Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Sprokie oor ’n ondier

Ondanks die verskyning van ’n monster met ’n aptyt vir mensvleis laat die musikant Wilken Calitz se aweregse debuutroman hom glad nie maklik in boksies plaas nie, skryf Johannes de Villiers.

Swart swaan deur Wilken Calitz. Uitgewer: Umuzi. R260.

’n Sekerheidswag van die Oos-Rand ontdek ’n monster in sy agterplaas – wat gaan gebeur?

Ons is die Oos-Rand dank verskuldig vir Charlize Theron, maar dié streek het ook al ’n paar minder roemryke, treurige verhale opgelewer. Talle van hierdie hartseer gevalle sit in casino’s in Brakpan en Kempton Park waar hulle die dobbelmasjiene voer met die laaste pensioengeld wat hulle by ’n geslote myn verdien het.

Die musikant Wilken Calitz se aweregse debuutroman, Swart swaan, speel af op ’n ongeïdentifiseerde dorp aan die Oos-Rand waar die myne se erts uitgeput is en die dorp se enigste oorblywende “kasteel en tempel” ’n bontbeligte casino op die bult is waar die desperate mense hul dae en nagte deurbring.

Die hoofkarakter, Fabian, werk in die casino as sekerheidswag. Sy spesiale talent is om mooi te praat met mense wat hul laaste geld weggedobbel het en hul eie lewe wil neem. Fabian gesels met mans wat dreig om van ’n balkon af te spring en vroue wat hulself wil skiet, en oortuig hulle om dit nié te doen nie (of ten minste nie op die casino se perseel nie).

Die storie neem ná ’n paar hoofstukke ’n wending waaroor lesers óf verbouereerd óf geamuseerd gaan wees wanneer ’n monstergedaante oornag vanuit die grond in Fabian se agterplaas opduik. Fabian verdoof die gedierte, hou hom aan en leer hom toertjies. Só word die monster gaandeweg vir hom ’n plaasvervanger vir die kind wat hy en sy vrou nooit kon hê nie.

Baie van die karakters in die boek het ’n bietjie van ’n David Lynch-erige gevoel aan hulle.

Mettertyd toon die monster ’n aptyt vir mensvleis. Dit laat Fabian anders dink oor die selfdoodkandidate by die casino wat potensieel ’n maklike bron van monsterkos sou kon wees . . .

Baie van die karakters in die boek het ’n bietjie van ’n David Lynch-erige gevoel aan hulle. Fabian se bondgenoot is Mossie, ’n man wat pas uit die gevangenis vrygelaat is, ’n obsessie met likkewane het en wat daaroor droom om wraak te neem op sy vrou se nuwe kêrel wat in ’n plaaslike supermark werk.

In terugflitse ontmoet ons Fabian se oorlede pa, wat sy seun op ’n vroeë ouderdom aan ontkleeklubs en onwettige mynbedrywighede bekend gestel het.

Swart swaan is ’n moeilike boek om te etiketteer en in ’n boksie te plaas. Ondanks die teenwoordigheid van ’n monster is dit nie ’n riller of ’n spookstorie nie. Dit is eerder ’n soort sielkundige studie van iemand wat gaandeweg sy kop en voeling met die werklikheid verloor.

Die dele wat mens ná die tyd bybly, is Mossie se groeiende verliefdheid op ’n prostituut en Fabian se pogings om met gesteelde geld sy vrou op ’n vaart op die MSC Sym­phony-plesierboot te vat.

Dit sal seker nie as ’n genre deurgaan nie, maar daar het die laaste jare ’n paar romans deur Afrikaanse rockmusikante verskyn oor randfigure wat in die skemerwêreld van moord en smokkelary in stede betrokke raak. Draalnoot vir ’n janfiskaal, die debuutroman van Henry Jack Cloete wat, soos Calitz, lid is van die musiekgroep Die Skynmaagde, het in 2014 verskyn, en so ook Papegaaislaai deur Theunis Engelbrecht van Die Naaimasjiene. Johan Jack Smith se debuutroman, Zola, het verlede jaar in die winkels geland.

As jy van dié boeke gehou het, sal jy ook Swart swaan geniet. Dis gelyk ’n lekker dog weemoedige leeservaring. ’n Tipe Koöperasiestories vir die Oos-Rand. Met ’n monster by.

  • Johannes de Villiers is ’n skrywer en meditasie-en-joga-instrukteur van Stanford. Sy boek Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe het in Januarie verskyn.
Meer oor:  Swart Swaan  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.