Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Skrywers vra in video moenie e-boeke onwettig versprei nie

Verskeie skrywers doen ’n beroep op die publiek om die onwettige verspreiding van e-boeke te staak in ’n video wat die skrywersorganisasie PEN Afrikaans Donderdag op Wêreldboeke- en kopieregdag uitgereik het.

Deon Meyer

Skrywers soos Deon Meyer, Bibi Slippers, Fanie Viljoen en Erns Grundling vra dat lesers hul boeke sowel as hul kopiereg respekteer.

Dit volg op die onwettige verspreiding van e-boeke op WhatsApp en ander platforms sedert die staat van inperking.

E-boeke kan maklik en in groot hoeveelhede versprei word.

Meyer sê in die video elke keer wat jy ’n e-boek op WhatsApp of op enige ander platform aanstuur, “doen jy die hele boekbedryf so ’n bietjie skade aan”.

Slippers, wie se debuutdigbundel, Fotostaatmasjien, in 2016 verskyn het, reken die onwettige verspreiding is soos om gesteelde kos te eet.

“As jy weet waar dit vandaan kom, sal jy dit nie in jou mond sit nie.”

Bibi Slippers

Susan Coetzer sê dis lekker om ’n nuwe boek te lees, maar elke keer wat ’n boek onwettig versprei word, maak jy die skrywer, uitgewers en handelaars seer.

Grundling se boeke Sushi en Shosholoza en Elders het elkeen minstens 400 uur se skryftyd geneem.

Fanie Viljoen

Elsabé Brits, skrywer en spesialisverslaggewer, benadruk die navorsing vir ’n boek neem soms jare en verskeie rolspelers is betrokke in die proses om ’n boek uiteindelik uit te gee.

Viljoen sê skrywers het dieselfde basiese uitgawes as lesers, soos om kos te koop, petrol in hul voertuie te gooi en om voorsiening vir medies en pensioen te maak.

Die verkope van e-boeke het sedert die inperking toegeneem.

Izak de Vries, ’n bestuurslid van PEN Afrikaans en ’n uitgewer by Lapa, sê Lapa toon ’n groei in e-verkope.

“Ons is egter bewus van ons boekhandelaars wat swaarkry.

Lapa vra dus dat mense hul boekhandelaars ondersteun deur nou reeds boeke te koop wat later afgelewer sal word, asook om geskenkbewyse by boekwinkels te koop.”

Marga Stoffer, voorsitter van PEN Afrikaans en uitgewer by NB-Uitgewers, sê die verkoop van e-boeke het sedert die inperking “stewig” toegeneem.

“Ons kry einde Mei die syfers van April. Vandag se Bookseller dui aan die verkope het in Brittanje met 25% toegeneem.”

Spanningsverhale is baie gewild, sê Stoffer.

Die topverkopers is Prooi deur Deon Meyer, Sewe-en-veertig deur Irma Venter en Medusa deur Rudie van Rensburg. Alexander Strachan se Recce-boeke (1 Recce: Die nag behoort aan ons/1 Recce: The Night Belongs to Us en 1 Recce: Agter vyandelike linies/1 Recce: Behind Enemy Lines) verkoop ook goed, sowel as sakeboeke soos Steinheist deur Rob Rose en Betting on a Darkie deur Mteto Nyati.

“Voorgeskrewe skoolboeke verkoop ook goed in e-formaat,” sê Stoffer.

“Ons is besig om boeke vir die skolemark wat nie voorheen as e-boeke beskikbaar was nie, in e-formaat om te skakel – byvoorbeeld Best Books se Eksamenhulp-reeks, en die eerste titels is reeds beskikbaar gemaak.”

E-boeke is egter ’n klein deel van die algehele boekverkope.

“Dit is rofweg tussen vyf en agt present. Dit maak dus nie naastenby op vir die gebrek aan verkope deur winkels nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.