Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Slim, onvoorspelbare roman

‘Merk’, die jongste aflewering in Rudie van Rensburg se Kassie Kasselman-krimireeks, is ’n boeiende riller met ’n opmerklike subteks: geweld teenoor vroue en hoe vroue in misdaadfiksie die middelpunt van gruwelike geweld en foltering vorm, skryf Jonathan Amid.

Merk deur Rudie van Rensburg. Uitgewer: Queillerie. Prys: R285.

In Merk, sy negende spanningsverhaal met oorgenoeg dwaalspore om jou kop behoorlik te laat draai, ondersoek Rudie van Rensburg die oorsaak en gevolg van ekstreme en subtieler vorms van geweld teenoor vroue. Is ons bereid om na ons eie opvattings en vooroordele te kyk wat so geredelik – en in leesbare, verteerbare vorm – deur dié misdaadroman belig word?

Om ’n sterk, intellektuele onderbou vir dié ontstemmende, grimmige stuk fiksie te vestig, het Van Rensburg oudergewoonte deeglik navorsing gedoen oor menslike gedrag en gedragsafwykings. In ’n samelewing waar die vroulike liggaam die spilpunt van ’n nieamptelike burgeroorlog vorm en die afwesigheid van vaders hoogty vier, kyk Merk na wyses waarop oortreders die liggaam en menswaardigheid van die vrou merk: die letsels, sigbaar en onsigbaar, wat elke vrou saam met haar dra.

Al sou Merk as ’n boeiende riller met sterk elemente van polisieprosedure kon deurgaan, loop daar tog onder die oppervlak ’n opmerklike subteks: die groter gesprek oor geweld teenoor vroue en hoe vroue in soveel plaaslike en internasionale misdaadfiksie die middelpunt van gruwelike geweld en foltering vorm.

Hierdie keer word vroue in die noordelike voorstede van Kaapstad deur ’n reeksverkragter geterroriseer. Ná elke verkragting word die slagoffer soos ’n dier met ’n brandyster gemerk – hoe en wanneer hulle gekies word, is ’n belangrike deel van die legkaart. Wat verklap hierdie bisarre ritueel oor die slagoffers en die oortreder? Die brandmerk van diere én mense vorm deur die eeue deel van die rituele in verskeie samelewings. Word die slagoffers uitgesonder om as sondebokke te dien, of is hulle letterlike slagoffers vir ’n god sonder naam?

Ná ’n hele reeks Kassie Kasselman-romans (die vorige aflewering, Medusa, het verlede jaar verskyn) en misdaadfiksie wat in die algemeen ál donkerder en broeiender raak, is die druk veel groter op dié veteraanskrywer om subtiele klemverskuiwings in die weefsel van sy romans in te bou. Raaiselwaarde en intrige word selde afgeskeep, maar wat veral genot verskaf, is die klem, enduit, op die karakters en hul onthoubare, vlymskerp karakterisering. Die balans in hierdie reeks is gewoonlik ten gunste van die booswigte. Die goeie ouens is lekker mense, en ons hou van hulle, maar die driedimensionele misdadigers – beweegredes, motivering, denkpatrone deeglik begrond en kleurvol uiteengesit en sonder oordeel – laat die leser behoorlik lewe in die afgrond tussen empatie en afgryse.

Geweld word tasbaar, sigbaar, ontstellend dog nie sensasioneel nie, beliggaam. Van Rensburg weet alte goed hoe ononderhandelbaar dit is om in die krimi ’n soort ewewig te handhaaf tussen ekstremiteite: Jy vervreem die leser as jy die gruwels te gruwelik maak, te vinnig laat opstapel en die leser van die kans ontneem om asem te skep. Die teenoorgestelde is ook waar: As die nuwe boek in die reeks eers begin afsteek by die voriges omdat die gegewens nie impakvol genoeg gedramatiseer word nie, voel die leser gekul.

Van Rensburg sal die gruwelikste dade en antagoniste vir sy lesers oopskryf, maar broodnodige balans aan die teks verleen deur genoegsame komiese verligting en ligter oomblikke van kameraderie tussen hoof- en newekarakters te skets. Soos die skuldiges hul merk maak op die liggame van slagoffers en hul sielkundig treiter, so maak karakters ook hul merk op die lewens van ander en word daar stuk vir stuk uitgebeeld hoe karakters ly, groei en misluk as gevolg van hul keuses.

