Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Slagoffers kry 'n stem

Conny Braam se historiese ‘feiteroman’ oor die gruwels van die Namibiese volksmoord behoort deur álle Europeërs én alle inwoners van en besoekers aan Suidelike Afrika gelees te word, skryf Annemarié van Niekerk.

Ek is Hendrik Witbooi deur Conny Braam, vertaal deur Zandra Bezuidenhout. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R295.

Op 15 November 1884 heers daar groot opgewondenheid by Wilhelmstrasse 77 in Berlyn. Die ministers van buitelandse sake van 13 Europese state is na die villa van rykskanselier Otto von Bismarck genooi waar ’n koek gesny en onder die gaste verdeel gaan word: Afrika.

In die voorafgaande 20 jaar het Europa dié vasteland met arendsoë dopgehou, met gretige voete binnegeval en deur middel van militêre ekspedisies wild en wakker gebiede begin inpalm. Omdat die rykskanselier gevrees het dit kan tot vyandigheid tussen die Europese state lei, roep hy ’n vergadering byeen waartydens die verdeling op ’n “beskaafde manier” sou geskied – en natuurlik wou Duitsland ook sy eie invloed op die grondstofryke vasteland uitbrei.

Die ministers het opgewonde om die kaart vergader en met die verdeling begin. Bismarck, hoogs in sy noppies, kry Suidwes-Afrika as protektoraat met die Atlantiese Oseaan as wesgrens, die Oranjerivier as suidgrens en Angola as noordgrens. Toe die oosgrens lei tot ’n twis, word die probleem opgelos deur eenvoudig met ’n liniaal ’n reguit lyn op die kaart te trek, dwarsdeur die Kalahari, waar die stamme gewoond was daaraan om ongehinderd agter hul vee aan te trek op soek na weiding en vars water. Dit sal die oosgrens wees, “die eeue oue woongebied van ’n aantal Afrika-volke wat, nes oral op die vasteland, nog nie ingelig is oor die besluite wat geneem is nie”. (bl. 18)

Witbooi was ’n besonder intelligente, welsprekende en taalgevoelige man.

Conny Braam se roman Ek is Hendrik Witbooi, pragtig vertaal uit Nederlands deur Zandra Bezuidenhout, gaan oor die geskiedenis van een van hierdie stamme, die Nama-volk, wat vervolgens deur die Duitsers ingeperk, onderdruk en uiteindelik uitgewis sou word tydens ’n grootskaalse volksmoord wat vir lank ontken of geringgeskat is in die annale van die geskiedenis.

In 1884 begin Hendrik Witbooi (1830-1905) die leiding neem in die trek van die Nama-volk vanuit die droogtegeteisterde Kalahariwoestyn na die vrugbare noorde. Anders as wat Witbooi en sy mense vermoed, sou dit nie net ’n stryd teen die droogte word nie, maar ook ’n hardnekkige stryd teen die Duitsers wat pas aangeland het in hul nuwe kolonie en niks sou ontsien om die inheemse mense te onderwerp nie.

Die stryd sou jare lank duur en barbaars en genadeloos wees. Só het ’n groep van 250 Duitse soldate byvoorbeeld vroeg een oggend in April 1893 die niksvermoedende Witboois by Hoornkrans aangeval, 78 vroue en kinders en agt bejaardes wreed vermoor, meer as honderd mense gewond, en 80 vroue ontvoer. Vir Witbooi en sy mense, vir wie dit ’n ongeskrewe reël was om nié vroue, kinders en bejaardes aan te val nie, was hierdie dag ’n bevestiging van die etiek – of eerder: die afwesigheid daarvan – van hulle Europese vyand.

Om hul “beskawingsoffensief” te rasionaliseer het die Duitsers Witbooi as ’n wrede en primitiewe man probeer uitbeeld. Die waarheid was dat Witbooi, behalwe vir sy krygsvernuf en vaardighede as strateeg, ’n besonder intelligente, welsprekende en taalgevoelige man was met ’n uitsonderlike skryftalent. Dagboeke, geskrifte en honderde briewe van hom aan Duitse goewerneurs, Engelse magistrate en Afrika-leiers het behoue gebly – vir Conny Braam ’n belangrike bron van dokumentasie en inspirasie waaruit sy vrygewig aanhaal en die leser ’n eerstehandse waarheidsgetroue beeld gee van Witbooi as mens, leier, krygsheld en skrywer.

