Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Spanning, intrige, konflik – uit 14 skerp penne

Op die spoor van: Speurverhale deur topskrywers, saamgestel deur Rudie van Rensburg. Uitgewer: Tafelberg.

Prys: R250. Resensent: Jonathan Amid

“A short story is a different thing altogether – a short story is like a quick kiss in the dark from a stranger.” Só takseer Stephen King die kortverhaal. Die kortverhaal se gebruiklike vinnige pas en een spesifieke gegewe of tema wat ondersoek word, skep die indruk dat die vertelling slegs die essensie van oomblikke of gebeure vasvang.

Die leser moet dus skerp genoeg wees om die spoor te volg om uiteindelik by die (gewoonlik) verrassende of onthutsende slot uit te kom. Soos die vinnige vreemdelingskus in die donker is die ideale kortverhaal dan iets wat die leser prikkel, onthuts, vervreem. Baie lesers verkies om eerder nie kortverhale te lees nie – die ervaring is eenvoudig te gou verby, sonder die toe­gewings van langer tekste.

Kortverhale moet dan nie net ekstra hard werk om lesers te bevredig nie, maar dié met misdaad as tema, veral dié wat in ’n geweldgeteisterde same­lewing soos Suid-Afrika afspeel, bied skrywers besondere gegewens om lesers te prikkel en skrik op die lyf te jaag. Deon Meyer het gelukkig reeds met sy kortverhale die pas aangegee en die volgende generasie kortverhaalskrywers rigtingwysers gebied.

Die 14 skrywers wat tot hierdie speurbundel bygedra het, moes mooi besin oor hul aanslag, veral omdat geweld ’n mate van sensasie kan verkry as dit in detail beskryf word. Verder, fokus jy as skrywer veral op die moordenaar, die skuldige of die sentrale oortreding self, of val die klem eerder op die oorsake of die gevolge van die misdaad?

Wanneer vervaag die skeidslyne tussen slagoffer en misdadiger, en onder watter omstandighede word dit geregverdig om antwoorde te soek wat buite die gereg val? Daarbenewens bestaan die moontlikhede vir konteks-spesifieke maatskaplike kommentaar; die oopskryf van geweld, wraak en vergelding, armoede, rassisme, ongelykheid, jaloesie, geslagsrolle, en dies meer.

Omdat die verhale juis kort, pakkend, gekonsentreerd en gelaai met belangrike detail moet wees, is dit verblydend om te verkondig dat Op die spoor van deurlopend ’n sterk aanbod van intrige, spanning, en innerlike en uiterlike konflik bied.

Met die (uiters subjektiewe) lees van enige bundel is dit voor die hand liggend dat sekere stories die leser meer as ander sal geval. Wat egter eerstens hier tevrede stel, is die enorme verskeidenheid wat die keuse van sub­genre, taalgebruik en karakter betref.

Opvallend veral is hoe sekere gevestigde misdaadfiksieskrywers se verhale – Rudie van Rensburg se “Hond se gedagte”, Karin Brynard se “Begrafnis vir ? ongelowige” en Kerneels Breytenbach se “Die geval van die onsigbare moordenaar” – nouliks ooreenstem met hul gebruiklike soort skryfwerk. Elke verhaal van hierdie drie is herkenbaar aan die skrywer self, bevredigend, vol selfvertroue.

Daarteenoor is Bettina Wyngaard se “Norooz”, Martin Steyn se “Sprokie vir ’n Plain-kind” en Deborah Steinmair se “Die Nebbish” elk in eie reg verbluffend en verrassend.

Wyngaard ondersoek ekstremisme, lojaliteit en die skim van werklikheid te midde van ’n ondraaglik spannende ondersoek vol aksie en opwinding. “Norooz” is ook die bundel se eerste verhaal, en beslis een van die bestes. Steyn se verhaal is haarfyn beplan, emosioneel uitmergelend, en daag die leser se eie morele standpunte uit.

“Die Nebbish”, van Steinmair, is ’n onheilspellende kragtoer wat sterk aan die atmosfeer en intrige van wyle ­Stieg Larsson herinner.

Nathan Trantraal se “Winston” en Henry Jack Cloete se “Die vlieg in die salf” is bydraes wat hierdie leser byna verbyster het. Bydraes wat só met ­genre-gegewens en die vertelkuns tower dat hulle amper eiehandig die bundel se aankoop regverdig.

Frederik J. Botha se “Vryheid”, ­Tertius Kapp se “Bon Voyage” en ­Carien Smith se “Verslag oor ’n ring” word elk gekenmerk deur onvoorspelbaarheid, wrang humor, hope ironie, en heerlike wen­dinge.

Ook Johan Jack Smith se “Die Goudveld-mamba” is diep bevredigend – hy verstaan hoe om ruimtes en karakters in te kleur.

Zirk van den Bergh se “Braaiboet” en Francois Smith se “Portapool” het my egter meer frustreer as geboei. Veral laasgenoemde is ’n ontstellende dog ontoeganklike vertelling wat die leser uitdaag en konfronteer met ’n soort ekstraliterêre of metafisiese besinning oor die begrip “misdaad” self. Ek voorspel grootskaalse kopkrappery.

Interessant genoeg word geregtigheid buite die amptelike kanale gedurig in die geheel beklemtoon, en ’n hele aantal verhale is skeppend in hul skets van boosdoeners, vabonde en verraaiers. Ek verwag in die vervolg beslis (meer) kortverhale wat misdaad in arm woonbuurte en lokasies ondersoek, asook ? taksering van plaasmoorde, staatskaping en institusionele korrupsie. Op die spoor van is egter ’n speurbundel wat die leser ontvlugting en intelligente vermaak bied. Koop.

  • Jonathan Amid is ’n vryskuttaal­praktisyn en doktorale student aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.