Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Skrywers van jeugverhale bekroon

Die skrywers Derick van der Walt en Annerle Barnard is Donderdag as die Afrikaanse wenners van Sanlam en Tafelberg se Sanlampryse vir jeuglektuur aangewys.

Derick van der WaltFoto: Lisa Skinner

Die pryse is ingestel is om oorspronklike en kreatiewe skryfwerk vir tienerlesers en jong volwassenes (12 tot 18 jaar oud) aan te moedig. Die pryse word tweejaarliks vir nuwe manuskripte toegeken.

Twee wenners (goud en silwer) word in elk van drie kategorieë – Afrikaans, Engels en Afrikatale (Nguni- en Sotho-tale, Tshivenda en Xitsonga) – aangewys.

Die totale prysgeld beloop R90 000.

Vanjaar se wentitels weerspieël die diepte in Suid-Afrikaanse jeugliteratuur, met genres wat wissel van realistiese fiksie en fantasie (wetenskapfiksie en gruwel) tot fabels.

Annerle Barnard

Die wenners is:

Afrikaans

* Derick van der Walt wen sy tweede Sanlam-goud met Toring van Jasmyn, ’n spanningsverhaal wat in die kleurryke, onstuimige strate van Istanbul afspeel. Volgens die keurders is dit ’n storie wat jong lesers se verwysingsraamwerk sal verbreed en aksie en avontuur kombineer met geloofwaardige karakters by wie hulle aanklank sal vind.

Dit vertel die verhaal van Markus wat Turkye saam met sy familie besoek en bomaanvalle en ’n ontvoering beleef. Van der Walt het in 2007 vir die eerste keer Sanlam-goud gewen met sy nou klassieke Afrikaanse jeugroman Lien se lankstaanskoene.

* Annerle Barnard in met die silwerprys bekroon vir Sindikaat, nog ’n aksiebelaaide reisverhaal en ’n “weldeurdagte, realistiese storie wat die leser tot op die laaste bladsy boei”.

Die 16-jarige Paul word die teiken van die Chinese Mafia wanneer hy ’n sindikaat ontdek wat bedreigde seeperdjies na die Ooste smokkel. Vir sy veiligheid stuur sy pa hom en twee vriende op vakansie na Zambië en Zimbabwe – maar die bende is agter hulle aan.

Engels

* Nerine Dorman wen goud vir Sing Down the Stars, wat deur die keurders beskryf is as “ ’n briljant geskrewe distopiese verhaal”.

“Die manier waarop die skrywer ’n vreemde wêreld verbeel en steeds karakters skep met konflik waarmee ons kan identifiseer, is uitsonderlik.”

Die protagonis, die 12-jarige Nuri, oorleef in die troostelose, gevaarlike agterstrate van ’n stad in die verre toekoms deur met ’n bende te assosieer. Nuri, half mens, half buiteaardse wese, moet kritieke besluite neem om aan die lewe te bly.

* Toby Bennett wen silwer vir The Music Box, volgens die keurders ’n meesterlike fantasieverhaal wat worstel met die stryd tussen goed en kwaad. Die hoofkarakter, John, kan enigiets regmaak, behalwe sy wispelturige ma. Toe sy weer teenoor hom uitvaar, gaan kruip hy saam met sy nuwe sigeunervriend weg in ’n geheime grot. Die aankoms van ’n vreemdeling lei hulle na ’n magiese dimensie en die begin van ’n reis waarop John sy familie se diepste geheime ontdek.

Afrikatale

* Goud is toegeken aan die debuutskrywer Thembisile Kundlwana vir Tata sikuxolele (“Pappa, ons vergewe jou”), ’n isiXhosa-verhaal “oor ’n stille pandemie in Afrika – die mishandeling van weeskinders deur familie”. Die tweelingmeisies Silinda en Sinekusasa trek by hul oom in ná die dood van hul ma. Hulle word soos slawe behandel en gaan soek na hul pa, wat hulle wegwys. Harde werk en deursettingsvermoë help hulle om ’n sukses van hul lewe te maak.

* Nog ’n debuutskrywer, Mbedzi Nyelisani, wat net 24 jaar oud is, wen silwer met U kondelela (“Geduld”), ’n Tshivenda-fabel met “ ’n boeiende boodskap” oor leierskap, magshonger, demokrasie, ware vriendskap en geduld. Wanneer koning Leeu sterf, is sy opvolger nie ’n nasaat nie maar ’n dier sonder koninklike bloed. Deur diere te gebruik om menslike koninklikes uit te beeld, toon die skrywer ook sy begrip van menslike gedrag, sê die keurders.

Die wenmanuskripte is deur Tafelberg ontwikkel en uitgegee, in sowel gedrukte as e-boekformaat. Manuskripte is anoniem gekeur sodat debuutskrywers op gelyke voet met gevestigde skrywers kon meeding.

Die pryse is Donderdag by Exclusive Books, Hyde Park Corner in Johannesburg, oorhandig deur Sydney Mbhele, uitvoerende hoof: handelsmerk by Sanlam, en Michelle Cooper, hoof van die kinder-en-jeugafdeling by NB-Uitgewers.

* Inskrywings word nou ingewag vir die 2021-Sanlampryse vir jeuglektuur. Inskrywingsvorms is beskikbaar by www.nb.co.za en die sluitingsdatum is 1 Junie 2020.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.