Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Snyman se verhale is graansilo’s op aandag

Essays en rubrieke

Soekmekaar

Dana Snyman

TAFELBERFG, R270

Ek het een keer gesels met iemand wat nie van Dana Snyman se werk hou nie.

Sy kommentaar was: “Ek kan nie daai ou se boeke lees nie. Dis net die een stowwerige straat op die ander.”

Inderdaad kan ’n mens seker sê dat Dana Snyman vir die afgelope dekade lank dieselfde suksesresep het. Hy skryf oor dinge wat mense nostalgies maak. Hy gee die gevoel dat hy eerlik is, dat hy net ’n eenvoudige mens is wat in eenvoudige taal oor dinge dink en dinge waarneem.

Daar is, en was, al talle kunstenaars van alle nerings – musiek, skilderkuns, fotografie, en die geskrewe woord – wat presies dieselfde doen as Dana. Hulle verpak en verkoop nostalgie. En wie van ons is nie ’n sucker vir ’n lekker dosis nostalgie nie?

Dit het my iets soos sewe uur gevat om te lees, alles in een dag en aand, want ek kon die boek eenvoudig nie neersit nie

Dis egter nie so maklik soos dit lyk nie. Om nostalgie reg aan te bied, om dit as werklike letterkunde te laat werk, moet jy ’n hele klomp baie moeilike tegnieke presies bemeester, of alles vervlak tot kitsch en schmaltz.

Nadat ek Dana se nuutste bundel rubrieke klaar gelees het – dit het my iets soos sewe uur gevat, alles in een dag en aand, want ek kon die boek eenvoudig nie neersit nie – het ek besluit om ’n lysie te maak van die redes hoekom Soekmekaar vir my uitstaan bo die werke van baie van die ander kunstenaars wat dieselfde probeer doen. Hoekom dit vir my selfs uitstaan bo Dana se vorige boeke.

Kortweg: hoekom dit een van die oorbluffendste boeke is wat ek nog ooit in Afrikaans gelees het.

Aan die onderliggende politiek of filosofie wil ek glad nie raak nie. Dit is ’n baie inklusiewe boek, en slim mense sal dalk baie te sê hê oor paternalisme en/of retrospektiewe apologismes en allerhande sulke goed, but I don’t even want to go there.

Vir wat dit werd is:

Hier is my lysie. Dit het gegroei tot ’n resensie. Maar dis eintlik baie eenvoudig.

Een.

Dana Snyman het ’n oog vir detail wat sand in die oë skop van baie ander skrywers. So skryf hy, in een van die kortste stukkies in die boek (skaars ’n halwe bladsy lank) oor ’n outydse posman wat ’n telegram kom aflewer:

“Koekies wag by die hekkie met ’n leersak oor sy skouer. Sy broekspype is met silwer knippies om sy enkels vas.”

Netso, en daar, in daardie onbenullige detail, kry jy die hele prentjie, ’n prentjie wat wêrelde van verbeelding en herinnering ontsluit.

Twee.

Dana Snyman is die meester van slotsinne. Soos Roald Dahl bou hy, met die een understatement ná die ander, ’n reeks gebeure op wat almal lei tot by die laaste sin, wat jou dan, ten spyte van die onpretensieusheid daarvan – of dalk juis as gevolg van die onpretensieusheid daarvan! – soos ’n vuishou in die maag tref. Hier is ’n paar voorbeelde, buite konteks aangehaal, maar julle kry die idee:

“Met ’n groot pak NikNaks in die hand kom hy van buite gestap.”

“Nog net vyf minute, dan’s happy hour verby.”

“Gaan kyk vir wie blaf Brakanjan so.”

“My en Gert Yster se storie het ’n einde nodig.”

“Dis Moedersdag vandag.”

Drie.

Dana Snyman – of is dit sy editor? – rangskik sy stories perfek.

Dana Snyman – of is dit sy editor? – rangskik sy stories perfek. Baie van hierdie stukke het ek al tevore elders gelees. Dit was almal lekker leesstof. Maar die geheelindruk van die boek is anders.

Die manier waarop die een storie die volgende een inlui en antisipeer – iets wat Dana soms beter doen as Italo Calvino – verander ’n doodgewone bundel versamelde rubrieke in iets wat die intellektuele gewigtigheid het van ’n klassieke roman.

Soos The Fall van Albert Camus, is dit bedrieglik eenvoudig. Die boek vorm ’n geheel. Al verskil die hoofstukke in lengte, is elke hoofstuk op die ou end ewe belangrik. En, soos in die Gestalt-beginsel, is die geheel baie groter as die optelsom van die dele. Dit wil gedoen wees.

Vier.

Dana Snyman het deernis. Met homself, en ook met die karakters wat hy beskryf.

Dana Snyman doen dekselse goeie navorsing. Hy is fisiek teenwoordig in elke insident, of hy laat jou voel hy was daar. Hy neem ouens op met bandopnemers. Hy sit in die regte kroeg op die regte tyd.

En dan neem hy soms kiekies ook. Nie baie goeie kiekies nie, oukei, as jy daarna sou kyk buite die konteks van die verhale nie – Snyman is geen Goldblatt nie – maar hel, dis genoeg. Daai kiekie van Walter Meyer se laaste skildery, geneem waar dit nog op sy esel gestaan het in die slaapkamer wat hy by ’n vriendin gehuur het, sal by my spook tot in lengte van dae . . .

Vyf.

O ja. Dana Snyman het deernis. Met homself, en ook met die karakters wat hy beskryf. Dis ’n kwaliteit wat nogal moeilik is om te “fake”, as jy my vra.

Wel, daar het julle dit. Dis al wat ek eintlik wou sê. Dis soort van my hele resensie.

O ja. Enige kritiek?

Hy het die metafoor van graansilo’s wat op aandag staan, dalk een keer te veel gebruik. (’n Volle twee keer. Ek het getel.)

Maar hel, mens kan hom dit seker maar vergewe, want dis nogal ’n donnerse lekker metafoor, is dit nie?

Koos Kombuis is ’n afgetrede popster wat deesdae in suburbia woon en wonder of daar lewe op ander planete is.

Meer oor:  Dana Snyman  |  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.