Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Slippers en Miles wen UJ-pryse
Bibi SlippersFoto: Adam Heyns

Die digter Bibi Slippers se debuutbundel Fotostaatmasjien is stadig maar seker besig om al wat ’n prys is op te raap.

Nuus dat haar debuut met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Eugène Marais-prys bekroon is, het nog nie eens behoorlik gaan lê nie en nou word sy met die Universiteit van Johannesburg se gesogte debuutprys bekroon.

Slippers en die deurwinterde skrywer John Miles is vanjaar se twee groot wenners van die UJ-pryse. Miles ontvang die UJ-prys vir die beste kreatiewe teks in Afrikaans vir sy besonderse roman, Op ’n dag, ’n hond.

Slippers, wat besig is met ’n sosialemedia-detoks en dus glad nie van die toekenning van die UJ-prys bewus was nie, sê ’n vriendin van haar ma het haar vanoggend laat weet.

“Dis so bef*k! Maar ek sê toe vir haar dis seker net ’n fout – ek is net benoem (op die kortlys) vir die prys.”

In sy resensie van Fotostaatmasjien in Desember het die digter Charl-Pierre Naudé geskryf:

“By die lees (van die bundel) kan jy jouself voortdurend liggies teen die voorkop klap, soos in ‘bliksem, wie sou raai?’, gevolg deur nog ’n klap agter die kop, soos in ‘wat ’n beeld!’

“Dit sal genoeg wees. Want hierdie bundel maak ’n gawe aanslag op álle lewens. Die bundel maak ’n appèl op die breë lesersmark sowel as op die fynproewerleser.

“Intussen gaan ’n klomp mummies in die hall of fame regop sit.”

Die ander titels op die kortlys vir debute was Die skaalmodel deur Anneli Groenewald en Hy kom met die skoenlappers deur Valda Jansen.

John MilesFoto: Jaco Marais

Luidens ’n verklaring van die departement Afrikaans aan die UJ het een beoordelaar soos volg oor Miles se roman geskryf:

Op ’n dag, ’n hond bied ’n bra stoïsynse blik op die lewe, hoewel die toonaard nooit fatalisties óf pessimisties word nie.

“ ’n Gestroopte teks met ’n goeie filosofiese onderbou.”

Ander boeke op die kortlys vir die UJ-prys was Dorado deur Tom Dreyer, Huilboek deur Ryk Hattingh, Koors deur Deon Meyer, 1795 deur Dan Sleigh en Syferfontein deur Cas Wepener.

“Dit is interessant dat twee van die titels op die kortlys van skrywers is wat in die 1980’s by Taurus gepubliseer het: John Miles en Ryk Hattingh. Die vernuwende aanslag is by al die titels uitgewys,” lui die verklaring.

Die UJ-prys vir die beste kreatiewe teks in Afrikaans het prysgeld van R75 000 en die UJ-debuutprys vir die beste kreatiewe debuut in Afrikaans het prysgeld van R30 000.

Die keurpaneel is saamgestel uit Afrikaanse lesers betrokke by akademiese instellings en in die media.

Vir 2017 se UJ-pryse was die beoordelaars Frederick Botha (onafhanklik), dr. Bibi Burger (UP), dr. Karin Cattell (US), prof. Jac Conradie (UJ), prof. Marius Crous (NMU), dr. Karen de Wet (UJ), prof. Ronél Johl (UJ), Johan Myburg (onafhanklik) en prof. Marné Pienaar (UJ).

Die pryse word eersdaags by die Universiteit van Johannesburg oorhandig.

Meer oor:  Johannesburg  |  Bibi Slippers  |  John Miles
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.