Die Kassie Kasselman-reeks is deurspek met moorde, maar in talle titels val die kollig nie spesifiek op die moordenaar nie, maar eerder op die motiewe. Dink maar aan Slagyster (2013) waar wapensmokkelaars se gehuurde helpers moorde pleeg om hul doeleindes te bevorder, Judaskus (2015) waar dieselfde gebeur en in ’n mate ook in Ys (2018) buiten die newekarakter wat harte uitslag vir sy eie doeleindes. In Kopskoot (2014) was daar ’n wraakmoordenaar wat as reeksmoordenaar aangesien is, en in Kamikaze (2017) en Vloek (2019) was die klem meer op huurmoordenaars wat moorde namens ander mense met motiewe pleeg.

Die enigste moordenaar wat duidelik seksuele motiewe gehad het, was Festus in Medusa (2019) wat kinders ontvoer en die ma’s dan verkrag en vermoor. Die hele tema in Medusa was seksueel gedrewe; daarom kom die toelig van die psige van die verkragter in Merk nie as ’n verrassing nie en dui dit eerder op kontinuïteit in die reeks.

As oudkoerantman lewer Van Rensburg heerlike kritiek op die media en ook galgehumor in die vorm van die poniekoerant, Die Stem, en die olierige vent Snuif Hamersma. Soos altyd is die vlak van binnepret hoog – kyk maar net na die beterweterige forensiese profielsamesteller Lulu Wiersinga wat vir talle komiese oomblikke sorg. Dié selferkende taalpedant en haar verskriklike parfuum wat die weersin in Rooi en Kassie laat ontwaak, is ’n goeie, ligte teenvoeter vir die intensiteit van die verkragterpersona, wat nie om dowe neute op bl. 123 deur die skrywer met Robert Louis Stevenson se Strange Case of Dr Jekyll and Mr Hyde verbind word nie.

Wat veral in Merk uitstaan, is die skets van die “empatiese” dog berekende en slu verkragter met die syfer 399 wat ’n kernbelangrike raaisel aktiveer, en die verhaallyn van ’n moontlike misdadiger – verterend obsessief en onseker oor homself – wat anonieme briefies in posbusse gooi. Hierdie verhaallyne is onvoorspelbaar en slim uitgewerk.

Tog is daar ondanks al die gruweldade minder van ’n “maagdraai-gevoel” as in Medusa, juis omdat die skrywer dié keer nie die identiteit van die misdadiger(s) bekend maak tot feitlik heel aan die einde nie. En watter siel wat tot onlangs onder die verbod op tabakhandel moes deurloop, sal nie empatie hê met ou Kassie nie, wat so naarstigtelik na sy Lucky Strikes verlang ná ses maande op siekteverlof en nou weer terug op sy pos is by die Spookeenheid?

Merk maak korte mette van enige insinking en is nét die regte doepa teen die laaste ysige stuiptrekkings van die winter.

* Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Stellenbosch.

Lesers wat gaande was oor Rudie van Rensburg se topverkoper- komiese roman Hans steek die Rubicon oor (2017), sal jubel oor die verskyning van Hans gee Herklaas horings, wat eerskomende Vrydag landwyd te koop sal wees.

Hans van Kraaienburg, die verlosser van Huis Madeliefie se inwoners, mik op dié tweede avontuur Hermanus toe nadat sy vriend Vasie hom vir ’n blaaskans nooi as huisgaste van Vasie se neef Herklaas.

Maar daar ontdek hulle Herklaas se huis staan net mooi op die plek wat die Overstrand se rykste skobbejak, Grond Graaffwater, in gedagte gehad het vir sy enorme nuwe hotel – maar Herklaas wil nie´ verkoop nie. Wanneer Grond en sy misdadige handlangers hardhandig raak, tree Hans tot die stryd toe.

Hou die boekeblad dop vir ’n resensie.


Meer oor:  Rudie Van Rensburg  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.