Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Stephen Gray sterf ná beroerte

Stephen Gray (78), skrywer, digter en letterkundige, is Donderdag in Johannesburg dood.

Hy het onlangs ’n beroerte gehad.

Stephen GrayFoto: Athony Akerman

“Hy is laas op 7 Oktober in sy woonstelkompleks in Killarney gesien,” sê Henk Tredoux, ’n jarelange vriend.

“Dis onseker presies wanneer hy die beroerte gehad het, maar die opsigter van die woonstelkompleks het my laat weet dat hulle hom lanklaas gesien het. Hy het op ’n dag nie sy wasgoed soos normaalweg uitgesit het. Ek het my toestemming gegee dat die woonstel oopgesluit mag word en Stephen is daar aangetref. Hy is in die Milpark-hospitaal opgeneem. Daar is ook ontdek dat hy prostaatkanker het – reeds in fase vier.”

Gray sou Vrydag na die hospies in Houghton oorgeplaas word.

“(Iemand van) die hospitaal het my gisteraand (Donderdagaand) gebel en gesê hy gaan vinnig agteruit. Ek dink hy moes geweet het van die kanker. Vriende wat onlangs saam met hom uit was vir middagete sê wel hy het nie gelyk soos iemand wat kanker het nie.”

Tredoux het hom Donderdagmiddag in die hospitaal besoek.

“Snaaks genoeg het hy toe die beste van al die kere gelyk wat ek hom daar gesien het.”

Gray is die skrywer van romans en onder meer die biografie Life Sentence: A Biography of Herman Charles Bosman oor dié skrywer van die Groot-Marico.

Hy was ook ’n gepubliseerde digter en kortverhaalskrywer.

Hy is op 30 November 1941 in Kaapstad gebore en het aan St. Andrews in Makhanda (destyds Grahamstad) skoolgegaan en aan die Universiteit van Kaapstad (UK) gestudeer, later ook aan die universiteite in Cambridge in Engeland en Iowa in Amerika.

Hy het in 1992 as professor in Engels aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (nou die Universiteit van Johannesburg) afgetree.

Hy was die redakteur van klassieke Suid-Afrikaanse tekste se heruitgawes, soos Jock of the Bushveld deur sir Percy Fitzpatrick en Traveller to the East deur Thomas Mofolo.

Benewens sy biografie oor Bosman het Beatrice Hastings: A Literary Life ook die lig gesien.

Gray se debuutroman, Local Colour, het in 1975 verskyn.

Darryl Accone, ’n goeie vriend van Gray, sê: “Gray het met voortreflikheid, nadruklikheid en vernuf aan weerskante van die letterkunde gestaan: as skrywer en as kritikus. Hy het gereeld vir Weekly Mail, sowel as sy opvolgpublikasie Mail & Gaurdian, geskryf. Sy joernalistiek het uit letterkunde, reis en literêre ondersoekartikels bestaan.

“Vir Suid-Afrikaners lê die rykdom daarin dat Stephen Gray se omvattende literêre nalatenskap in sy magdom boeke gevind kan word. Gray en sy woorde sal nooit sterf nie.”

Tredoux, wat op universiteit in die 1980’s by hom klas gehad het, sê Gray het as Engelssprekende vir hom meer van sy eie kultuur geleer as sy eie mense.

“Hy was wyd belese in Afrikaans. Ek is saam met hom na Wuppertal. Hy het ’n slypskool oor Bosman in Groot-Marico aangebied. Ons het na soveel herdenkings van veldslae gegaan.

“Jy het altyd geweet waar jy met hom staan. Moderne tegnologie het hom dwars in die krop gesteek. Hy was mal oor reis en navorsing. Vir hom het navorsing beteken jy besoek die argiewe. Hy het nie toegang tot YouTube gehad nie, maar die laaste ding wat ons saam gekyk het, was ’n video oor die dood van Shaka op YouTube op my foon.”

Hy het ’n goeie sin vir humor gehad.

“Maar jy moes hom goed ken om werklik sy humor te verstaan. Hy het altyd die draak gesteek met die politiek.”

