Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Skrywer Wille Martin sterf
Wille Martin Foto: Carla van der Spuy

Wille Martin, wat onthou sal word as een van die skrywers wat Afrikaanse lesers in stories laat bly glo het, is Saterdag oorlede. Sy was 81 jaar oud.

In 1958, toe die Afrikaanse letterkunde se fokus verskuif het na die eksperimente van die Sestigers, het Martin begin klubboeke skryf.

Oor die volgende 50 jaar het meer as 200 werke uit haar pen verskyn.

Vandag is lekkerleesskrywers openbare figure. Mediaverklarings verskyn oor hul sukses en uitgewershuise bou webwerwe en blogs waarop professionele foto’s verskyn.

Dit was anders in Martin se dae. Haar boeke is ingestuur, verwerk en het daarna verskyn. Niemand het onderhoude gedoen of verklarings uitgereik nie.

Tog is sy nie onbekend nie. Toe die nuus van haar dood Saterdag net voor 06:00 op Lekkerleesboekrak bekend gemaak is, het die huldeblyke ingestroom.

Binne ure het meer as 30 boodskappe verskyn van mense wat vandat hulle kinders was haar boeke verslind het.

Sophia Kapp, een van die nuwe generasie lekkerleesskrywers by Lapa Uitgewers, se onmiddellike reaksie was: “Jô, ek dink ek het ál 200 gelees!”

Martin is in Bethulie gebore. Sy is die dogter van die bekende skrywer Minnie Postma.

Sy het ’n BA-graad aan die Universiteit van die Vrystaat behaal en het gaan skoolhou, waarna sy later as joernalis by Volksblad en toe Die Vaderland gewerk het.

Teen 1983 was haar sukses van so ’n aard dat sy voltyds kon begin skryf.

Martin het oor genres heen geskryf. Haar Kaapse romanses was die voorlopers van ’n genre waarin daar vandag nog suksesvol geskryf word deur mense soos Dina Botha, maar sy het ook speurverhale, historiese romans, wetenskapfiksie en kinderboeke geskryf.

Ondanks haar sukses het Martin nederig gebly en Carla van der Spuy, ’n oudkollega, sê Martin het elke jaar haar verjaardag onthou en haar gebel.

Die ATKV dink met dank aan Wille Martin wat soveel vir die Afrikaanse storie gedoen het en betuig simpatie aan haar kinders met die verlies van hul ma.

*Izak de Vries is ’n lid van die ATKV.

Meer oor:  Oorlede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.