Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Snaakse, pynlike stories blaas jou kop oop

Wit issie ’n colour nie

Nathan Trantraal

Kwela Boeke, R220

Essays en Rubrieke

In Nathan Trantraal se jongste boek is van die beste stories wat in jare in Afrikaans geskryf is, maar dit móét jou ongemaklik laat voel, skryf Charles Smith.

Nathan Trantraal

“Wit issie ’n colour nie. Wit isse religion. Soes religions die wêreld oo wôd it vi jou gevoer, soese potjie Purity, wanne jy nog ’n kind is . . .”

Dié paragraaf in Nathan Tran-traal se boek waaruit die titel ontleen is, tref jou soos ’n hou teen die kop. Die hele hoofstuk met dieselfde titel is een wat ek dink alle witmense in dié Suiderland eenvoudig móét lees. Dan moet jy jou mond hou. En daaroor dink. Hard.

In ’n kwessie van duisend of so woorde ruk hy die gordyne af van wat baie wittes nog voor die idee van apartheid wil hang. Om nie na buite jou huis te kan kyk oor hoe die bruin en swart mense aan die ander kant van die dorp in die townships lewe nie. Goed, hy bring die prentjie van apartheid op soos hy dit in die 1980’s as kind moes beleef het.

Trantraal skryf net soos enige ander geloof, word dié van witheid van die ouers na die kinders oorgedra. En net soos ander gelowiges “byg witmense hulle knieë en ryk yt narie ou geloef wanne die wêreld daai byte te donke begin raak”.

Hier verwys hy na naakte rassisme en gebruike wat terugslaan as dinge nie meer goed gaan in die land nie, soos dit was onder oudpres. Nelson Mandela.

“Ek haat ie mense met blonde hare nie. Ek haat ie mense met ligte vel ie. Ek haat ie mense met blou oë en groen oë nie. Ek haat ie colours nie. Ek haat wit. Wit issie ’n colour nie, wit isse religion.”

Om Trantraal se boek, wat in Kaaps geskryf is, in Standaardafrikaans te resenseer terwyl jy erg bewus is van jou witheid en grootword met daai Purity onder apartheid, laat mens nogal ongemaklik voel. Trantraal self sal omgekrap wees hieroor, dink jy. Maar dit is juis die punt daarvan hoekom jy die boek lees. Dit móét jou ongemaklik laat voel.

Wit issie ’n colour nie is ’n versameling stories, herinneringe en kommentaar wat die skrywer uit sy lewe in die Kaapse Vlakte neerpen. “Aangedrade stories,” is die subtitel.

Nathan TrantraalFoto:

Dit sluit ’n paar meesterlike stories in, soos “Dit was ’n dag wat ek nooit sal vergeet nie” oor ’n opstel wat hy in st. 8 vir Mr. Fowler, of “Vader”, geskryf het vir ’n seun wat 21 in st. 6 geraak het en nie juis Afrikaans onder die knie gehad het nie. As jy Afrikaans gedruip het, het jy gedruip. Die storie is skreeusnaaks, maar eindelik kom jy agter die trane in jou oë is van hartseer.

Hy gee die roerende opstel – in Standaardafrikaans – vir Mr. Fowler terug.

“Ek gie vi Mr. Fowler die blaai an, hy kyk it vir vyf minute an, dan vra hy my: ‘My broe watte kak is die?’ Ek gie nie vir hom antwoord nie. Ek sak my kop oppie bank, ek wite hulle gan hom nul gie vir dai opstel, hulle gannie ees omgie dat it impossible is dat Mr. Fowler it self geskryf et ie. Maa dais cool wan ek haat die Afrikaans teachers. Ek haat hoe hulle vi ôs force om boeke te lies van Dalene Matthee en poetry van DJ Opperman . . .”

Om Trantraal se boek te lees, moet jy darem weet wie hy is. Sy bundel Chokers en survivors is in 2015 met die Ingrid Jonker-prys bekroon en is van die belangrikste poësie in Afrikaans in dekades.

Die gedigte ontroer en skok diep, presies wat goeie kuns moet doen. As rubriekskrywer in Rapport laat hy ook sy stem in Kaaps wyd hoor. Die stories is soos die beskrywing van die milieu waarin sy gedigte afspeel.

Trantraal vra jou nie met hierdie stories om van die lewens van arm mense kennis te neem nie. Hy dwing jou om te kyk na hoe hulle lewe en om na hul stories te luister. Dit is stories oor pornografie, prostitusie, hongerte, dwelms, alkohol, die mense van die Vlakte en ’n skrywer se liefde én weersin in hierdie lewe en plek.

En veral sy weersin in wittes wat voorgee asof hul lewens meer saak maak as dié uitgeworpenes wat altyd aan die agterspeen met suig.

Moenie ’n fout maak nie. Lesers gaan plek-plek geskok wees en selfs aanstoot neem in Trantraal se stellings en taal. Maar as jy belang stel in hoe jou landgenote lewe, dink, en voel oor dié land – oor jóú – is Wit issie ’n colour nie ’n moet.

Hier is van die beste stories wat in jare in Afrikaans geskryf is. Ook van die snaaksste en pynlikste. Lees dit en blaas jou kop oop.

  • Charles Smith is Nuushoof van Netwerk24: Sentraal
Meer oor:  Nathan Trantraal  |  Boekresensie  |  Rubrieke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.