Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Sleigh wen W.A. Hofmeyr-prys
Die wenner van die W.A. Hofmeyr-prys vir Afrikaanse fiksie is Dan Sleigh met sy roman 1795.

Dan Sleigh se roman 1795, wenner van die Groot Afrikaanse Romanwedstryd, het gisteraand ook die W.A. Hofmeyr-prys vir Afrikaanse fiksie verower.

John Miles se roman Op ’n dag, ’n hond en Ryk Hattingh se Huilboek moes terugstaan vir die gesogte prys vir die jongste roman van Sleigh, bekend om onder meer die veelbekroonde Eilande.

Die jaarlikse Media24 Boeke Literêre Pryse is gisteraand in Kaapstad oorhandig.

1795 belig die vroeë Kaapse geskiedenis en speel af toe die Kaap onder Nederlandse bewind was en die Britte voor anker in Simonstad was.

Die beoordelaars Ena Jansen, Danie Marais en Francois Smith beskryf 1795 as “ ’n ambisieuse museale roman” waarin Sleigh se uitsonderlike kennis van die VOC-geskiedenis indringend verhaal word.

“Sleigh laat oortuigend sien dat gebeure uit 1795 relevant en aktueel is, veral wanneer dit gaan om verset teen verraad en korrupsie en om opstand teen die verlies van kultuur en taal.”

Hulle loof Sleigh se kragtige, evokatiewe prosa en skryf “vanaf bl. 1 stap jy met hom [Wil­liam van Reede van Oudtshoorn] Strandstraat op na die klipkuil en sien die Kaap deur sy oë; nooit meer kan jy Kaapstad nié as palimpses ervaar nie.”

Bibi Slippers is met die Elisabeth Eybers-prys vir poësie beloon vir haar debuutbundel, Fotostaat­-masjien.

Die digteres Bibi Slippers ontvang die Elisabeth Eybers-prys vir poësie vir haar bundel Fotostaatmasjien – in dieselfde week waarin sy die Eugène Marais-prys daarvoor gaan afhaal het.

Die beoordelaars Henning Pieterse, Louise Viljoen en Marius Swart het die omvang, verskeidenheid van die materiaal en die samehang van Slippers se debuut geloof asook dat sy innovering met gehalte gelewer het.

’n Verdere bydrae van die bundel is die “skeppende manier waarop die klatering van die internet, die sosiale media en populêre kultuur gepaar word met die medium van poësie wat as gevolg van sy beperkte impak en negeerbare finan­siële waarde as die teendeel daarvan gesien kan word”.

Sean Christie het die Recht Malan-prys vir niefiksie verower met Under Nelson Mandela Boulevard: Life Among the Stowaways.

Die Recht Malan-prys vir niefiksie is oorhandig aan die ondersoekende joernalis en etnograaf Sean Christie vir sy boek Under Nelson Mandela Boulevard: Life Among the ­Stowaways.

Dit handel oor jong Tanzaniese skeepsverstekelinge wat onder ’n oorwegbrug op die Kaapstadse strandgebied woon.

Die beoordelaars het dit geloof as ’n buitengewone prestasie en ’n verruimende leeservaring. “Met groot en uitdagende kwashale gee Sean Christie ’n verrassend vars en uitdagende blik op ’n stad wat iedereen gedink het hulle ken.”

Jean Meiring, Elsa van Huyssteen en Max du Preez was die beoordelaars.

Die M.E.R.-prys vir jeugromans is toegeken aan Edyth Bulbring vir Snitch.

Die M.E.R.-prys vir jeug­romans is toegeken aan Edyth Bulbring vir Snitch. Die roman handel oor die jonge Ben wat besef dat jy jou eie mens moet wees en jou eie stem moet hê – en volgens jou eie oortuigings die lewe moet aanpak. Boonop dat lojaliteit ’n deug is.

Die beoordelaars was Louise Steyn, Verushka Louw en Wendy Maartens.

Die ma-en-dogter-span Ingrid Mennen en Irene Berg het die tweede keer die M.E.R.-prys vir geïllustreerde kinder­boeke gewen – hierdie keer vir Ink, waarin Tinka die wonder en avontuur van lees ontdek. Dié boek, met sy eietydse illustrasies, breek ’n innoverende lansie vir die behoud van die gedrukte boek. Berg se illustrasies word as sielvol en kinderlik beskryf. Die beoordelaars was Lona Gericke, Paddy Bouma en Magdel

Ingrid Mennen en Irene Berg se Ink is met die M.E.R.-prys vir geïllustreerde kinderboeke vereer.

Vorster.

Nagenoeg 80 boeke wat in 2016 by uitgewerye in die Media24-stal verskyn het, is ingeskryf in vyf kategorieë met ’n gesamentlike prysgeld van meer as R175 000.

Die oorhandiging van die pryse het saamgeval met ’n groot mylpaal – die viering van 100 jaar van boekuitgewery in die Naspers-stal.

Die Herman Charles Bosman-prys is nie vanjaar toegeken nie.

Meer oor:  Bibi Slippers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.