Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Spel tussen leeg en vol

Breyten Breytenbach se jongste bundel, ‘Op weg na kû’, is omvangryk en oorweldigend, maar ook groots in die wyse waarop die ontmoeting met die self, die leser en die grotes bedink word, skryf Hein Viljoen.

Die digter Breyten Breytenbach, afgeneem deur sy broer Cloete, wat verlede Vrydag oorlede is.

Op weg na kû deur Breyten Breytenbach. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R250.

Reeds met sy treffende omslag maak Breyten Breytenbach se nuwe bundel ’n oorweldigende indruk: Dit is ryk en vol, verbluffend en uitdagend vir ’n mens se “verstaanstand” (bl. 112), maar ook aangrypend en ryklik geïllustreer.

Al skep die voorblad afstand, is dit ook die eerste sleutel tot die bundel wat ’n mens voorlopig met behulp van ’n webblad soos www.viewonbuddhism.org kan ontsyfer. Die Boeddha sit waarskynlik onder ’n bodhiboom in ’n dubbele lotusposisie bo-op ’n gestileerde pienk lotus, die heiligste van alle lotusse. Die boom én die lotus is simbole van verligting.

Sy regterhand maak die gebaar bekend as die Vitarka moedra – hy debatteer, verduidelik sy leer. Die sirkel wat sy duim en wysvinger vorm, simboliseer die Wiel van die Wet (of dharma, ’n kortbegrip van Boeddha se leer), maar bevat ook ’n oog – die derde oog van insig. In sy linkerhand het hy ’n bedelbakkie, wat simboliseer dat hy aardse besittings afgesweer het. Hier is dit vol water, wat suggereer dat die tye en die tekens gunstig is. Sy hand maak die gebaar (moedra) van meditasie. Voorts dra die Boeddha ’n masker wat lyk soos ’n verweerde gelykenis van die digter self. Kortom: Die voorblad is ’n selfportret van Breytenbach as verligte Boeddha (die titel van die skildery is Boetatjie van die Kaap), hoewel die masker ’n suggestie van “maak-asof” bevat.

Die titel van die bundel, Op weg na kû, beteken dus eerstens op weg na verligting, wat die sterk Boeddhistiese inslag van die gedigte onderstreep. Getrou aan die Boeddhisme self word die Boeddhistiese idees verderaan gerelativeer, soos in gedig 7.7 (bl. 141): alles wat ooit bestaan het, is Boeddha, loop die argument, maar “alles wat bloei tot boeddhawees is pampoenmaan”. As jy dus die Boeddha teëkom, moet jy hom doodmaak “met al die liefde van jou vergaanbestaan” en dan “daai soetpampoen” eet.

Die idee dat kû verligting beteken, word egter bevraagteken in die oordadige opening van die bundel: Dit bestaan uit ’n opdraggedig, ’n mottoblad, ’n tweede mottoblad, ’n invokasie en boonop ’n foto met ’n gedig daarby. In die opdraggedig, “(vir Lot se vrou)”, word die leser reeds aangespreek as lotsverwant aan die digter. Die gedig bied ook ander belangrike sleutels vir die bundel, soos “die duister lig in woorde se uitveegesig” en die woord “woordsterfverfwerk”.

Die tweede mottoblad bied nog ’n belangrike sleutel: “die vorm (shiki) is nie verskillend van die leeg (kû) en léég is nie verskillend van vorm nie. shiki is kû, kû is shiki”. Hierdie groot bevrydende wysheid – dat alle fenomene niks anders as leegheid is nie – kom uit die Maka Hannya Haramita Shingyo of die hart-soetra, wat baie Boeddhiste beskou as ’n kortbegrip van Boeddha se leer. Vir die bundel is dit bepalend, want die digter speel met ’n hele rits kombinasies van volheid en leegheid en met ’n verskeidenheid permutasies en metafore vir die Niks.

Volgens www.wiktionary.org is kû ’n Koerdiese woord wat “waar” beteken (in die sin van “op watter plek”, “waarheen”, en “waarvandaan”). Op weg na kû bestaan uit ’n reeks malende bewegings in taal, “woordoorloopsels” (bl. 57), vol bespiegeling en herinnering. Dit bring ’n vreemde wêreld vol elementale dinge tot stand: voëls, water, maan, son, lig, maar ook bewussyn en spieël. Heel bewus is besinning oor die gedig, oor skryf self, deel van die woordoorvloed waarmee die Niks, die dood, uitgedruk, maar ook gerelativeer word. Aanhou beweeg en geraas maak is ’n kernmotief.

