Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Speurverhale ’n dossier van hoop met unieke stemme

Op die spoor van

Rudie van Rensburg (samest.)

TAFELBERG, R250

’n Speurverhaal moet die bloeddruk ’n bietjie kan opjaag. Hy moet jou die loeiende sirenes, die voeteval van ’n verdagte op vlug laat hoor. Hy moet jou hard tref soos die loop van ’n Beretta sodat jy na jou asem snak.

Tot dusver het die groot menere – Deon Meyer, Karin Brynard en Rudie van Rensburg – die genre grootliks oorheers.

Maar laasgenoemde het besluit om vir gevestigde en jong skrywers die platform te bied om ook die gespesialiseerde mag van misdaadskrywers te betree.

Van Rensburg se samestelling van Op die spoor van: Speur­verhale deur topskrywers is ’n mengelmoes van uiteenlopende stemme wat hy met die vernuf en pre­siesheid van ’n baasspeurder bymekaarskraap.

Die 14 kortverhale deur skrywers soos Brynard, Tertuis Kapp, Kerneels Breytenbach en Van Rensburg self, gaan jou op die spoor en soms in die spoor van die moordenaar sit, met ’n ervare of groentjiespeurder wat die booswig moet vastrek, soos in die geval van Henry Jack Cloete se verhaal, “Vlieg in die salf”.

“Ja, die deep-freeze is geslot en gegrendel, maar wat as ons weer beurtkrag kry en die goed begin ontvries en stink?” wonder die tatoeëerkunstenaar Freddie by homself.

Maar dit is die vonds in daardie deep-freeze wat jou rillings sal gee.

“Later se bekommernis. Klik, die slot gaan oop. Lig die deksel, aanskou my grootste kunswerk.”

En dit is natuurlik die private speurder Sandy Appelgryn wat, ondanks slegte kritiek, die swerkater vang.

“In Suid-Afrika is private speurders mos net comic relief, voor die mánne toetree . . .”

Dalk een van die jongste stemme, maar ook die belowendste, is dié van Frederick J. Botha en sy verhaal, 'Vryheid'.

Dalk een van die jongste stemme, maar ook die belowendste, is dié van Frederick J. Botha en sy verhaal, “Vryheid”.

Kaye, ’n student van Tukkies, dra ’n wrok saam met haar en het moord op die brein as sy dink aan die mans wat haar leed aangedoen het.

“Die afgelope maand is hy ál waaraan sy kan dink. Dit was hý wat daardie aand in haar kop vasgesteek het, die manier hoe hy na haar gekyk het . . .”

En wanneer haar slagoffer op Facebook adverteer dat hy ’n rygeleentheid vir iemand het na Bloemfontein, besef Kaye hy het onwetend in haar web in geloop.

Soos Freddie, die tatoeëer­kunstenaar, het Kaye ook ’n ­waardering vir haar makabere kuns.

“Kaye staan ’n paar treë terug en bekyk haar handewerk. Brendon se kop hang slap teen sy bors. Sy geslag lê weerloos en komieklik in die grond.”

Botha kry dit reg om een van die grootste probleme op Suid-Afrikaanse universiteite aan te spreek, naamlik die verkragtingskultuur. Hy kry dit reg om vir hierdie omstrede onderwerp ’n vreesaanjaende en moordende gesig te gee wat jou in die maag slaan.

Maar die juweel in hierdie bundel is die bekende digter en skrywer Nathan Trantraal se verhaal “Winston”.

Hier kry hy dit weer reg om die Kaapse Vlakte en sy mense vas te vang wanneer hy skryf van die Butcher-moordenaar wat die gemeenskap en sy kinders treiter.

“Coloureds is ve al nie hastag om mekaa se kinnes dood te maakie, dai gebeu meestal omdat hulle nie regyt kan skiet ie. Is eintlik Coloured kinnes wat mekaa doodmaak, die gangstertjies wat hulle soe groot hou. Dais hoekom die Butcher-moorde soe strange was.”

Trantraal kry dit poëties reg om ’n prentjie te skets van hoe so ’n grusame gebeurtenis ’n gemeenskap verslane kan laat.

“Asse community het Coloured mense nie die tyd of experience gehad omme response te develop an iemand wie determinedly biesag was om hulle kinnes te pluk soes vrugte vanne boem af ie, en wie agtena hulle bodies gelos et soes een wie presents los onnerie Christmas-boem, mette boodskappie by en als ie.”

As die een kind ná die ander begin verdwyn en in ruigtes in ’n vlak graf gevind word, is dit sers. Michelle Wakefield se werk om die Butcher-moordenaar op te spoor, maar met min hulpbronne en nog minder opleiding blyk dit of die Butcher gaan wegkom.

So goed soos wat Trantraal die gemeenskap kan vasvang, net so goed kan Johan Jack Smith die Goudveld se myngemeenskap oopskryf in sy verhaal, “Die Goudveld-mamba”.

“Suip, jol, bliksem en karre rol. Heeltemal ’n subkultuur op hulle eie – al hierdie myners. Mens kan seker niks anders verwag nie . . . As ek 3 000 voet onder die grond gewerk het en gewonder het of ek weer daglig gaan sien, sou ek ook seker ’n nuwe Opel Monza of Kadett Superboss gekoop het.”

Hierdie bundel is ’n dossier van hoop met unieke stemme.

  • Jacques Myburgh is ’n vryskutresensent en joernalis by Huisgenoot.
Meer oor:  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.