Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Stert swaai effe die hond

Dominique Malherbe se simpatieke speurtog na die “ware Saartjie”, oftewel haar groottante Sarah Goldblatt, is ’n boeiende boek oor ’n fassinerende karakter, skryf Chris van der Merwe, maar dit is juis in hierdie soektog dat daar soms geforseerde interpretasies en verbandleggings voorkom.

Op soek na Saartjie: Langenhoven se geheime liefde deur Dominique Malherbe. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R320.

Toe Dominique Malherbe begin belangstel daarin om ’n boek te skryf oor Sarah Goldblatt, haar oupa se suster, is sy aangeraai om eers J.C. Kannemeyer se biografie Langenhoven: ’n Lewe (1995) te lees. Vir Malherbe, wat Engelssprekend is en min van die Afrikaanse letterkunde geweet het, was die studie van Kannemeyer ’n openbaring en ’n verdere prikkel om ’n boek oor haar groottante te skryf.

Sy was oortuig dat Sarah of Saartjie, soos sy algemeen bekend was, deur Kannemeyer verontreg is, en was vasbeslote om die ware verhaal van Sarah te vertel.

Daarvoor het sy ’n geweldige hoeveelheid navorsing onderneem: ’n magdom briewe uit die Langenhoven- en Goldblatt-versameling gelees, onderhoude gevoer, boeke nagegaan en die verhandeling van Leonie van Zyl wat handel oor Sarah se bydrae tot die Afrikaanse literatuur geraadpleeg.

Sy wou veral drie regstellings maak by wat Kannemeyer geskryf het: oor Sarah se organisering van die Langenhoven-eeufees; oor Sarah se verhouding met Engela, Langenhoven se dogter; en oor Sarah se laaste dae.

Kannemeyer beskuldig Sarah daarvan dat sy met die eeufees al die kollig op haarself wou laat val, terwyl Malherbe oortuigend aanvoer dat dit vir Sarah steeds om Langenhoven gegaan het; dat sy slegs wou verseker dat Langenhoven vereer word soos sy dit wou hê.

Ek weet “toevallig” dat dié huisdokter my broer, C.P. van der Merwe, is. Hy is gebore vier jaar ná Langenhoven se dood; beslis nie Sarah se kind nie!

Ook oor Sarah se verhouding met Engela bring Malherbe ’n aanvulling. Kannemeyer fokus op een onderhoud wat met Engela gevoer is waarin Engela baie negatief oor Sarah praat; Malherbe skets ’n ander prentjie uit die briefwisseling tussen Sarah en Engela.

Verder skryf Kannemeyer oor die “waansin” wat Sarah aan die einde van haar lewe getoon het; Malherbe erken dat Sarah in dié tyd uiters depressief en moeilik was, maar met behulp van aanhalings uit Reisiger (2009), die tweede volume van Elsa Joubert se outobiografie wat heelwat inligting oor Sarah bevat, gee sy ’n meer simpatieke beeld van die sterwende vrou.

Op soek na Saartjie beeld Sarah Goldblatt op ’n deerniswekkende wyse uit.

Sarah het ’n moeilike verhouding met haar pa, David, gehad, en daar is selfs sprake daarvan dat hy haar gemolesteer het (bl. 68). Wanneer hy na die VSA emigreer is daar geen kontak meer tussen hom en Sarah nie.

Met die vertrek van haar biologiese pa tree Langenhoven haar lewe binne as ’n alternatiewe vaderfiguur. David het ’n groot belangstelling in sy moedertaal, Jiddisj, gehad, en meer as een boek daaroor geskryf. Langenhoven is, soos David, geesdriftig oor sy moedertaal en hy maak van Sarah ’n kampvegter vir Afrikaans, net so ywerig soos hyself. Malherbe stel dit so (bl. 68): “Dalk het sy Kaapstad verlaat om van hom [haar vader] weg te kom, om haar in ’n taal te verdiep wat nie haar eie of syne is nie. En dalk het sy vertroosting gevind in ’n surrogaat-vaderfiguur met ’n passie vir taal, wat haar in ’n Afrikaner soos hyself verander het.”

Sarah werk vir ongeveer twee jaar as Langenhoven se assistent by die Oudtshoorn-koerant Het Zuid-Westen, en wanneer die koerant sluit, bly sy steeds betrokke by die versorging van sy skryfwerk. In die briewe tussen Langenhoven en Sarah noem hy haar “Sub” en sy noem hom “Chief”, maar uit die briefwisseling word dit duidelik dat daar veel meer as ’n werkverhouding tussen hulle was.