Hy was lief vir flieks. Hy het onlangs nog na die Rosebank-winkelsentrum gery om ’n fliek te gaan sien.

“Vier weke gelede het hy nog op sy eie na die Walter Sisulu Botaniese Tuin aan die Wes-Rand gery om na die arende te gaan kyk. Hy het ’n groot belangstelling in die natuur gehad.”

Stephen Gray

Die digter Johann de Lange het Gray in die 1980’s ontmoet.

“Ek was in my vroeë 20’s en het een keer saam met John Kannemeyer by Stephen aan huis gekuier. Stephen het vertel oudpres. FW de Klerk is in daardie huis gebore. Hy het in daardie stadium twee Britse gay skrywers op besoek gehad, baie camp. Die een se naam was Francis King, die ander een het my ontglip. Ek wil my verbeel ek het dié staaltjie in Vreemder as fiksie (De Lange se kortverhaalbundel) verwerk, maar in watter verhaal weet ek nie. Stephen het my ook ’n keer of wat genader vir Engelse vertalings van Afrikaanse verse. Hy was ’n liewe mens, onskadelik, ’n regte jintelman.”

Die dramaturg en akteur Paul Slabolepszy skryf op Facebook oor sy jarelange vriend:

“Stil en pretensieloos. Hy was ’n literêre reus met ’n omvattende liefde vir Herman Charles Bosman.”

Slabolepszy het opgetree in Gray en Barney Simon se toneelstuk Cold Stone Jug, gegrond op Bosman se gelyknamige boek, wat handel oor sy tyd in aanhouding in die Pretoria-Sentraal-tronk.

“Dit was een van die hoogtepunte van my akteursloopbaan. Stephen was ’n wonderlike vriend en was altyd beskikbaar vir ’n geselsie oor die kuns en vakmanskap van storievertel. Mag jou reis steeds glorieryk wees, Stephen. Ek sal daardie ondeunde grinnik mis en die vonkel in jou oog. Jou entoesiasme, jou aanmoediging en jou diepe liefde vir teater.”

Die satirikus Pieter-Dirk Uys beskou Gray as sy mentor.

“Hy was die eerste persoon om my by te staan in die slagveld van verbannings. Dit was in 1976 en ek sit met twee dramas wat onwettig verklaar is. Hy’t ’n paar woedende woorde uitgespoeg, hard gekekkellag en my aangemoedig om my moed en my pen op te tel. Syne was altyd die eerste oë op ’n nuwe teks. Die detail in sy kritiek was noodsaaklik en opbouend. Sy breë sin vir humor was aansteeklik. Sy onafhanklikheid uniek en iets om na te strewe.”

Uys sê Gray is dood sonder ’n rekenaar, selfoon of sosiale media.

“Net uiteindelik ’n antwoordmasjien omdat ons daarop aangedring het, want ons wou boodskappe los!”

Uys onthou Gray was altyd aan die werk, lees en skryf. “Hy het elke plaaslike teaterstuk gesien, elke fliek met subtitels gekyk, elke nuwe boek gelees. Uit al ons skrywers met ons tegniese komper-vaardigheid, het hy nooit ophou skryf nie en tog meer gepubliseer as meeste van ons.

“Net omdat hy nou êrens anders skryf, beteken nie dat ek nie met elke sin sal wonder: wat sou Stephen hiervan dink? Ons land se woorde sal maerder word sonder die kos van sy toewyding.”

Tredoux onthou Gray se stappies deur Killarney.

“Hy sou my altyd vertel hoe mooi die jakarandas bot. Ek het hom dan vertel van die mooies in Pretoria, maar hy sou altyd sê dié by hom is die mooiste. En nou het die jakarandas daar begin bot. ’n Mens wil amper sê die jakarandas het net vir hom gewag.”

Hy was twee keer getroud en het geen kinders nie.

Meer oor:  Johann De Lange  |  Stephen Gray  |  Pieter-Dirk Uys  |  Johannesburg  |  Skrywers  |  Boeke  |  Letterkunde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.