Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Deon Meyer veil boek vir liefdadigheid op

Getroue aanhangers van die misdaadskrywer Deon Meyer wat gereeld sê hulle sal “enigiets doen” om hul hande heel eerste op sy jongste boek te kry, het nou die geleentheid om daad by die woord te voeg – en dít vir ’n goeie doel.

Deon Meyer se jongste roman, ‘Donkerdrif’, word in November uitgereik. Foto: Facebook

Meyer het op Facebook aangekondig dat die eerste eksemplaar van Donkerdrif vir liefdadigheid opgeveil gaan word.

Dié eerste eksemplaar is een van 27 artikels wat ten bate van die Henri Warnich-stigting op Beaufort-Wes opgeveil word. Die stigting versorg kinders met Prader-Willi-sindroom, ’n genetiese siekte wat onder meer veroorsaak dat kinders ooreet en op ’n bloedjong ouderdom aan vetsug ly.

Meyer sê aan Netwerk24 hy het besluit om die eerste eksemplaar van Donkerdrif, sy 14de roman, vir die veiling te skenk nadat een van sy goeie Karoo-vriende hom gevra het of hy hulle kan help.

“Boonop is my vrou, Marianne, ’n oudinwoner van Beaufort-Wes, en ken sy baie van die mense by die Henri Warnich-stigting. Dit is so ’n goeie saak, hoe kan ’n mens nie betrokke raak nie?

Deon Meyer Foto: Argief

“Die Karoo kry bitter swaar in die droogte, en dit is moeilik om op die platteland fondse in te samel. Dit was vir my ’n voorreg om betrokke te raak. Ek bie ook op daardie drie slagskape!”

Lesers kry nie net die geleentheid om op Meyer se jongste boek te bie nie, maar ook ’n koffiekuier met die skrywer op Stellenbosch, waar hy die eksemplaar sal teken en self aan die suksesvolle bieër sal oorhandig.

Die veiling het reeds op 14 Oktober begin. Teen Sondag (18 Oktober) was die hoogste bod op Meyer se boek en koffiekuier R7 000, wat hy sê “beslis” die meeste geld is wat nog vir ’n enkele eksemplaar van sy boeke opgedok is.

“Ons het al karaktername opgeveil vir die welwillendheidstrust wat kinders op Loxton ondersteun (die Ek Lewe-trust), wat al ’n paar duisend meer ingebring het, maar hierdie is die beste bydrae vir ’n boek.”

Bieërs het nog tot 30 Oktober om 12:00 kans om hul bod op https://hwf.membernet.co.za/Auction/HuisHenri2020 te maak. Elke nuwe bod moet ten minste R100 meer wees as die bestaande bod.

Besoek https://www.henriwarnichfoundation.co.za/ vir meer inligting. Belangstellendes kan ook 072 243 5251 skakel of ’n e-pos na huishenri@023.co.za stuur.

  • Donkerdrif word in November deur Human & Rousseau uitgegee. Die kleinhandelprys is R320.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.