Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Sterk debuut oor ras, klas

Fiksie

Such a Fun Age

Kiley Reid

BLOOMSBURY, R295

Beriggewing oor rassistiese optrede, hetsy op ’n Kampsbaai-strand of in ’n winkelsentrum in Kempton Park, verskyn soos ’n onwelkome familielid op ons nuustoevoer.

Dank vader die Amerikaanse skrywer Kiley Reid se wegholsukses, Such a Fun Age, gaan nie ook oor voorvalle soos dié nie. Dit takel wel ’n meer subtiele vorm van rassisme, een wat stewig en sluimerend gewortel lê in samelewings en op die lange duur meer skade aanrig as enkele dommighede.

Emira Tucker is ’n 25-jarige, swart Amerikaanse vrou in Philadelphia wat, totdat sy besluit op ’n loopbaan, kinders oppas om kop bo water te hou. Aan die teenoorgestelde kant van die spektrum sit Alix (voorheen Alex) Chamberlain, ’n vermoënde wit Amerikaanse influencer wat haar tyd in koffiewinkels verwyl en ’n boek oor haar aanlyn wedervaringe probeer skryf.

Anders as die stereotipiese ouer swart vrou, beeld Emira ’n jonger, meer hip generasie van kinder­oppasser uit.

Dié twee vroue het een gemene deler, Alix se driejarige dogter. Emira en Briar se hegte verhouding in teenstelling met Briar se gebrekkige een met haar ma is ’n situasie wat reeds eeue afspeel in Amerika en elders in die wêreld. Een waar welgestelde families die belangrike verantwoordelikheid van ouerskap delegeer na iemand van ’n laer klas wat nie regverdig betaal of behandel word nie. Anders as die stereotipiese ouer swart vrou, beeld Emira ’n jonger, meer hip generasie van kinder­oppasser uit. Dis ook ’n generasie vir wie die toekoms, veral in terme van werksekerheid, nie belowend lyk nie.

Wanneer Emira een aand laat noodgedwonge na Briar moet omsien en sy haar vir tyd en wyl na ’n nabygeleë supermark neem, word sy deur ’n veiligheidswag beskuldig van ontvoering. Alhoewel die situasie ontlont word deur Alix se man, Peter, neem ’n bystander ’n selfoonvideo van die onderonsie. Die voorval beklemtoon die skreiende kontras tussen Alix en Emira se realiteit en skud Alix uit haar oppervlakkige wêreld van Instagram, geborgde geskenke en verveelde yummy mummies. Oordrewe skuldgevoelens oortuig haar dat Emira haar nuutste projek en beste vriendin moet wees, maar haar oënskynlike goeie bedoelings lê eerder gevestigde maatskaplike vooroordele en optrede bloot. Daarbenewens begin sy ’n verhouding met Kelly Copeland, die persoon wat die supermark­video afgeneem het en brand om namens haar die onregverdigheid daarvan te verkondig. Die tema van die misplaaste white saviour-kompleks is een wat telkens opduik.

Such a Fun Age se speelse omslag, ironiese titel en informele skryfstyl is misleidend. Met die eerste oogopslag lyk en lees dit lig en moeiteloos, maar as jy dieper kyk, sal jy die kompleksiteit van verhoudings tussen ras en klas raaklees en selfs herken.

Sonja van der Westhuizen is ’n vryskutresensent van Stellenbosch.

Meer oor:  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.