Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Sleurlees tot einde wat alles ‘vergeef’

‘Skadukant’ is huishoudelike noir, maar die hoofkarakter en ontknoping het Annelise Erasmus gefrustreerd laat voel.

Skadukant deur Rika Cloete. Uitgewer: Kwela. Prys: R290.

Rika Cloete se Skadukant het mý skadukant amper skreeuend straataf laat hardloop, want die ontknoping van dié sielkundige riller maak dit bykans onmoontlik om kritiek te lewer op enigiets wat voor dié punt plaasgevind het sonder om die storie weg te gee. My leesaantekeninge is dus amper nutteloos, want die één ding wat misdaadfiksielesers meer haat as ’n swak boek, is iemand wat die einde verklap.

Skadukant is huishoudelike noir, wat gewoonlik draai om verhoudings, binne die gesin afspeel en vanuit ’n vroulike perspektief vertel word. Dit begin gruwelik genoeg met die beskrywing van die verminkte lyk van ’n swanger vrou wat op die strand ontdek word. Kort daarna word Deirdre O’Brien, die hoofkarakter, ook deur die moordenaar ontvoer. Wat hierop volg, is ’n uitmergelende en uitgerekte beskrywing van hoofsaaklik Deirdre se gedagtes, emosies en optredes.

My aantekeninge oor die eerste driekwart van die boek het grootliks daaroor gehandel dat ek nie van die hoofkarakter hou nie. Ek het geen empatie met haar nie, hoofsaaklik omdat ek dink sy is gemeen en egosentries. Haar reaksies op alles is oordramaties en maak dikwels nie sin nie.

Meer as een keer in die roman “bedoel sy nie om so wreed te wees nie” (of kortaf), maar dan gaan sy tog voort en is presiés wat sy nié bedoel het nie. Redelik vinnig het ek dieselfde oor haar man gedink – hy het boonop ’n groot skoot kinderagtigheid by. Haar vriendin en dié se man is ongelukkig nie veel beter nie. Dit is die enigste karakters wat die leser ’n bietjie meer as veldiepte leer ken.

In hierdie impotente staat het weer ander vrae ontstaan: Wanneer regverdig ’n einde alles wat vooraf plaasgevind het?

Die speurder en ander polisiebeamptes (wat nie groot rolle het nie) is die goedgemanierde, normale karakters, maar hulle hoor aanhoudend van almal hoe sleg hulle hul werk doen – die tipiese refrein van “Mens kan ook niks anders verwag in hierdie land nie. Dis ’n uiters belangrike moordsaak en hulle sloer!”

In hierdie stadium het ek met almal om my wat wou luister filosofiese debatte gevoer oor die verhouding tussen die leser en die skrywer en hoe belangrik dit is dat die twee se lewensuitkyk moet ooreenstem om ’n goeie leeservaring te verseker. Moet die leser se beginsels of aanslag met dié van die hoofkarakter ooreenstem om ten minste met haar te kan simpatiseer? Gestel die skrywer het nie bedoel dat die hoofkarakter onaangenaam oorkom nie? Is die karakters dalk net vir mý onaangenaam omdat ek hulle vanuit my perspektief so ervaar?

Teen die middel van die roman het ek met die skrywer begin onderhandel. Sê nou net hierdie onsinnige gedrag en onrealistiese gebeure het nie ’n doel nie? Dis hier waar ek die ontknoping begin vermoed – of daarvoor gehoop – het.

Ek het in dié stadium ook neergeskryf die skrywer maak dalk aspris hierdie “foute”, maar omdat my frustrasievlakke hoër as my spanningsvlakke was, was ek nie seker oor haar plan nie.

Teen die ontknoping was dit duidelik die skrywer het ten minste haar kant van die ooreenkoms nagekom. Daar is inderdaad redes vir baie dinge, maar sy het ’n “Get out of jail free”-kaart gebruik. Binne een toneel is byna al my kritiek nie soseer ongedaan gemaak nie, maar eerder stilgemaak, want ek kan of wil niks weggee nie.

In hierdie impotente staat het weer ander vrae ontstaan: Wanneer regverdig ’n einde alles wat vooraf plaasgevind het? As die leser tot by die ontknoping nie dink ’n boek is goed nie, word dit dan terugwysend goed wanneer alles wel duidelik is? Ek weet nie wat die antwoorde is nie.

Hoe lank kan ’n verhaal om en om in onverstaanbare en frustrerende sirkels draai voordat dit nie meer deur ’n verklaring gered kan word nie? Die ding is: ’n Mens moet steeds daardeur léés. Om by die einde wat alles “vergewe” uit te kom, moet jy vasbyt met die ongeduldige, hardvogtige, onverstaanbare hoofkarakter en haar amper ewe siellose vriendin.

Natuurlik is die subjektiewe raamwerk van die resensent net so sentraal en onoorkombaar as dié van ander lesers en die skrywer. Daarom sal ander lesers Skadukant moontlik heeltemal anders ervaar. Die hoofkarakter se pyn en probleme sal by baie vroue resoneer en empatie wek bloot uit die aard van die ervarings wat dit veroorsaak het. As sielkundige rillers jou kos is, sal hierdie een jou steeds kan versadig.

  • Annelise Erasmus is ’n skrywer en stigter van die Afrikaanse erotiese webwerf Kombiekiehier.
Meer oor:  Rika Cloete  |  Resensie  |  Skadukant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.