Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Sterk storie vol ‘lokbokkoms’

Die leliemoordenaar

Lerina Erasmus

HUMAN & ROUSSEAU, R275

Kaptein Danny Hector word van die Kaap af ingevoer om die Gautengse speurders te help om ’n reeksmoordenaar vas te trek. Sy’s die beste speurder in die land. Selfs die FBI vry na haar, al vries sy elke keer as sy iemand moet skiet.

Die Klipmoordenaar, soos die media hom noem, laat nie eens die kleinste stukkie DNS agter nie. Die klein grafsteentjies wat hy wel agterlaat, bied ook nie antwoorde nie. Verder is sy slagoffers so uiteenlopend dat daar van ’n patroon geen sprake kan wees nie. Sy modus operandi is van die gruwelikste wat ek nóg in ’n moordstorie gelees het – lekker!

Nie net moet Hector haar storie ken nie, sy moet ook ’n nuwe speurspan saamstel en oortuig om saam te werk. Haar eksman probeer terselfdertyd met vuilspel hul kind afrokkel. Asof sy nie genoeg hooi op haar vurk het nie, begin dit lyk of die moordenaar haar ken . . . Om die saak op te los, moet Hector teruggaan na 1985, ’n jaar wat sy glad nie wil oopkrap nie, want dis die jaar waarin haar pa selfmoord gepleeg het.

Die leser weet uit die staanspoor wie die moordenaar is en dat hy met ’n streng kalender werk. Ek wou kreun elke keer as die speurspan ’n lokbokkom opvolg en ’n ware leidraad miskyk. (Terloops, ek soek al lank na mooi Afrikaans vir “red herring” en lokbokkom kom uit dié boek.)

Die spanning bou op tot ’n groot konfrontasie. Gaan Hector kan skiet as dit nodig is? Wat die vraag nog komplekser maak is dat die moordenaar se gebrokenheid, die kykies in sy kop en die terugflitse na sy verlede van hom ’n mens maak, nie net monster nie. Hy wreek hom op die mense wat van hom ’n monster gemaak het en die leser kan nie help om sy bevrediging in sy laaste moordpoging te deel nie.

Erasmus het uitstekende navorsing gedoen en die details rondom die moordinstrumente, recces, die donkerste kant van die apartheidsregering en die Bosoorlog in Angola is fassinerende agtergrond. Ook die feite rondom amarillis-bolle – plante wat vir die moordenaar groot betekenis dra – was baie interessant. Ek het sommer een gaan koop wat nou in my kombuis pryk. Ek gaan net nie myne bemes soos die moordenaar syne bemes het nie. Gaan koop die boek om uit te vind hoe.

Helen Schöer is ’n vryskutresensent van Johannesburg en redakteur van Baba & Kleuter.

Meer oor:  Misdaadfiksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.