Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Só gryp pandemie SA boekbedryf aan die strot

Die Suid-Afrikaanse boekbedryf het weens die Covid-19-pandemie ’n nagmerriejaar agter die rug. Nielsen BookScan SA se jongste jaarverslag openbaar in besonderheid watter verliese gely is, berig Christiaan Boonzaier.

Foto ter illustrasie. Foto: Getty Images

Die plaaslike boekbedryf het weens die Covid-19-pandemie onder reuse-verliese gebuk gegaan en verlede jaar meer as R282 miljoen minder as in 2019 verdien.

Nielsen BookScan SA (NBS-SA) het in hul jongste jaarverslag bevind dié terugslag is yslik in vergelyking met die kreeftegang wat die Suid-Afrikaanse boekbedryf sedert 2017 beleef: Boekverkope het tussen 2017 en 2018 met R73,6 miljoen gedaal, en ook tussen 2018 en 2019 met meer as R36,1 miljoen (sien grafika hieronder).

Volgens Andre Breedt, besturende direkteur van NBS-SA, is dit belangrik om daarop te let dat dié syfers nie akademiese boekhandelaars soos Van Schaik insluit nie. NBS-SA versamel en ontleed sedert 2003 slegs data by algemene en aanlyn boekhandelaars soos CNA, CUM-boeke, Exclusive Books, Game, Loot en Takealot. Hoewel ook “klein winkels” ingesluit is, sê Breedt daar is heelwat ander wat nog nie op hul radar is nie. Hul syfers sluit daarom net sowat 90% tot 95% van die hele Suid-Afrikaanse boekemark in – heelwat meer as ’n standaard van 65% wat in sommige ander lande gemeet word.

Breedt het voorheen aan Netwerk24 gesê verkope van e-boeke is ook uitgesluit, onder meer omdat Amazon, die grootste verkoper van e-boeke in Suid-Afrika, nie sy syfers bekend maak nie.

“Data vir e-boeke is skaars,” sê hy. “Daar is ook te min uitgewers (van e-boeke), wat dit moeilik maak om ’n verteenwoordigende datastel aanmekaar te sit. ’n Mens kan natuurlik uitgewers vir hul eie e-boek-data vra. Ons werk tans aan ’n oplossing om e-boek-verkope makliker te meet, maar dit sal tyd neem.”

Die verslag, wat 18 bladsye se syfers saamvat, het die volgende interessanthede oor verlede jaar se plaaslike verkope van boeke oor alle tale heen ingesluit:

  • Niefiksie was onder boekwurms die gewildste kategorie met verkope van meer as R695,8 miljoen, terwyl kinderboeke (meer as R385,8 miljoen) en fiksie (meer as R295,9 miljoen) die tweede en derde plek beklee.
  • Verkope in 2020 het dié van 2019 slegs in agt van die jaar se 52 weke oortref: die sewe aaneenlopende weke tussen 20 Januarie en 8 Maart (2020), kort voordat die eerste staat van inperking op 27 Maart begin het, en die enkele week oor Kersfees tussen 20 en 27 Desember.
  • Die gewildste genre was kinderfiksie (met ’n inkomste van meer as R111,3 miljoen), met misdaad-, riller- en avontuurromans kort op sy hakke (meer as R98,5 miljoen).
  • Die genre wat tussen 2019 en 2020 die grootste terugslag beleef het, is godsdiensboeke (R82,6 miljoen minder).
  • Netwerk24 het reeds vroeër berig dat Deon Meyer se Donkerdrif, oudpres. Barack Obama se A Promised Land, en Robin Sharma se 5 AM Club volgens elke boek se verdienste die eerste, tweede en derde gewildste boek van die jaar was.

Afrikaanse kinderboeke kraai koning

Sake het ook nie klopdisselboom met die verkope van Afrikaanse boeke verloop nie, hoewel daar tog plek-plek silwer randjies is.

Luidens die NBS-SA-syfers het Afrikaanse boeke verlede jaar meer as R151,4 miljoen laat inrol – slegs R19,7 miljoen minder as in 2019, maar onderskeidelik R44,2 miljoen en R45,4 miljoen minder as in 2017 en 2018 (sien grafika hierbo).

