. Dit is my passie. Ek sal dit weer doen.”

Harris Dousemetzis

Daarom is hy so dankbaar oor dié prys.

“Ek het eintlik van my benoeming vergeet, maar ek was aangenaam verras toe ek die nuus gekry het. Dit is ’n groot eer en voorreg. Ek is verheug.”

Dousemetzis sê mense sal nie met die inhoud van die boek kan stry nie, want die bevindings oor Tsafendas se geestesgesondheid is klinkklaar.

Hy het met sy navorsing aan sielkundiges, psigiaters en akademici se deur geklop.

Almal het saamgestem die bewyse wat die polisie in 1966 ingesamel het, dui daarop dat hy by sy positiewe was.

“Die polisie het destyds onderhoude met meer as 100 mense gevoer. Meer as 20 van hulle moes hul indrukke oor hom deel en het gesê hy was spraaksaam, vriendelik en ’n sosiale persoon. Dit is die teenoorgestelde van wat deur die owerhede geskets is.”

Tsafendas, wat in Maputo (destyds Lourenço Marques) in Mosambiek gebore is, is in 1999 dood.

Dousemetzis, wat deesdae in New Castle in Engeland woon, het van kleins af van apartheid geweet.

“Ek het baie oor apartheid gelees toe ek grootgeword het. Maar ek het eers van Tsafendas te hore gekom toe ek ’n grafskrif van hom gelees het. Ek was so verbaas dat ek nie voorheen geweet het van hierdie man wat die eerste minister vermoor het nie. Ek het voorheen ander boeke oor apartheid en Long Walk to Freedom (oudpres. Nelson Mandela se outobiografie) gelees, maar nooit sy naam teëgekom nie. Ek wou graag meer oor hom uitvind en met mense praat wat hom geken het.”

Dousemetzis werk tans aan ’n boek oor Jimmy Carter, voormalige Amerikaanse president.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.