Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Staan kaalvoet nader

Die byna 40 ‘persoonlike gedinge met God’ in ‘Die braambos bly brand’ is allermins preke en selfs teoloë kan gerus die ore spits, skryf Barend Vos.

Die braambos bly brand: Nie-teoloë se perspektiewe op Bybelversesaamgestel deur Pieter Malan en Chris Jones. Uitgewer: Naledi. Prys: R240.

Hoewel die subtitel van Die braambos bly brand verklap waaroor dit hier gaan, wonder ’n mens tog waar jy dié bundel “perspektiewe” moet plaas en in watter genre dié byna 40 bydraes tuis is.

Is dit opstelle, soos Hunter Kennedy dit wil hê op bl. 87, of essays, soos Rachelle Greeff dit verstaan en toe die aangrypende “Maak jou eie lied” na aanleiding van Habakuk 3:18 geskryf het? Wat van Churchil Naudé se mymeringe (bl. 138) in ’n soms woedende gedagtestroom: “maar al loop ek deur Heidelberg, waar mense hul neus vir my optrek, of al loop ek deur Mitchells Plain, waar ek vir ’n fivebob geskiet kan word, ek sal geen onheil vrees nie; U stok en U staf die vertroos my. My beker loop nie op hierdie oomblik oor nie, want ek het al weer nog ’n job verloor . . .”

Jean Oosthuizen deel ’n meer konvensionele belydenis op bl. 36: “Ek is ’n joernalis . . . maar as ek wonder oor God en die goddelike is dit na skrywers, digters en sangers wat ek my wend om dit wat ek in die Bybel vind wat onbekend, vreemd en onpeilbaar is, beter te begryp.”

Só verwoord elke bydraer op ’n eie manier ’n persoonlike geding met God.

Daar is ook Pik Botha se elegie (“ ’n Herinneringskonsert” na aanleiding van Prediker 3:14) oor sy lewe as diplomaat en politikus; Joan Hambidge se reisherinneringe vol verwondering oor “toeval” (bl. 114); en Nathan Trantraal se onthou op bl. 198 van die ding met pastor Bobby, “ ’n assistant store manager by Joshua Doore en sy ability om furniture te vekoep en mense te convince dat hulle eintlik wil skuld maak het hy saam hom kêk toe gebring . . . Hy het elke Sondag vi Jesus, wat free was, vekoep virrie tiende van die gemeente se salaries elke maand”.

A, die herinneringe! – dít loop soos ’n goue draad deur ongeveer ál hierdie bydraes. Nêrens word dit helderder verwoord nie as in Lizette Rabe se vertelling na aanleiding van Psalm 37:5, “my aannemingspreuk” (bl. 68). Dié vers wat sy dan, verwonderd, keer op keer op haar lewensreis teëkom om dit uiteindelik, grondig geherinterpreteer, vir die res van haar lewe saam met haar te neem.

Een ding is wel seker: Preke is dit nié – in elk geval nie in die tradisionele sin nie. Die naaste aan ’n outydse preek is seker Dawie Roodt se vurige pleidooi vir die nakom van die agtste gebod (“Jy mag nie steel nie”) op bl. 26 waarin hy verklaar, selfversekerd soos ’n ekonoom of ’n seepkisprediker, dat die Tien Gebooie se laaste helfte die eiendomsreg as oorkoepelende tema het.

Dan is daar Riku Lätti se mymering, wat eintlik ook ’n soort preek kan wees, sonder veel vaste oortuigings maar (juis daarom?) vol troos na aanleiding van die kortste vers in die Bybel: “Jesus het gehuil” (Joh. 11:35). “Maak dit werklik saak,” vra hy op bl. 170, “of Jesus se ma ’n maagd was? Dat hy uit die dood opgestaan het? Hoe sal ék weet? Ek was nie daar nie. Ek glo wel dat Jesus gehuil het toe hy hoor sy vriend is dood. Het hy water in wyn verander? Ja, natuurlik. Ek glo dit. Was dit ’n wonderwerk? Ek weet nie, ek was nie daar nie.”

Lätti sluit só af (bl. 172): “As Jesus weer kom, vermoed ek hy sal sy naam verander en homself versteek tussen die gepeupel en die sondaars en wegbly van die vromes en heiliges . . . Ek dink hy sal saam met gewone mense wil leef, goeie dade pleeg, wysheid uitruil, wyn drink en brood breek.”

Só verwoord elke bydraer op ’n eie manier ’n persoonlike geding met God. Soms met vrae, soos dié van Christine Barkhuizen-Le Roux op bl. 193: “Wat, liewe onbegryplike U, wát is goed hieraan? Of moet ek aan U naprater Paulus vra: Wat is goed aan kinders wat ná 19 jaar steeds hul boetie tydens Kersfees mis?”

Die bundeltitel is ontleen aan Wilhelm Jordaan se roerende kommentaar oor God se selfbekendstelling aan Moses by die brandende bos. Op bl. 20 verskaf Jordaan dan waarskynlik ook ’n gepaste gemeenskaplike noemer vir die uiteenlopende klomp skryfstukke waarmee die samestellers denkende Afrikaanse lesers kom verras het: “Dis mos pure mistiek dié: ‘Ek is wat ek is en ek sal wees wat ek sal wees.’ As ’t ware werkwoordelik onvoltooid voortdurend God; immer ontvouend in die nou.” Dan trek ’n mens maar jou skoene uit sodat jy met die verskuldigde eerbied kan nader staan.

En indien jy dalk ’n teoloog of die een of ander voorganger in die kerk is, ’n beroepsinterpreteerder van die Gans Andere se stem, raak jy beslis ook nou van jou toga ontslae. Om ongeïnhibeer te kan luister na wat “die ander” hier sê. Om goed te hoor wat húlle gehoor het.

  • Dr. Barend Vos is ’n skrywer en predikant in die NG Kerk.
Meer oor:  Pieter Malan  |  Chris Jones
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.