Uit sy geskrifte spreek ’n warm liefde vir sy stamgenote, groot waardering vir die lesse van die sendeling Olpp, ongerustheid oor die Westerse kredietstelsel wat van ’n vryheidliewende nomadiese volk slawe maak, en ’n intense verdriet as dit tot hom deurdring dat keiser Wilhelm II die algehele vernietiging van die inheemse bevolking eis.

Witbooi skryf aan die Duitse kommandant Von Leutwein (bl. 107-108): “Ek verstaan dit nie. Waarom hou u aan om my aan te val? Ek het nooit die Duitse keiser met woord of daad beledig nie. God het aan elk van ons ’n eie land gegee. As ek Duitsland sou binneval, sou die keiser tog ook sy volk verdedig en vir sy onafhanklikheid veg? Waarom begryp hy dan nie dat ek vir die vryheid van my land en my volk moet stry nie? Daarom versoek ek u nogmaals: Aanvaar die vrede wat ek u aanbied en laat ons verder met rus. Met groete. Ek is hoofkaptein Hendrik Witbooi.”

Witbooi ontvang die volgende hardvogtige antwoord (bl. 108): “Sy Majesteit het vir my opdrag gegee om, as jy jou nie onderwerp nie, ’n oorlog teen jou te voer wat tot jou totale ondergang lei.” Generaal Von Trotha laat ook die Herero’s weet (bl. 150): “Binne die Duitse grense sal elke Herero van nou af, met of sonder geweer, met of sonder vee, doodgeskiet word. Ek aanvaar nie meer vroue en kinders nie. Ek sal hulle terugdryf en anders ook laat doodskiet. Dit is my woorde aan die Herero’s.”

Ná ’n jare lange stryd en steeds nuwe versterkings vanuit Duitsland kry die magtige Duitse ryk dit reg om 80% van die Herero-volk uit te wis, die Namas byna totaal uit te wis en die oorlewendes op 9 September 1906 na ’n uitwissingskamp op Shark Island te deporteer. Die enkeles wat hierdie kamp oorleef, word sewe maande later na ’n nuwe kamp buite Lüderitzbaai gebring wat die Duitsers benut as bron vir hul lewendige handel in inboorlingskedels.

Intussen ontvang ’n tevrede keiser Wilhelm komplimente uit alle windstreke. Die Amerikaanse president Theodore Roosevelt, wat kort tevore met die 1906-Nobelprys vir vrede vereer is, laat weet hy neem met bewondering kennis van die veldtog in Afrika (bl. 190): “Hoe swaar moes dit nie vir u troepe gewees het om te ervaar hoeveel meedoënloosheid dit gekos het om beskawing tot in die verste buiteposte van daardie donker vasteland te bring nie.”

Een van die motto’s van hierdie roman is die Afrika-gesegde “Totdat die leeus hul eie geskiedkundiges het, sal jagverhale altyd die jagter ophemel . . .”. Conny Braam tree in Ek is Hendrik Witbooi op as die geskiedskrywer van die “gejagte” in plaas van die “jagter” deur ’n afskuwelike stuk geskiedenis oor die jag van mense in sy volle werklikheid tot ons te laat deurdring.

Braam kies die genre van die roman in plaas van ’n suiwer geskiedenisboek waarskynlik sodat haar vertelling toegankliker is en groter impak het. Só het sy groter vryheid om historiese feite aan te vul en kan sy alle verhalende tegnieke op die narratief toepas waardeur die historiese figure, die destydse politieke tydsgees en die skoonheid van die Namibiese landskap sprankelend en meesleurend tot lewe kom.

