Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Spanning broei in Namibië

Voëlvry

Piet van Rooyen

PENGUIN, R180

’n Spanningsroman met ’n openingshoofstuk soos Piet van Rooyen se Voëlvry voorspel net goeie dinge. In ’n bietjie meer as twee bladsye lê die skrywer die grondslag vir ’n kat-en-muis-spel wat die leser uit die staanspoor inlok in ’n wêreld van intrige.

Die antiheld Hans-Joachim Kramer is ’n berugte Duitse swendelaar wat sy fortuin gemaak het met ­onderduimse bedrywighede wat groot opspraak in sy tuisland wek.

Die Duitse regering en Interpol is op sy spoor en hy vlug na Namibië saam met sy vrou en kinders.

Hans word beskryf as ’n “pierewaaier” wat geneig is om “op ’n Clark Gable/Carey Grant-manier te frons” en is ’n genotvolle karakter danksy sy glibberigheid en chutzpah.

Op sy plaas in Namibië, die verwesenliking van sy ­lewenslange droom, stel hy ene Daantjie Weerlig as sy voorman aan.

Die van “Weerlig” is nie om dowe neute nie, veral nie wanneer hy begin koppe stamp met die Damara genaamd Vaalperd Ses nie. Dié konflik dui op historiese maatskaplike woede wat in dié twee karakters vergestalt word.

Afrika eis sy tol en sy vrou, Gabi, en die tweeling vat die pad terug Europa toe. Hans raak al hoe meer in homself gekeer en paranoïes. Dit is waar Rachel da ­Silva tot sy redding kom. Rachel is ’n regsgeleerde wie se pa in die tronk is. Sy is jonk, maar ’n sterk karakter – onafhanklik, empaties en slim.

Om die waarheid te sê, in ’n genre waar manskarakters en helde gewoonlik die stereotipiese botoon voer, is dit verfrissend om ’n geloofwaardige en sterk vrouekarakter raak te lees wat deur haar kompleksiteit en prominensie ’n belangrike invloed op die verloop van die verhaal het.

Die vonke begin (letterlik!) spat wanneer ’n Duitse agent wat Hans moet opspoor vir Vaalperd Ses betrek by sy poging om Hans aan te keer.

Die hoofstukke is kort – slegs twee of drie bladsye elk – wat Voëlvry ’n toeganklike lekkerleesboek maak. Van Rooyen kry dit ook reg om die bladsye in te kleur met lieflike beskrywings van die Namibiese landskap, die land se mense en, les bes, politiek.

Veral die verskeidenheid karakters word met groot vernuf uitgebeeld en nie net die hoofkarakters nie, maar ook dié wat net vinnig inloer, is driedimensioneel en geloofwaardig.

Van Rooyen is ’n bekroonde en gesoute skrywer wat met Voëlvry weer eens bewys hoe ekonomies en knap hy met die pen omgaan en ook hoe hy met ’n oorspronklike en interessante verhaal deurgaans die spanningsdraad styf kan hou.

• Riaan Grobler is ’n redaksielid van Netwerk24.

Meer oor:  Letterkunde  |  Afrikaans  |  Boek  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.