Die bundel voer die leser deur nege verskillende bewegings op weg na kû. Hierbinne het die gedigte hoofsaaklik nommers wat herinner aan die nege afdelings van Lotus (1974) en die nege soorte bewussyn (vijnana) van Zen. Bowendien is die bundel volgens die subtitel as “geboorte-memoriaan” bemaak aan “Ene Nee-Een”, die skryfmaat, No-one, die ontkenning van Een. Soos blyk uit die motto van afdeling 8 is nege “the number which is the threshold to the beyond” (bl. 171) of “die oorgang na die neweryk van geen” (gedig 9.12, “Kû”). Nee-een of nege-een omraam as’t ware die bundel, want die laaste eindnoot by die gedigte eindig met die woorde “en nege ene”. Of dalk met “neegeen” gebosseleer in goudblad in die heel laaste foto (bl. 250).

Aanhou beweeg en geraas maak is ’n kernmotief.

Hierdie herhalings illustreer dat die verskillende bewegings in die bundel voortdurend in wisselwerking is. Die hart-soetra keer aan die einde terug; die pampoen en die maan voortdurend. Maar die Zen-motief van die transaksie tussen die maan en die water word byna obsessief in die bundel herhaal. Afdeling 3, “volopmaan se woordoorloopsels”, bestaan net uit ’n reeks “halfklaar haikoes” ter ere van die volmaan; flardes gedig wat die paradokse van maanlig, water, seks en die dood net-net suggereer.

Afdeling 1, “Metaformismes”, is vol van die teenstrydighede van vol en leeg. Hier speel die digter met verskillende permutasies van die woord “metafoor”: “meta-aforismes, is-mos, asem, meisies, messe, metafore, sêmafore en maaifoedies”. Trouens, oorgang en oordrag – metafoor of metafeer – is sentrale trope in die bundel; ook van die gedig self. Dit word met ’n hele reeks metafore beskryf, onder meer as ’n voël (bl. 79), ’n kliphart in papier (bl. 115), ’n bed (bl. 122) of ’n vrou (bl. 126).

Die impuls van die afdeling is “om die tyd tot boordens toe vol te maak met hiér en nou se opgebergde asem vir die volmaakte ewigheid”, maar daardie ewigheid “[lê] nêrens leeg as windstof en wasem op Berg Kû”. Die waar is nêrens en letterlik leeg.

Beweging in die bundel is dikwels so dubbel leeg, soos gedig 2.4, “naakwoord”, demonstreer. In ’n tweegesprek word die stilte, die maan en die vrou in verbluffende variasies omgesit. “[M]aan is die beweging van stilte se spiraalgang op soek na die donkerte van woorde” verander aan die einde in “ek wil onthou om sonder woorde te kan aanhou soek na die spiraalstiltes van die vrou in die maan se oopvou soos net ’n gedig kan sing van niks se verwoording in die spieël”.

Hierdie “hellevaart na die niet”, die gedig se “bewegang” (gedig 2.7.1, “fokof”) is tipies van die “uitveegedigte” in die bundel en van die nagpsalms in hierdie afdeling. Die digter noem hulle WOKNAAKWYFWEESHEID “gebuit uit MOR se fragmentarium”. Hierdie soort wys­heid, ’n variasie op Blum se beroemde woord, eggo ’n ander Blum-woord wat ook ’n sleutelbegrip vir die bundel aandui, naamlik “bewuspyn” (bl. 117).

Bewussynstoestande, veral die “innerlik oopgaan” (gedig 5.5.2) wat saamgaan met sintuiglike ervarings en die sikliese terugkeer van die son en die maan, vorm die kern van afdeling 5, “Interlude (tussenspel)”. Die pogings om daardie vloei in woorde vas te vang is polsing maar ook stolling; ontbind maar ook saambind (5.6).

Natuurprosesse en die digproses loop hand aan hand. Die bewussyn en die verwoording van die leegte en die niet lei tot ’n soort ekstase, tot ontwaking, soos gedig 5.4.2 kernagtig demonstreer.

