Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Soeke na seks bring wysheid

Erla-Mari Diedericks se outobiografiese ‘Seks, leuens en die internet’ het Karin Eloff aanvanklik erg moerig, maar uiteindelik tog wyser gemaak. 

Seks, leuens en die internet het my onmiddellik laat wonder waarom mans nooit sulke boeke oor hul soeke na liefde skryf nie.

Ek weet hoekom: omdat hulle nie omgee nie, nie desperaat is nie, nie so afhanklik is van liefde en romanse soos party vroue nie en omdat hulle gewoonlik meer van hulself dink as die gemiddelde vrou.

Ek is op die daad moerig, want ek weet hierdie boek gaan net pynlik wees, soos my eie boek, Stiletto: My lewe in die seksbedryf (2009), ook maar pynlik was. Ek weet dit gaan my kwaad maak – vir selfsugtige mans, vir vroue wat hulself nie wil help nie en vir die lewe in die algemeen.

Diedericks se reis is rof en hard. Sy date aanmekaar vreemde skepsels wat glad nie met haar kan connect nie. Sy dink om getroud te wees is wat ’n mens moet wees en beskryf mans as ’n “heenkome”.

Is die huwelik dan nie ’n bietjie laas millennium nie?

In haar desperate soeke na liefde, seks en romanse op die internet storm sy keer op keer met mening in dieselfde muur vas. Gesig eerste. Maar ophou is min.

Wat is die definisie van insanity nou weer? Is sy gek? Is sy ’n masochis? Is dit nie selfsugtig om deur ’n man gered te wil word nie? Om te wil hê iemand anders moet al die werk doen terwyl jy terugsit en jou naels vyl nie?

Die skrywer praat baie oor wat sy wil hê, maar nie oor wat sy wil gee nie.

Teen die einde van hoofstuk twee het sy steeds nie veel van ’n selfbeeld nie; teen hoofstuk drie wens ek ek het nog bier in die yskas gehad; en teen hoofstuk ses kry ek hoop: Die skrywer kry ’n nuwe blyplek en begin mooi “regkom”, maar sê dan skaamteloos al wat sy kort, is ’n nuwe man saam met haar nuwe begin, en my moed sak weer in my skoene.

Internetafsprake raak vir haar ’n allesverterende verslawing. As enkelma wat ook in die media werk, wonder ek deurentyd waar sy die tyd vir dating kry en die geld vir die gereelde make overs. En waar is haar seun ten tyde van haar gereelde sekskapades? (Oordeel is tog so lekker as jy in ’n glashuis bly.)

Die skrywer wroeg so baie oor wat mans van haar dink dat sy nooit introspeksie oor haar eie gevoelens doen nie. Sy leer nie, sy bejammer haarself, en dan doen sy die ergste ding wat iemand sonder ’n selfbeeld kan doen: Sy knoop ’n affair aan met ’n getroude man. En erger nog: Sy laat haar seun toe om geheg te raak aan die man. En dan los die man haar – vir sy vrou, natuurlik.

Teen hoofstuk 28 kan en wil ek nie meer nie, maar dan is dit daar: Halleluja!

En dis groot. Dis diep. Dieper as enige seks wat ’n mens met vlak mans kan hê. Die skrywer se gesprekke met jonger weergawes van haarself loop uiteindelik op wys­heid uit. En daar is geen groter skoonheid as wysheid nie.

Ek besef hoe dwaas dit is om te oordeel en te veroordeel en dink weer aan my eie embarrassing reis met al die verkeerde mans . . . of was dit dalk ék wat heeltyd “verkeerd” was? Ons moet almal hul reis gun, al is dit hoe embarrassing.

Erla, jou reis is rof, maar diamante is ook rof. Al daai pyn, wat jy soms soos ’n sitcom laat klink, was die moeite werd – elke leuen, elke gedokterde profielfoto, elke simpel sweep, elke hotel, elke glas duur whisky of goedkoop wyn, elke getroude liegbek of ongetroude pateet, elke manikuur, nuwe rok en elke sent wat daai Botox jou gekos het.

Want daar ís geen groter skoonheid as wysheid nie.

Meer oor:  Erla-Mari Diedericks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.