Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Skrywers kan in Gerwelhuis kom woorde skep
Prof. Jakes Gerwel

Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans stuur vanjaar ’n skrywersresidensie in Somerset-Oos in die Oos-Kaap van stapel.

Dié residensie in die Gerwelhuis bied aan ’n skrywer die geleentheid om vir ’n maand gratis hier te woon en te skryf.

Skrywers kan tot 12 April aansoek doen om hierdie verblyf wat van 8 Julie tot 5 Augustus duur.

“Die voorkeur gaan aan skrywers wat min of meer aan die begin van hul loopbaan is, maar ook nie heeltemal ’n debuutskrywer nie,” sê Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel-stigting.

“Die doel is om die skrywer die kans te gee om van sy of haar gewone roetine weg te breek. ’n Manuskrip sal hopelik daar ontstaan of die skrywer sal ’n manuskrip waaraan hy of sy lankal werk dalk hier kan voltooi.”

Die geldelike bystand wat die residensie bied, sluit in die vlugkoste na die lughawe in Port Elizabeth, sowel as die vervoerkoste na Somerset-Oos.

Internetkoste, drie maaltye per dag en skoonmaakdienste word ook voorsien.

Prof. Jakes Gerwel, voormalige rektor van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) en voorsitter van die Suidoosterfees, wat in 2012 dood is, is in Somerset-Oos gebore en hy het later hierdie huis gekoop waarin die skrywers sal tuisgaan.

Dit is onlangs gerestoureer.

“Dit is egter nie net beperk tot Afrikaanse skryfwerk nie en dit is oop vir enige genre,” sê Kemp.

“Ook vir byvoorbeeld joernaliste wat dalk ’n niefiksieboek skryf. Die stigting is gemoeid met die bevordering van skrywers oor die algemeen.”

Indien skrywers wil aansoek doen, moet hulle lede van PEN Afrikaans wees. Indien hulle nie reeds is nie, kan hulle ook aansluit.

Belangstellendes moet ’n brief skryf en motiveer waarom hulle kwalifiseer om in die Gerwel-huis te woon. Dit moet vergesel word deur ’n opsomming van die skrywer se loopbaan as skrywer. Gepubliseerde skrywers moet ’n lys van publikasies insluit. Ongepubliseerde skrywers moet bestaande werk (30 bladsye prosa of tien bladsye poësie) by die aansoek insluit.

Die aansoeker moet ook ’n uiteensetting aanbied van die projek waaraan sy of hy sal werk tydens die verblyf.

Stuur ’n e-pos aan Kemp by theo@jgf.co.za teen 12 April met bogenoemde dokumente.

Meer oor:  Boeke  |  Skrywers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.