Die titel van afdeling 4, “die dood is ’n oordrywing”, kan eintlik as ’n subtitel oor die hele bundel geskryf word. Gedig 4.2 stel die dood as proses, as dood-gaan, voorop. Dood as beweging (4.3.2) is deel van die “dialoog op weg”, die uitslaan van “intuïsie en voorstelling” se asem “deur die naakte woord”, soos wat Paul Celan se poësie in “Nota 4.3.1” gekarakteriseer word. Dit geld ook Breytenbach s?.

Die aanhaling in gedig 4.3 uit Celan se aanvaardingstoespraak vir die Büchner-prys in 1960 verwoord ’n ander kernidee van die bundel: “die gedig is eensaam en op reis”, maar wesenlik ’n “nie-sê geheimenis van ontmoeting”. Dit is waarom die ontmoeting met die leser en met die digter se verskillende stemme en alter ego’s so belangrik is in die bundel.

In afdeling 4 spreek die digter ook ’n ander grote aan: bra Leonard (Cohen). Die ontmoeting speel af tussen twee pole: die nag van dood en donkerte en die proses van uitdowing. En, asof om die siklus van geboorte en dood te beklemtoon, eindig die afdeling met ’n foto waarop Cohen met pak en hoed in ’n oop venster staan met ’n bakkie eiers langs hom. Onderaan lê ’n dooie voël en ’n dooie vis.

Uit ontmoetings, bewuswordings en verhoudings ontwikkel Breytenbach in afdeling 4 van die aangrypendste gedigte in die bundel. In gedig 4.5, “it is called grieving for the present”, word die afgryslikheid van die dood juis uitgedruk in die deiktiese woorde dit en dié en hier wat deur die leef-en-sterfproses verander in daardie en daar. Gedig 4.8, “ekstasie”, verheerlik die somer – so intens mooi dat “die hart ’n bloederige lotusblom/ bloei in die bors één in die geen-een” en die klip sing van “altyd se nooitweerweesnie” (nog ’n vindingryke sinoniem vir die leegte).

Afdeling 6 is waarskynlik die afdeling waarin beweging, die byna maniese (en magiese) herhalende beweging in taal, die sterkste tot uitdrukking kom. Gedig 6.7, “die gelaat in die spieël”, beweeg van denke na impuls na niks na die maan, die behoefte en die stilte.

Die gedigte ontwikkel deur ’n reeks reperkussies in die onbewuste, soos Paul van Ostaijen die absolute liriek beskryf het. Die proses word in gedig 6.11, “Hopper Hotel”, heel duidelik gemaak: “(damals / hiermaals / hiernamaals / male sonder tal / maar maal / sal jy gemaal word / totdat een maal een twee is)”.

Hierdie beweging is weerspieëling. Selfs al is daar niks in die spieël nie, “is die maan nog daar / holrug gery in die swartniet se knetterende weerskyn” (bl. 113). In ’n pragtige beeld “vervaag die maanoog / gespeld teen die dag se roumantel van blou linne” (bl. 104). Die afdeling eindig met ’n ewe treffende variasie op die Boeddhistiese koan van die maan en water: met die koms van die dag “gloei ’n maanvuurspieël in die poel” (bl. 129).

In afdeling 7, “Handsange”, tref ons die aangrypendste ontmoetings met die skryfmaat, alter ego of die ander aan. In gedig 7.11, “vir die skryfmaat: Ene Nee-Een” voer die digter sy skryfmaat, sy hand, as’t ware op asem en ritme deur ’n reeks gewaagde metafore (’n voorbok, die diep water van ’n rivier, ’n kapokhaantjie, die bundel as miershoop, die hand as slavin) tot by vernietiging wat ook ’n dans is van “weerlewing”. Die spel met maan en pampoen word voortgesit in gedig 7.12 “weer en verweer: maanpoen vir die 16de September 2016 . . .”.

