Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Sluier oor dié verse nie gelig

Die konkrete poësie in Hennie Meyer se debuutbundel, ‘Winkel van wanklanke’, is bedoel om gelees én ‘bekyk’ te word, al het dit Marius Crous by tye soos die kaal keiser voor sy onsigbare ontwerpersklere laat voel.

Winkel van wanklanke deur Hennie Meyer. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R250.

In die biografiese nota agterin Hennie Meyer se eerste bundel, Winkel van wanklanke, word genoem dat hy hom die afgelope dekade gevestig het as skrywer van konkrete poësie.

Wat is konkrete poësie? Van der Elst skryf uitgebreid hieroor en verklaar die ruimtelike, akoestiese en visuele eienskappe van die taal is vooropgestel in hierdie soort verse. Belangrik is sy opmerking dat konkrete poësie bedoel is om gelees én “bekyk” te word. Hoe die woorde op die blad gerangskik word is ook kenmerkend van konkrete poësie. Anders as byvoorbeeld Jackson Pollock, wat volgens die digter in sy doek induik, buk hy as digter in sy boek in (bl. 28).

Al hierdie elemente word in Hennie Meyer se debuut aangetref: Daar is gedigte met agterstevoor letters, gedigte in braille, gedigte op sakdoeke en servette, ’n eenwoordgedig op ’n stukkie konsertina-agtige papier, gedigte wat geskryf en uitgevee is, gedigte op opgefrommelde papier, gevoude papier, gebrande papier en selfs gedigte op ’n skoen en ’n ballon.

Die gedig “Yves Klein” (bl. 85) bestaan gewoon nie.

Yves Klein was ’n Franse kunstenaar en is bekend om die meng van die blou kleur wat Internasionale Klein Blou genoem word. As ’n mens sy werk google verskyn heelwat van dié blou kunswerke en word sy liefde vir selfpromosie beklemtoon.

Bewustelik word ook gespot in die trant van Opperman se “kuns-mis” met gedeeltes uit bekende digters se verse wat op kombuispapier geskryf word. Breyten se maer man in sy groen trui word nou ’n vet man in ’n pienk onderbroek. Yolande wys eweneens haar tande. Saam met hierdie satiriese inslag is daar in van die verse dikwels ook ’n onnutsigheid.

Digters soos E.E. Cummings, Paul van Ostaijen en Ezra Pound word met konkrete poësie geassosieer en veral Van Ostaijen was sterk onder die invloed van Dada.

Rym (dikwels dwangrym) word oral in die bundel aangetref as deel van die spel met die oor: maan-waan-swaan; pool-dool; katryn-kwarantyn; droom-oom; papies-apies. Ook alliterasie word aangewend: hoekrige haikoe; kwart kwatryn; dertig digters; spioen van die spens. Of daar word met tongknopers gespeel of van binnerym gebruik gemaak ter wille van musikaliteit – vergelyk byvoorbeeld “Rondeel onderdeel” (bl. 59): “as ek tot sprokies of spokies behoort // kan jy oordelend / soos ’n onderlandendener // ronddele oor oorledene / se ronde dele en onderdele // op my grof graf grif”.

Digters soos E.E. Cummings, Paul van Ostaijen en Ezra Pound word met konkrete poësie geassosieer en veral Van Ostaijen was sterk onder die invloed van Dada.

Pound het op sy beurt weer Chinese epigrammatiese poësie nagedoen, terwyl Cummings se verwringing van woorde tot interessante bladspieël gelei het. In sy onderhoud met Alwyn Roux sonder Meyer vir Willem Boshoff met sy Kykafrikaans en Wopko Jensma as voorgangers uit. Meyer noem ook dat die Amerikaanse konkreetdigter D.A. Levy hom beïnvloed het.

Hier en daar is daar langer gedigte, byvoorbeeld “Die gedig” (bl. 17), wat soos volg begin: “die gedig het die lig gesien / en gevlug van posh Stellenbosch / geryloop met die hoop / dat ’n man met die van / Marais haar nie optel nie”. In die Addendum-gedeelte van die bundel word meer woorde en minder beelde aangetref, maar ek weet nie of die gedigte oral ewe oortuigend is nie.

Met die lees van Winkel van wanklanke voel ek amper soos die kaal keiser voor sy onsigbare ontwerpersklere – ek sien nie heeltemal wat daar te sien is nie. Ek gee toe die gedigte word nie as woordkunswerke per se aangebied nie en dat die grense en omvang van “ ’n bundel” ondermyn word. Die winkel-idee met sy uitstal van uiteenlopende dinge berei die leser heel moontlik hierop voor, en so ook die beskrywing van die gedigte as wanklanke, hoewel, soos die digter self in ’n onderhoud aangedui het, dit ironies gebruik word.

Ten slotte miskien hierdie “Verskoning” (bl. 77): “sal dit nie gedugte gedigte / met metafoor en tema // maar meer gedrogte gedogte // ek het nie woorde om te verklaar / hoe jammer ek is”.

  • Prof. Marius Crous doseer letterkunde aan die Nelson Mandela-Universiteit in Port Elizabeth.
Meer oor:  Poësie  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.