Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Speur en distopie maak dié roman besonders

Fiksie

Aanspreeklikheid

Jaco Fouché

HUMAN & ROUSSEAU, R285

Jaco Fouché is ’n eiesoortige en produktiewe romanskrywer wat gedebuteer het met Ryk van die rawe (1996), bekroon met die Eugène Marais-prys.

Met Aanspreeklikheid het hy die tweede plek verower in die Groot Afrikaanse Romanwedstryd vir 2018. Die troebel tyd deur Ingrid Winterbach was eerste en die derde prys is verower deur Debbie Loots met Die boek van gelukkige eindes.

Fouché se Verstevlei wen die derde prys in NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd in 2012.

Aanspreeklikheid is ’n besonder boeiende roman oor ’n man, ene Jaco Diehl, wat betrek word by moorde.

Hy woon eers in Hermanus, dan Sandbaai en beland dan in Kaapstad. Hy het ’n vriendin in ’n inrigting, daar is verwysings na dwelms, alkoholmisbruik (die AA) en die verkragting van ’n man deur ’n man.

En dan moord . . .

Die peregrinasieverhaal gemeng met ’n speurverhaal en ’n onbetroubare verteller op die koop toe, maak van hierdie roman iets besonders.

Die peregrinasieverhaal gemeng met ’n speurverhaal en ’n onbetroubare verteller op die koop toe, maak van hierdie roman iets besonders.

Aanspreeklikheid is sowat 250 bladsye lank en ’n mens wil die hele tyd weet wát gaan volgende gebeur. Gaan die moordenaar – eintlik dalk in die meervoud – aan die pen ry? Boonop maak die Bybelse verwysings en voorspellings van swaarkry iets unheimlichs van hierdie roman in hierdie tyd van inperking:

Ons keer terug na ’n tyd van swaarkry. Dis Bybels om so in siklusse te leef. Kyk hoe lank het die Israeliete in ballingskap verkeer.

Ons is nou in die staat van inperking eweneens bewus van ellende.

Maar my geestelike geesdrif is daarmee heen en deesdae is ek die louwarm kos in God se mond wat Hy binnekort sal uitspoeg.

Maar my geestelike geesdrif is daarmee heen en deesdae is ek die louwarm kos in God se mond wat Hy binnekort sal uitspoeg (bl. 156).

Ons het egter ’n skrywende verteller: dus onbetroubaar wat die belewenis en vertelling deurmekaar laat vloei. En boonop is daar ’n verwysing na Georges Simenon se Maigret-speurder wat waarsku dat menslike emosies belangriker sal wees as plot.

’n Skrywer wat ’n roman skryf oor Fouché, die historiese figuur, die hertog van Otranto? ’n Man wat bekend was vir sy agterbakse en revolusionêre optredes. Gaan kyk maar na die geskiedenis met Robespierre en wat hy van die koning gedink het.

Dit is ’n belangrike kode vir ongerymdhede wat in hierdie roman gaan gebeur.

Napoleon se minister van polisie, die slagter van Lyon, is die onderwerp van die verteller se boek, ’n man wat ’n situasie kon lees en bewimpel. Dus ’n konfrontasie met werklike moorde in die hede teenoor koppe wat rol in die verlede.

The Silence of the Lambs staan ook opgeteken as inspirasie in die nawoord.

’n Rekenaar wat oppak en ’n hardeskryf wat uitgewis word, is verdere waarskuwings dat jy nie die verteller op sy woord moet neem nie. ’n Doolhof inderdaad.

En die uitgewer in sy roman beskryf sy werk as die filosofie van die nihilisme. Inderdaad.

En die uitgewer in sy roman beskryf sy werk as die filosofie van die nihilisme. Inderdaad.

Want wat het ’n skoonmaker met karate te make en waarom is Yokio Mishima hier?

“ ’n Mens moet jou ekskursies, soos jou woorde, tel,” waarsku die verteller. En dalk bedoel hy ook jou intellektuele ekskursies?

Die fiksionele uitgewer meen verder die lewe bestaan uit vlakke en lae. En met hierdie roman is dit bepaald die geval.

Die skrywer in die roman spot ook met sy posisie as skrywer dalk as synde “high maintenance vir low returns”? Hiermee word daar kommentaar gelewer op die eise om suksesvol te wees wat die skryfproses mag beduiwel.

In die erkenningslys word daar o.a. na Colin Wilson verwys.

The Outsider en sy studies oor reeksmoordenaars en buitesintuiglike ervarings is van sy werke wat hier na vore kom.

Jack Kerouac se On the Road slaan deur. Wilson het as jong man bedags in biblioteke navorsing gedoen en snags in parke geslaap totdat sy eerste boek ’n blitsverkoper was. Die Beats – soos Kerouac – het die kapitalisme verfoei en in hul skryfwerk ondermyn.

Die werklike skrywer vind kennelik aanklank by skrywers wat die donker kant van die psige ka­rteer, soos Donna Tart in The Secret History en Bret Easton Ellis in American Psycho.

Nog ’n skrywer wat skryf oor ’n storie omdat daar nie ’n storie is nie. Absoluut nie. Hy dupe jou. Hy lei jou om die bos en trek al skrywend sy voetspore dood.

Te laat besef jy dat jy jou in ’n metaroman bevind.

In hierdie tyd beland In the Dream House van Carmen Maria Machado op my lessenaar, ’n roman wat verlede jaar verskyn en internasionaal opslae gemaak het. Hier het ons eweneens ’n skrywer wat agentskap in ’n lesbiese verhouding fiksionaliseer en vanuit verskillende perspektiewe beskou: as American Gothic, as “pathetic fallacy”, as “spy thrill­er” ensomeer.

Vreemd hoe boeke met mekaar in gesprek tree. Twee skrywers op verskillende vastelande wat die verskillende aspekte van lees en skryf ondersoek. Albei voorspel die virus wat ’n hele wêreld tot stilstand gaan ruk.

En ’n verder heerlike stuk ironie: die Amerikaanse karakter besoek Suid-Afrika as jong kind en lewer kommentaar op die landskap.

Aanspreeklikheid bevat apokaliptiese en distopiese elemente. Die nawoord gee belangrike sleutels vir verdere speurwerk in hierdie roman. ’n Mens behoort Skrywersblok (2009) weer te lees wat weens die staat van inperking onmoontlik was vir hierdie leser.

’n Spannende roman wat iewers die draak steek met die letterkunde se beheptheid met speur- en moordverhale tans en wys dat jy helder en toeganklik kan skryf sónder om oppervlakkig te wees.

Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die UK.

Meer oor:  Aanspreeklikheid  |  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.