Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Spiere, vuiste en bomme

Met sy leesbare, goed nagevorste Robey Leibbrandt-biografie wys Albert Blake presies hoe goed hy Suid-Afrika se berugste nasionaal-sosialistiese rebel en die wêreld waarin hy geleef het verstaan, skryf Bill Nasson.

Robey Leibbrandt. Die skrywer maak die punt dat sy byna hondsdol nasionaal-sosialisme eerder neerkom op ’n stryd wat hy vir die Afrikanervolk eerder as vir Duitsland gestry het.

Robey Leibbrandt: ’n Lewe van fanatisme deur Albert Blake. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R260.

Wat het Robey Leibbrandt, Deneys Reitz, Laurens van der Post, Bram Fischer, Etienne Leroux, Hansie Cronjé en Ryk Neethling in gemeen? Almal is oudleerlinge van Grey-kollege in Bloemfontein – ’n skool wat heelwat op sy boekie het.

Wat die fanatieke vuurvreter Robey Leibbrandt betref, kan ’n mens met redelike sekerheid sê hy is waarskynlik die 20ste-eeuse Grey-alumnus wat ons die meeste antwoorde verskuldig is (en dit sluit die voormalige Protea-krieketkaptein in).

Meer onlangse lesers van Albert Blake se werk sou reeds flenters los inligting oor Leibbrandt raakgeloop het in Wit terroriste: Afrikaner-saboteurs in die Ossewabrandwagjare (2018), maar in hierdie vermaaklike nuwe biografie oor Suid-Afrika se berugste nasionaal-sosialistiese rebel vertel Blake die hele boksemdais oor die Springbok-bokser wat te groot vir sy skoene geword en in die 1930’s sy hart op die swastika verloor het.

In dié boeiende verhaal, wat gegrond is op gedetailleerde kennis van die kranksinnige man en die tye waarin hy geleef het, word Sidney Robey Leibbrandt uitgebeeld as ’n eiesoortige karakter van twyfelagtige stoffasie – die soort wat verhale oor sulke rustelose siele besonder pakkende leesstof maak. Die lewe van beroemdes wat vir hulle persoonlike deugde en goeie werk bewonder word, kan immers bra gaapwekkend wees – dink maar aan pres. Woodrow Wilson van Amerika of die heilige Moeder Teresa as jy my nie wil glo nie.

Vir ’n lewendiger, meer driedimensionele lewe benodig jy ’n onderwerp wat histories meer berug is. En as dit by berugtheid kom, klop min Robey Leibbrandt en sy omstrede gedrag. Jy sien hom byvoorbeeld waar hy in 1942 by die hof in Pretoria aankom om tereg te staan op ’n klag van hoogverraad, kompleet met ’n Hitler-tandeborselsnorretjie terwyl hy plegtig na die kamera tuur en die Nazi-saluut gee. Hy lyk soos ’n flambojante akteur wat op die verhoog besig is met sy eie klein Hitler-vertolking. Dan, net voor die gordyn finaal sak op Robey Leibbrandt, sien ons ’n paspoortfoto wat kort voor sy dood in 1966 geneem is en waarop hy soos Wladimir Lenin lyk.

‘Met Leibbrandt het selfbedrog nooit diep onder die oppervlak geskuil nie.’

Hoewel dit vreemdweg ironies kan wees, kan ’n mens dit eweneens as meer as blote toeval beskou. Daar word gesuggereer dat ’n mens nie Robey Leibbrandt van Suid-Afrika kan verstaan as jy nie begrip het van Nazisme en Bolsjewisme nie, net soos ons nie kan verstaan wat hierdie ideologieë beteken het sonder sy versteurde, bombastiese windmakerigheid nie.