Die afdeling waarin skryf omskryf, maar ook sterk gerelativeer word, is afdeling 8, “ ? Handboek Skryfnotas vir Leser as Saamnaatmaakmaak”. Die bundel bevat talle vindingryke maar teenstrydige uitsprake oor skryf en is hiperbewus van woorde, soos die woordelyste in gedig 9.1, “Die soetpoesiegedig”, en gedig 9.4, “die nagselfie 1”, getuig. “Vir die woordenaar, Woordnar, het woorde nie einde nie” en bowendien is sy raad aan die leser om sy woorde af te skryf as “ou Hoesê Kees se gekoggel en bobbejaanvye” (8.13). In gedig 8.9, “skryfvoorskrif”, raai hy die skrywer aan om duplikate van alles wat hy al geskryf het in “oranje kleedstof” toe te draai en in die dam te gooi sodat die kat dink dit is ’n vis. In gedig 8.3 noem die digter homself geringskattend “Hoesê Boemelaar” en maak “Handsange” af as “ ? kat in die sak”.

Naas die voorblad en die agterblad praat ’n hele reeks foto’s saam in die bundel, meestal sonder byskrifte of kommentaar. Baie van die foto’s is weerspieëlings van lig op water soos met sononder, wat bydra tot die samehang van die bundel. In gedig 8.14, “Mehr Licht! Mehr Licht!” (Goethe se laaste woorde), vorm die foto’s egter deel van die proses van weerspieëling en ontslaap, van lig wat uitdoof oor die water (foto 4) en die oorgang na helderte in die slot: In die laaste foto dans ? groep vroue in helder lig op die strand voor branders wat wit breek. Gedigte oor momente van ligword waarin die wêreld nuut en vars beskou word, is opvallend in die bundel. Breyten het homself immers beskryf as ’n digter van die wakker word.

Al hierdie nagpsalms het egter ’n dieper sin: psao in Grieks beteken om “skoon te vryf” – “soos wanneer ’n nagpsalm blootgelê verwit in die oggendlig” (8.3.1). Ook dit illustreer die wisselwerking tussen die gedigte in die bundel.

Einder in die refrein van 8.14 vorm die titel van die slotafdeling. Dit is ’n einde, maar daaragter lê iets anders – dalk kû? Maar in hierdie afdeling regisseer die digter die ontmoeting met die leser noukeurig. Die eerste klompie gedigte is vol allerhande slimmighede, onder meer ? droom van John Lennon as ’n “oorskietkosdromgrawer” (9.6), maar in 9.11 en 9.12 kom hy by kû uit. Om te verduidelik “dat alles moontlik is en niks sin maak nie” skep hy as’t ware uit ’n skaduwee op ’n vel papier ’n olifant – Langenhoven se Herrie as “olifant in die teks”. Die gedig loop uit op ’n boodskap wat Herrie los “op die ontvangsapparaat van hierdie teks” en wat selfrefleksief al die digter se pogings dekonstrueer.

Daarop volg 9.13, die treurgedig oor die voëltjie wat “hom te pletter kom vlieg het teen die eie synskyn” (bl. 227). Die digter wil dit beskou as die bestemming van die weg na kû, maar sy alter ego verwerp dit. In sy rol as passaat, grensoorgang en dodeformulier resiteer die digter aan die einde van die gedig die slotwoorde van die hart-soetra in Japannees (bl. 229) – deur Breyten voorin vertaal as: “Verby, verby, anderkant verby, heeltemal verby anderkant, o wat ’n ontwaking, alle heil”.

Ná die relativerende ver-beelding van die hemel in 9.14 – deel van die woordvuurwerke, “die bôjanerige pronk-pronk woordspronge” (bl. 151) in die bundel – loop die rouproses oor die niks en die dood uit in ’n ontroerende, verstilde slot (met foto’s van ’n jong Breyten en Yolande daarby): “mooi is mens / en mens is mooi” (bl. 236).

Die bundel is groot en omvangryk – en ook groots in die wyse waarop die ontmoeting met die self, die leser en die grotes bedink word. Dit is ontroerend en ontstellend. Dit is bowenal ? verbluffende demonstrasie van die skeppende mag van die spel met woorde en metafore (ofte wel, permutasie).

Kû is op die ou end leeg, niks of sommer net: koebaai.

  • Hein Viljoen, ’n afgetrede professor in Afrikaans en Nederlands, is tans ’n navorsingsgenoot by die eenheid tale en literatuur in die Suid-Afrikaanse konteks aan die Noordwes-Universiteit.
Meer oor:  Breyten Breytenbach  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.