Sarah “was reddeloos verlief op Langenhoven. Sy het 20 jaar van haar lewe aan hom gewy terwyl hy gelewe het – en nog 42 daarna, tot haar eie dood”, skryf Malherbe op bl. 109. Haar hele lewe was op hom gefokus – eers as sy werknemer en geliefde; later as die eksekuteur van sy literêre nalatenskap. Steeds bemoedig en ondersteun sy hom, ook in sy tye van alkoholisme en depressie. Maar uit die briewe blyk ook die plek wat sy in Langenhoven se lewe ingeneem het.

“Ek mis jou van die oggend tot die aand elke uur van die dag,” skryf hy aan haar (bl. 94). By tye is daar feitlik daagliks ’n korrespondensie tussen hulle en daaruit blyk dit hoe besitlik Langenhoven teenoor haar was.

Meer as een keer is daar sprake van iets wat tussen hulle gebeur het waaroor hulle nie mag skryf nie. So byvoorbeeld skryf Langenhoven op bl. 104: “Maar ek kan nie vir jou skryf nie want oor die een ding waar my hart van vol is moet ek nie skryf nie.” En later, op bl. 105, in dieselfde toon: “Daar is nie ’n ding wat ek sou kan sê nie of ek moet stilbly daarvan.” Op grond daarvan, en op grond van wat verskeie familielede gesê het, lei Malherbe af dat daar ’n kind uit die verhouding gebore is waaroor hulle nie mag praat nie.

Dit is eintlik ’n dubbele verhaal wat in die boek vertel word: die verhaal van Saartjie en die verhaal van Malherbe se soektog na die “ware Saartjie”. Dit verloop soos ’n speurverhaal, met ’n speurtog wat telkens nuwe inligting oplewer, sowel as nuwe raaisels waardeur die leser meegevoer word. Een van die skrywer se dryfvere is om meer oor die verlore kind uit te vind. Dit is in hierdie soektog dat daar soms geforseerde interpretasies en verbandleggings voorkom.

Malherbe gee ’n vreemde interpretasie van ’n raaiselagtige gedig. Dit is ’n gedig in Langenhoven se handskrif, met verbeterings wat hy aangebring het. Malherbe sê dit nie direk nie, maar dit kom voor sy dink dat Sarah in werklikheid die digter is, en gee dan op bl. 207 ’n sentimentele interpretasie daarvan – dat dit handel oor ’n kind wat weggegee is, “gegroet, vir die laaste keer, met ’n soen en ’n traan”.

Maar dit is duidelik dat die gedig handel oor iemand wat werklik dood is, en die spreker kyk na sy grafsteen. Die gestorwene was ’n skrywer, nie ’n kind nie: “Sy stem swyg ewig stil / Maar in sy werke leef sy woorde voort.”

Dikwels kan sy haar afleidings slegs op familiegerugte grond. So is daar ’n gerug dat die kind van Sarah en Langenhoven ’n dokter Van der Merwe is. En dan hoor sy wie die dokter is wat vir Sarah in Kaapstad versorg het (bl. 202): “Eienaardig genoeg het ek juis vandag in Kannemeyer gelees dat die huisdokter wat Sarah versorg het net voordat sy na die inrigting in Oranjezicht gegaan het, dr. C. van der Merwe was. Toeval?” Ek weet “toevallig” dat dié huisdokter my broer, C.P. van der Merwe, is. Hy is gebore vier jaar ná Langenhoven se dood; beslis nie Sarah se kind nie!

Ook onoortuigend is die stelling dat Sarah se familie gely het as gevolg van haar rol in die eeufeesviering. Malherbe skryf Sarah se broerskind Naomi is die rug gekeer, maar in dit wat dan van Naomi aangehaal word ter stawing van die stelling is daar geen blyke dat sy ’n slagoffer van verwerping was nie (ble. 182-183).

’n Redakteur behoort darem die volgende growwe fout op bl. 173 raak te gesien het: “Anna Louw (skrywer, dogter van M.E.R.)” Dit moet natuurlik “Anna Rothman” wees (skrywer van natuurkundige verhale vir kinders). Anna M. Louw is ’n bekende skrywer en nie aan M.E.R. verwant nie.

Op soek na Saartjie is ’n boeiende boek oor ’n fassinerende karakter, maar in haar ywer om ’n simpatieke beeld van Sarah te gee word Malherbe soms tot ongegronde afleidings verlei.

  • Chris van der Merwe is emeritusprofessor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.