Leibbrandt se veglustige ekstremisme is per slot van rekening ’n weerspieëling van die warrelwind-fanatisme van die geskiedkundige era wat hom gevorm en nooit heeltemal verlaat het nie. Aan die einde van dié prikkelende verhaal vind ons uit al het Leibbrandt se ál swakker gesondheid bygedra tot sy finansiële bekommernisse, het hy hom sowaar in nóg ’n gedoemde onderneming begewe, dié keer ’n skryfbehoefte-onderneming in Bloemfontein. Eens op ’n tyd kon hy homself aan die Führer verkoop; nou het hy gesukkel om sy ware aan die Vrystaters te verkwansel.

Toe die onderneming in duie stort, het Leibbrandt presies geweet wie om te blameer. Blake skryf “hy het gekla dat Bloemfontein sy vyand geword het”. Met Leibbrandt het selfbedrog nooit diep onder die oppervlak geskuil nie, en nie lank daarna nie het sy lewe in sy vroeë 50’s tragies tot ’n einde gekom nadat hy in sy groentewinkel op Ladybrand ’n hartaanval gehad het.

Vir ’n atletiese nasionaal-sosialis wat altyd in die “oorlewing van die sterkste”-beginsel geglo het, kon hy basies nie meer oorleef toe hy nie meer fiks was nie.

Heel verstaanbaar lê die krag van dié goed nagevorste storie, wat in 22 hoofstukke en vier tematiese afdelings verdeel is en met treffende familiefoto’s en illustrasies uit die Duitse federale argief opgekikker word, in die bespreking van die dinge wat Leibbrandt sy plek in die geskiedenisboeke verseker het.

Hy duik op in die geskiedenisse van Suid-Afrika en die Tweede Wêreldoorlog, maar ook in wêreldgeskiedenisse oor die oorlog van 1939 tot 1945. Dikwels is hy en Jan Smuts die enigste Suid-Afrikaners wat die indeks haal.

Waar Smuts angstig was oor die pad van die geskiedenis in die 1930’s en ’40’s, het Robey Leibbrandt getob oor sy kanse om die geskiedenis te herskryf. Hoe? Deur ’n enkele skouspelagtige aanslag op sy land as saboteur en agent vir die Duitsers se ondermyningsveldtogte. Suid-Afrika en Ierland, twee politiek verdeelde lande wat kwesbaar was vir ontwrigting, was op Berlyn se radar en is deur die Duitse militêre intelligensiediens, die Abwehr, geteiken.

Sean Russell, leier van die anti-Britse Ierse Republikeinse Leër (IRA), sou een nag in die geheim op ’n Ierse strand uitgeplaas word om onmin te stook wat sou saamval met die Duitse inval in Brittanje.

Operasie Weissdorn, die geheime Nazi-komplot wat vir Robey Leibbrandt uitgedink is, was ’n ewe gek nabootsing en sameswering om Smuts en sy regering met ’n staatsgreep met behulp van die Ossewabrandwag (OB) uit die kussings te lig. Robey Leibbrandt is waarskynlik die volledigste en gesaghebbendste verslag wat ons ooit sal kry oor dié veldtog en sy ellendige nadraai en dit spog met heelwat vars navorsing en insigte.

Russell, wat net so ’n groot prima donna soos Leibbrandt was, se veldtog het skielik en rampspoedig geëindig. Hy het so erg seesiek geword dat hy verstik het en dood is nog voor sy roeibootjie die strand kon haal. Agent Leibbrandt was effe gelukkiger, maar dit het ook nie lank gehou nie. Hy het wel die donker suidelike Atlantiese Oseaan oorleef en die kus van Namakwaland gehaal, maar dit het uiteindelik vir hom en sy plaaslike volgelinge op niks uitgeloop nie. Die warmbloedige intensiteit van Leibbrandt se Vaderland-vertonings was een te veel, selfs vir die heethoofde van die OB. Hy het, in die onvergeetlike woorde van die Engelse romansier Evelyn Waugh in Waugh in Abyssinia (1936), “the fatal flaw of minor fascists” gehad, naamlik om té verlief te wees op sy eie stem.

