Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Sosiale media... dáár lê die heil van poësie

Met Rupi Kaur se digbundel ‘the sun and her flowers’ wat sedert begin Oktober op ‘The New York Times’ se topverkoperlys boer, wonder Bibi Slippers: Het dié eer al ooit die Afrikaanse poësie te beurt geval?

Rupi Kaur

As daar ’n pous van poësie was, sou dié genoop wees om Rupi Kaur vóór haar dood al tot heilige te verklaar – en dít gegrond op slegs twee bekragtigde wonderwerke: Die eerste is die verkope van Kaur se debuutbundel, milk and honey, wat al verby 1,4 miljoen trek; die tweede is haar opvolgbundel, the sun and her flowers, wat sedert vroeg Oktober op The New York Times se topverkoperlys rinkink, ’n kortkop agter Dan Brown, Da­nielle Steel, Stephen King en Jo Nesbo.

Die 25-jarige Kaur is ’n Kanadese digter van Indiese afkoms wat haar skrywersloopbaan op Tumblr begin het. In 2014 het sy haar fotografie en skryfwerk op Instagram begin deel, en die jaar daarna ’n reusegevolg opgebou oor haar uitsprake téén dié sosiale netwerk. Die brouhaha het gegaan oor ’n selfportret waarin sy in ’n sweetpakbroek lê wat met menstruele bloed bevlek is. Instagram het dié foto verwyder en Kaur se daaropvolgende skerp kritiek teen die netwerk se patriargale waardes en ooglopende vrouehaat het van haar ’n oornag-kampvegter vir internet-feminisme en ’n gesertifiseerde Instagram-celeb gemaak.

Sy het ’n groot persentasie van haar 1,7 miljoen Instagram-volgelinge aan hierdie omstrede insident te danke, en in die nadraai van die relletjie het verkope van haar selfgepubliseerde debuutdigbundel sterk begin styg – in so ’n mate dat die uitgewer Andrews McMeel, wat bekend is vir publikasies soos die Calvin and Hobbes-strokiesprentboeke, die regte bekom het.

Instagram is potensieel ’n land van melk en heuning vir digters om belangstelling te kanaliseer in bundelverkope.

Kaur se gedigte kan met die eerste oogopslag as háár werk geëien word. ’n Tipiese Kaur-gedig is ’n kort, kragtige komposisie wat oor liefde, vroulikheid of selfbemagtiging handel. ’n Kaur word uitsluitlik in kleinletters geskryf – die enigste leestekens is punte – en word dikwels deur ’n naïewe lyntekening deur die digter vergesel. Die sentimente wat in ’n Kaur verwoord word, is eenvoudig en algemeen genoeg om universeel aanklank te vind, en pas boonop altyd netjies binne die vierkantige Instagram-raampie. ’n Tipiese voorbeeld: “you’ve touched me / without even / touching me.”

’n Mens sou kon sê dat ’n Kaur gesién en nie gelees word nie, en dat literêre kritici nie veel ooghare het vir Kaur se sogenaamde poësie nie. Maar dit skeel haar lesers min. Haar visuele ingesteldheid is deurslaggewend tot haar sukses op Instagram – en Instagram is weer deurslaggewend vir haar fenomenale verkope.

Om hierdie uitsonderlike verkoopsyfers met die verkope van Suid-Afrikaanse digbundels te vergelyk is ’n onbegonne – en uiters onregverdige – taak. Nie eens die koning van Suid-Afrikaanse verkopers – die K53-leerlinglisensiegids – verkoop meer as in die tientalle duisende nie. Verkoopsyfers vir fiksie is aansienlik laer as niefiksie, en poësie, wel, dis byna te droewig om neer te skryf.

Verteenwoordigers van die plaaslike uitgewershuise Naledi, NB en Protea vertel dieselfde storie: ’n Gemiddelde drukoplaag is 500 bundels met verkope wat wissel tussen 100 en 300 bundels en wat deur positiewe resensies tot 500 opgestoot kan word. Van die groot name – die Antjie Krogs, Breyten Breytenbachs en Marlene van Niekerks – word oplae van 1 000 of meer gedruk.

Protea sonder Johan Myburg se bundel Uittogboek uit as ’n goeie verkoper wat binne drie maande herdruk is, terwyl NB-uitgewers my eie bundel, Fotostaatmasjien (met ’n eerste oplaag van sowat 1 000), binne die eerste jaar herdruk het.