Om die swaarmoedigheid te temper gebruik Braam soms ook ’n humoristiese toon sonder om ooit die erns van haar inhoud te onteer. As sy skryf oor die Europeërs se pogings om die Herero’s te kersten, noem sy byvoorbeeld dat hulle tog meer van hulle “ou geloof” gehou het, al was dit maar omdat die Christelike god uit ’n baie reënagtige land kom en daarom min begryp van die droogte waarmee hulle te kampe gehad het.

Behalwe dat alle Europeërs en inwoners van Suider-Afrika deeglik moet kennis neem van hierdie stuk geskiedenis, behoort elke besoeker aan Namibië hierdie boek te lees om die dikwels verborge verhaal agter hierdie woestynland en sy mense te hoor.

As ek enige inspraak gehad het betreffende toegang tot Namibië, sou ek bewys van ’n paspoort of visum vervang het met ’n bewys dat die voornemende besoeker hierdie boek gelees het.

  • Annemarié van Niekerk, ’n letterkundige en boekresensent vir die Nederlandse koerant Trouw, woon in Den Haag. Haar en Pieta van Beek se oorsigwerk My Mother’s Mother’s Mother: South African Women’s Writing from 17th Century Dutch to Contemporary Afrikaans het pas in Nederland verskyn en is plaaslik by Protea-boekwinkels te koop.
’n Verskoning van Duitsland?

Tydens die 100-jarige herdenking van die Herero-opstand teen die Duitse besetting in Augustus 2004 het minister Heidemarie Wieczorek-Zeul vir die eerste keer vanuit Duitse geledere in die openbaar erken Duitsland is histories en moreel verantwoordelik vir die uitwissing van die inheemse bevolking van Namibië tussen 1904 en 1907, maar dat daar in plaas van die betaling van vergoeding ontwikkelingshulp verleen sal word. Haar uitspraak is egter nie amptelik deur die Duitse regering bevestig nie.

Op 6 Julie 2015 het ’n Namibiese afvaardiging na Berlyn gereis in die hoop om aan die Duitse president Joachim Gauck ’n petisie, “Genocide is genocide”, te oorhandig waarin ’n beroep op die Duitse regering gedoen word om historiese verantwoordelikheid vir die volksmoord op die Herero- en Nama-volk te aanvaar.

Gauck was nie bereid om hulle te woord te staan nie en het die afvaardiging na ’n laer amptenaar verwys – ’n stap wat met groot teleurstelling en kritiek begroet is. ’n Jaar later, op 13 Julie 2016, het die Duitse ministerie van buitelandse sake aangekondig daar sal samesprekings tussen die Duitse en Namibiese regerings gevoer word met die doel dat Duitsland amptelik verskoning vra. Ook hierdie samesprekings het nog nie die gewenste gevolge gehad nie.

Intussen het Duitsland van die geroofde skedels teruggegee en in Maart vanjaar het ’n eerste halfamptelike apologie vanuit Duitse rigting gekom toe Theresia Bauer, minister van wetenskap, navorsing en kuns, persoonlike besittings van Hendrik Witbooi, wat sedert 1902 in die Linden-museum in Duitsland gehou is, teruggegee het aan die Nama-mense tydens ’n seremonie in Gibeon: “We are deeply sorry for the injustices of the past and the long delay in the return of the Bible and whip of Hendrik Witbooi. However, we can not undo the past. Therefore, today should not be the end, but the beginning of a better and united future.”

Wie is Conny Braam?

Die joernalis, skrywer en anti-apartheidsaktivis Conny Braam (1948) het ’n lang geskiedenis van betrokkenheid by Suider-Afrika en die stryd teen ongeregtigheid. In 1971 was sy een van die stigters van die Anti-Apartheidsbeweging Nederland (AABN). In haar eerste publikasie, Operatie Vula: Nederlanders in het ondergrondse verzet tegen apartheid (1992), skryf sy oor haar betrokkenheid by Operasie Vula, ’n ondergrondse veldtog (1986-1991) om vryheidsvegters na Suid-Afrika in te smokkel en ’n kommunikasienetwerk vir ANC-leiers in ballingskap te skep. Sedertdien het nog 13 boeke uit haar pen verskyn, talle met ’n Suid-Afrikaanse aanknopingspunt.

Meer oor:  Kolonialisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.