Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Stander sprei haar vlerke met magiese trilogie
Carina Stander

Carina Stander se nuwe boek en kunsuitstalling, albei met dieselfde titel, is ’n herontdekking en verkenning van literêre titels en verwysings. 

Die titel stap ook al etlike jare met die skrywer saam.

Die woord “bergengel” het in 2002 om die een of ander rede by haar opgekom toe sy die Skotse Hoogland binnegery het waar sy vir ses maande sou woon.

Terselfdertyd het sy vir die skryf en skets van Die bergengel baie geput uit haar studie vir haar MA-verhandeling toe sy skeppende skryfkuns aan die Universiteit van Kaapstad bestudeer het. Stander keer ook terug na haar studie in visuele kuns.

Die bergengel, uitgegee deur Protea Boekhuis, word op 7 Mei in die Tina Skukan-galery in Faerie Glen, Pretoria, bekend gestel.

Die boek speel in ’n denkbeeldige land Gabriëllië af en elke skets in die uitstalling is ’n aanhaling uit die boek. Die boek bevat geen sketse nie, hoewel Stander die landkaart in die boek, asook die omslag, geteken het.

In Gabriëllië het 13 jaar reeds verloop sedert daar enige teken van ’n bergengel was en die jonger generasie glo byna nie meer in die bestaan van dié mitiese wesens nie.

“In die boek en in my kuns is daar ’n strekking van surrealisme wat ’n neiging is na die wonderbaarlike en ’n verkenning van die onbewuste en onderbewuste van die mens. Magiese realisme verskil daarvan: Dis ’n realistiese uitkyk op ’n werklike wêreld, maar daar is ’n onverwagte verskyning van die magiese of bonatuurlike. In die boek is alles logies verantwoordbaar, maar daar is oomblikke waar die magiese in ’n omgewing verskyn wat baie definitief helder beskryf is as die werklike, reële, tasbare wêreld.”

Wat Stander ook baie opgewonde van dié eerste boek van ’n drieluik maak, is dat dit nie ’n outobiografiese verhaal is nie. Die hoofkarakter is ’n seun wat die leser van sy geboorte af leer ken.

Stelstapper I deur Carina Stander.

Stander beskou die storie as ’n allegorie.

“Een van die mooiste definisies wat ek al van ’n allegorie gelees het, is dat dit ’n uitgebreide metafoor is. So, dis eintlik ’n moewiese lang gedig. Dit is ’n gelykenis. As ek na kuns kyk, is magiese realisme doodgewone oomblikke waarin buitengewone dinge gebeur. Dit is vir my heerlik om daarmee te speel – wat is werklik en wat is nie, watter verrassings is versteek in die storie en die tekeninge.”

Sy het ook reis (wat sy dikwels onderneem) as tema geïntegreer. Sy het baie nagelees oor goed wat by die storie kon aansluit, onder meer baie vakkundige en filosofiese boeke en sy het die Bybel bestudeer.

Sedert die idee van Die bergengel in 2002 by haar opgekom het, het daar baie ander werk uit haar pen verskyn – twee digbundels, ’n roman, talle reisartikels en rubrieke – en sy het twee babas gehad.

“Maar ek het altyd geweet ek gaan die verhaal van Die bergengel skryf. Ek het gevoel die storie is te groot vir my, dis hoekom dit ’n trilogie geword het. Die idee is dat dit 18 maande uit mekaar verskyn. Die basiese verhaal is uitgewerk tot die einde toe, maar natuurlik word ’n mens verryk en volg die karakters hul eie lewe.”

Deur die verloop van die trilogie maak die hoofkarakter, Eron, kennis met al agt die geseëndes wat in die Bergpredikasie van Mattheus 5 genoem word en in elkeen van hulle vind hy iets wat hy van homself wil deel maak, byvoorbeeld hoe om te treur en te troos, hoe om te honger en dors na geregtigheid vir sy land.

Die bergengel verken ook die verskillende rolle wat digters vertolk.

“My MA-verhandeling in 2005 het oor die digter as profeet in Afrikaanse digkuns gehandel. Die digter-profeet het verskillende rolle vertolk en daardie einste take of rolle het ek aan die bergengelkarakters toevertrou, byvoorbeeld om ’n konfronteerder, voorloper, tussenganger en skriba te wees.”

Die omslag van Die Bergengel, die eerste aflewering in ’n trilogie deur Carina Stander.

Tog is daar verskille tussen die bergengel en die digter-profeet: Bergengele word óf gehaat óf verafgod en daarom moet hulle altyd anoniem optree, in die geheim. Dis ook ’n aanhaling in die boek: “Die boodskap is belangriker as die boodskapper, soos die gedig langer leef as die digter.”

“Die boek speel in op die tradisie van antieke Joodse geskrifte soos Die boek van Henog. Kahlil Gibran se The Prophet en Dante se Inferno maak ook deel uit van die intertekstuele weefwerk. Christus se Bergpredikasie in Mattheus 5 het my op die spoor gebring van Leo Tolstoi se filosofiese verhandeling, The Kingdom of God Is Within You (1894). Dit is in Rusland verban, maar het die weg gevind na Mohandas Gandhi en gelei tot die niegewelddadige weerstandsbeweging satyagraha wat ook in die verhaal betrek word.”

Stander keer in die gesprek terug na die interpretasie van magiese realisme: “Vir my is dit asof die alledaagse heilig word en die heilige word alledaags. Amper alles het die potensiaal om alledaags en heilig te wees. Metaforiese taal laat ’n mens toe om dit te doen. Metaforiese taal en metaforiese kuns is eintlik draers van hoop omdat dit moontlikhede van realiteit ondersoek wat voorheen onmoontlik gelyk het.”

Die uitstalling open Sondag om 11:30 en duur tot 1 Junie.

Matthys Boshoff sal by die uitstalling die boekgesprek met Stander lei.

Die adres: Hoewe 6, Koedoebergweg, Faerie Glen, Pretoria.

Bel 012 991 1733 of stuur ’n e-pos aan Rex Nigrini by rex@tinaskukangallery.co.za vir meer inligting.

As jy op jou eie gaan, sal jy boonop jouself vind deur Carina Stander.
Meer oor:  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.