Volgens Johan Coetzee van Naledi is tradisionele boekwinkelverkope wat deur Nielsen en Pasa gemonitor word, nie die alfa en omega van boekverkope nie: Heelwat digters smous self met hul boeke by voorlesings, bekendstellings en ander geleenthede, maar dié verkope word nie in amptelike verkoopstatistieke ingereken nie.

Volgens Nick Mulgrew, uitgewer by die klein Kaapstadse poësie-druknaam uHlanga, lyk sake nóg meer beroerd vir Engelstalige digters, maar natuurlik is daar uitsonderings, soos die ongekende sukses van die performance poet Koleka Putuma se bundel Collective Amnesia vroeër vanjaar. Volgens Mulgrew is ongeveer 3 000 eksemplare van dié bundel al verkoop, en hoewel dit ook fluks verkoop in boekwinkels, vind die meeste van die verkope plaas op Putuma se boektoere en by voorlesings. Mulgrew skryf die sukses van die bundel toe aan die feit dat dit baie sterk met die tydsgees resoneer: Temas soos vroulike identiteit en spesifiek swart vroulike identiteit, queerness, Christendom, nostalgie en vreugde word hier verwoord, wat tans baie relevant en tydig is. Maar, sê Mulgrew, hy wil benadruk die boek vaar goed omdat dit ’n goeie boek is.

“Party skrywers dink hulle kan eenvoudig met ’n boek toer en dit sal verkoop, maar dit is nie hoe dit werk nie. Hierdie boek sou nooit so goed gedoen het as die poësie nie goed was nie.”

Die YouTube-video waarin Putuma haar bekendste gedig, “Water”, voordra, is al byna 9 000 keer gekyk, en, soos in die geval van Kaur, het sy ’n sterk visuele identiteit vir haar boek geskep (weliswaar nie heeltemal so opvallend “ontwerp-vir-Instagram” nie).

Die afname in poësieverkope (en die relatiewe sukses van digters met ’n meer visuele benadering tot die verpakking en bemarking van hul werk) moet gesien word binne die breër konteks van ’n grondverskuiwing in die volkskultuur wat beskryf kan word as ’n postdrukmedia-omgewing waarin tradisionele drukmedia en literêre teksprodukte al hoe meer opgeneem word in en vervang word deur allerlei nuwe media. Binne hierdie konteks is dit veral beelde wat voorrang geniet, omdat beelde ’n soort “snelskrif” is wat dit moontlik maak om massas inligting waaraan ons elke dag blootgestel word te sorteer en kategoriseer.

Daar is duidelik steeds ’n behoefte aan die reflektiewe en genuanseerde kommunikasie wat die digkuns verteenwoordig – daarvan getuig die sukses van St. Rupi en ander Instagram-digters. Sy illustreer verder daar ís nog ’n mark vir gedrukte digbundels en dat selfs millenniërs nie nét op skerms wil lees nie.

As digters tot hierdie mark wil spreek, moet die mark natuurlik bewus wees van hul bestaan, en daarvoor is ’n intermediale aanslag nodig tot die bemarking en publikasie van die digkuns.

Rob Walker skryf in The Guardian danksy die aanvraag na die werk van Instagram-digters is daar in Brittanje ’n groeiende belangstelling in die digkuns in die geheel, maar dat die mark spesifiek op soek is na eenvoudige verse wat die tydsgees vasvang en besonderse trefkrag het.

Ek stel nie vir ’n oomblik voor plaaslike digters moet hul werk vervlak of vereenvoudig om die mark tegemoet te kom nie, maar eerder dat daar innoverend gedink moet word oor hoe om die werk binne die digitale sfeer aan te bied sodat dit aanloklik is vir ’n lesersmark wat primêr op hul fone lees en inligting filtreer.

Die Suid-Afrikaanse publiek stel steeds belang in digters as meningsvormers en openbare figure. Die uitdaging is om hierdie belangstelling te kanaliseer in bundelverkope. Vir hierdie doeleinde is Instagram potensieel ’n land van melk en heuning vir digters – mits ons kan aanvaar dat daar in 2017 bykomende vaardighede van digters en uitgewers vereis word. Ons sal almal moet leer om, soos Rupi Kaur, die spreekwoordelike heuningstrik op sosiale media te stel.

* Bibi Slippers is ’n digter en inhoudsregisseur van Flits op kykNET.

Meer oor:  Poësie  |  Gedigte  |  Instagram
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.