Soos in ander Geallieerde lande waar voortvarende Duitse geheime agente blitsig uitgesnuffel is, het die owerhede gou ook vir Leibbrandt in hulle visier gehad. Hy het die pad gevat, maar is in Pretoria in ’n hoek vasgekeer en in hegtenis geneem. In 1943 word hy skuldig bevind aan hoogverraad en ter dood veroordeel. Hy het geen vrees of berou gehad nie; Blake haal aan uit ’n Sunday Times-berig van Maart 1943 waarin Leibbrandt se reaksie glo was: “Na die hel met genade! Lank leef die Afrikanervolk! Lank leef nasionaal-sosialistiese Suid-Afrika!”

Smuts was wel te uitgeslape om Leibbrandt tot martelaar te verhef en het sy doodstraf na lewenslange tronkstraf verander. Die geluk was nogmaals aan Leibbrandt se kant toe die Nasionale Party in 1948 die verkiesing wen en hom en sy handjie vol trawante kort daarna vrygelaat het. Maar die groot, belaglike Leibbrandt-drama was oor en verby.

Die res van hierdie besonder leesbare biografie word gewy aan Leibbrandt se ervarings as kind en sy vormende jare. Deur sy lewe te laat ontvou in ’n opeenvolging van spiere en kakie namate hy sukses behaal as gimnas, Springbok-bokser, militaris en polisiebeampte, wys Blake presies hoe goed hy sy onderwerp en die wêreld waarin hy geleef het verstaan. Die skrywer se beskrywings van Leibbrandt se brandende ambisie om in Europa Ariese perfeksie te bereik, sy bedwelmende tyd in Berlyn (vernaam die Olimpiese Spele van 1936), sy betowering deur Adolf Hitler en hoe hy hom by die Nazi’s skaar, sluit verskeie onthoubare stukke en ’n paar heerlike anekdotes in.

Veral interessante leesstof is Leibbrandt wat in 1938 aan die Ryksakademie taamlik gespanne kontak gehad het met Danie Craven, wat later as rugbyadministrateur bekendheid sou verwerf. Aan die meer ernstige kant kry ons stewige verduidelikings oor hoe die anti-Britse en anti-Semitiese wortels van Leibbrandt se ekstreme fanatisisme voor die uitbreek van die oorlog aangewakker is.

Tweedens – en aansienlik bondiger – is Blake se oorsig oor Leibbrandt se laaste jare. Hoewel dié dekades onvermydelik ’n antiklimaks is ná die waansin van die oorlogsjare, het Leibbrandt in allerlei rigtings bly skop en byvoorbeeld sy anti-kommunistiese manifes, Ontwaak Blank Suid-Afrika!, bekend gestel. Soos altyd was hy immer gereed om ’n groot opdrag te aanvaar as Robey Leibbrandt, “die enigste redding van blank Suid-Afrika”.

Die boek eindig met ’n paar bespiegelings oor die aard van sy pro-Nazi-fanatisme. Hier, soos ook vroeër in die boek, maak die skrywer die punt dat Leibbrandt se byna hondsdol nasionaal-sosialisme eerder neerkom op ’n stryd wat hy vir die Afrikanervolk eerder as vir Duitsland gestry het. Gegewe sy vuurspuwende humeur en melodramatiese geaardheid het Berlyn waarskynlik ’n sug van verligting geslaak.

Maar dalk was daar iets vreemdweg Italiaans aan Leibbrandt se allesverterende fanatisme. ’n Mens kan jou maklik verbeel hy is in Pisa eerder as Potchefstroom gebore as Roberto Leibbrandti. Soos wat die geval was met Italiaanse fasciste van die tyd (soos Edmondo Rossoni), was aksie, beweging en chaos die groot dwelm. Watter ideologie daar ook al was, was onafskeidbaar van spiere, vuiste, rewolwers en bomme.

  • Prof. Bill Nasson is verbonde aan die departement geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Biografie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.