Hoewel niefiksie in 2020 oor alle tale heen die gewildste kategorie onder boekwurms was, het Afrikaanse lesers wye draaie daarom geloop: Afrikaanse kinderboeke het in 2019 die voortou by Afrikaanse niefiksie oorgeneem – en was verlede jaar met ’n inkomste van meer as R62,6 miljoen loshande voor Afrikaanse fiksie (R48,6 miljoen) en Afrikaanse niefiksie (R39,2 miljoen) (sien grafika hieronder).

Afrikaanse fiksie het verlede jaar wonderbaarlik meer as R6,2 miljoen meer as in die voorafgaande jaar laat inrol.

Dít het Leonie van Rensburg, boekekenner en eienaar van Graffiti Books & Stationery in Pretoria, nie verbaas nie.

“Ek dink lesers wou ontsnap van die werklikheid van die pandemie, en fiksie was hul ontvlugting.

“Die boeke wat verskyn het, was ook oorwegend fiksie. Ek het die idee gekry dat uitgewers baie niefiksie-titels na 2021 uitgestel het.”

Martin Bekker, kategoriebestuurder van boeke by die aanlyn handelaar Loot, stem met Van Rensburg saam en sê die waarskynlike rede dat Afrikaanse niefiksie aan die kortste end getrek het, bloot is omdat 2020 se niefiksie-aanbod klein was.

Leonie van Rensburg Foto: Verskaf
Martin Bekker Foto: Verskaf

“Ek kan nie onthou dat daar enige groot Afrikaanse niefiksie-titels in 2020 was nie; daar was eenvoudig nie genoeg titels om met voorafgaande jare te vergelyk nie.

“(Annelien Pienaar se kookboek) Boerekos met ’n twist, byvoorbeeld, was massief, maar daar was nie regtig verlede jaar iets wat daarmee kon meeding nie.”

Van Rensburg en Bekker is dit ook eens oor die rede vir die reuse-opgang van Afrikaanse kinderboeke. Luidens die NBS-SA-syfers is fiksie vir kinders en jong volwassenes, asook skoolboeke en handleidings, die enigste genres wat verlede jaar meer geld as in die vorige jaar kon verdien.

“Ek voel so jammer vir ouers wat skielik voldag moes werk en ook kinders by die huis moes besig hou,” sê Van Rensburg.

“Baie ouers het die geleentheid aangegryp om boeke vir hul kinders te koop om te lees. Ek weet van baie kliënte wat besef het dat kinders geweldig baie tyd voor die TV en op selfone spandeer – en wat hul kinders toe letterlik begin dwing het om minstens twee uur per dag te lees. Die verhoogte verkope in kinderboeke maak my baie opgewonde, want kinders is tog uiteindelik ons toekomstige kliënte!”

“Dit is beslis ’n baie goeie ding,” las Bekker by.

“Kinders moes skielik by die huis bly, en in plaas daarvan om TV te kyk of rekenaarspeletjies te speel, is hulle aangemoedig om ’n boek op te tel en te lees. Hul ouers was waarskynlik ook baie strenger met die tyd wat hulle voor ’n skerm deurbring.

“Daarby het ek ook die afgelope twee jaar ’n toename in wonderlike boeke vir kinders en jong volwassenes gesien.”

Die NBS-SA-syfers dui aan dat Afrikaanse godsdiensboeke R14,9 miljoen minder as in 2019 verdien het – die grootste terugslag onder alle genres in Afrikaans.

Netwerk24 het ook vroeër reeds berig dat Deon Meyer se Donkerdrif, Sophia Kapp se Kanaän, en die legendariese SJA de Villiers se ewe legendariese Kook en geniet volgens elke boek se verdienste die eerste, tweede en derde gewildste Afrikaanse boek van dié nagmerriejaar was.

Meer oor:  Cna  |  Takealot  |  Game  |  Exclusive Books  |  Kersfees  |  Barack Obama  |  A Promised Land  |  Amazon  |  Deon Meyer  |  Donkerdrif  |  Sophia Kapp  |  Annelien Pienaar  |  Staat Van Inperking  |  Boek  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Pandemie  |  Boeke  |  Inperking  |  Koronaviruspandemie  |  Covid  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.