Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Sprokies net waar jy kyk

Die Afrikaanse kinderboekrakke kreun weer onder ’n vars besending sprokie- en storiebundels. Magdel Vorster het ’n paar uit die Human & Rousseau-stal onder oë gehad.

Sprokies is superkos vir die verbeelding wat kinders nie net vermaak nie, maar hulle ook help om pyn, vreugde, verlies en eensaamheid beter te verstaan.

Die nimlike Bennie Boekwurm is terug en behoorlik op sy stukke in die vyf klassieke sprokies – “Rooikappie”, “Die skoenmaker-kabouters”, “Die dieremusikante van Bremen”, “Duimelina” en “Sneeuwitjie” – wat opgeneem is in die tweede aflewering van Bennie Boekwurm se mooiste sprokies (R165).

Louise Smit se gemaklike vertelstyl vol ritme en rym word weer perfek afgerond deur Johann Strauss se vrolike illustrasies.

My Storiekis (R285) is ’n versameling van 21 sprokies, fabels, volksverhale en dierestories, oorvertel deur die befaamde Leon Rousseau. Die verhale wissel van Hennetjie Pen wat haar brood gebak moet kry tot ’n minder bekende paddaprins-sonder-soen-weergawe tot tarentale wat kol-kol gedoop word. Die leser vind uit waarom bobbejane vandag nog kaalstert is – en wie ook al Skohommetot en Skolinkelot in die vet kat se maag is, is ’n bysaak. Dis heerlik om dit oor en oor hardop te lees.

Dié allegaartjie is in waterverf deur Linki Lutz geïllustreer. Haar diere is lewendig en vertel saam aan die stories.

Met die huidige uitstekende aanbod van sprokies is dit heel gepas dat daar ook nuwe sprokies met lesse in prenteboekformaat vir kinders tot ses jaar oud verskyn het. Dié vier titels is deur Sue Nicholson geskryf, deur Flavia Sorrentino geïllustreer en deur Kobus Geldenhuys in humoristiese Afrikaans vertaal.

Al vier titels open met dieselfde illustrasie en aanvangsteks: Jan, Aspoestertjie, Sneeuwitjie en Doringrosie woon almal in dieselfde dorpie aan die voet van dieselfde berg, maar elkeen het hul eie boek en alternatiewe sprokie.

In Jan breek die boontjierank (R100), ’n storie oor eerlikheid, is daar geen sprake van ’n koei wat verkwansel word nie en eindig Jan se boontjierankklimmery katastrofies. Die Aspoestertjie in Aspoestertjie se balletskoene (R100), ’n storie oor omgee, droom van danslesse, maar besit nie die regte skoene nie, terwyl Sneeuwitjie al die doele wil aanteken in die alternatiewe Sneeuwitjie-verhaal, Sneeuwitjie, die sokkerster (R100), ’n storie oor spanwerk. In Word wakker, Doringrosie! (R100), ’n sprokie oor verantwoordelikheid, is Doringrosie se prins ’n ponie wat uitputtende versorging vereis.

Esmeralda, die goeie fee, snel die sprokieskarakters te hulp en die onderskeie lesse word speel-speel oorgedra.

Aan die einde van die boeke word besprekingspunte en ’n aktiwiteit ter stawing van elke sosiale vaardigheid gelys vir opvoeders wat meer as die storie gaan nodig hê om die jong boompies te buig.

Met dié huidige aanbod is daar geen rede hoekom kinders van vyf tot nege sonder ’n slaaptydstorie kooi toe moet gaan nie.

  • Magdel Vorster is ’n voormalige kinderbibliotekaresse en eienaar van ’n kinderboekwinkel wat vir oorsese publikasies oor plaaslike boeke in dié genre skryf.
Meer oor:  Kinderboeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.