Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Steve spin ’n lekker storie

Met ‘Die kwesbares’, sy derde Sluiper-roman, wys Steve Hofmeyr hy kén die misdaadrillergenre. Maar bowe als is sy doel eenvoudig: om ál pronkend en pierewaaiend ’n storie te spin wat lees weer lekker maak, skryf Jean Meiring.

Die Kwesbares: ’n Sluiper-roman deur Steve Hofmeyr. Uitgewer: Zebra Press. Prys: R210.

In wie anders as Steve Hofmeyr se broek sit dit om suutjies-suutjies die p**sboekie van ouds te laat herleef? En dít nogal in ’n tyd waar gender ’n reënboog geword het en brose jongelinge op beskutting teen byna als aanspraak maak – veral teen uitgediende en aanmatigende gebruike en idees.

Kort op die hakke van die netjiese klein boekies Die onaantasbares (2017) en Die Lucky Strike (2018), wat ’n volgroeide man van so ses voet in sy sokkies knus in die palm van sy hand kon vashou, tree die derde Sluiper-riller in gelid.

Voor televisie sy opwagting gemaak het en toe die wêreld deur slegs manhaftige mans en meesal fraaie meisies bewoon is, was Mark Condor en die Ruiter in Swart twee van die grootste helde wat die fotoboekgenre in Suid-Afrika rasend gewild gemaak het.

Wydsbeen en stokkig het hulle die kamera se blik vól gestaan en hulle pad van die een raampie na die ander geskop-skiet-en-donder om die boewe te uitoorlê, om die Kruger-miljoene op te raap en die weerlose blondine in die nok van hul arms in ’n beskermde greep te koester.

Maar tussen die mannehelde was daar natuurlik ook die rysige Tessa. In ’n tyd van strenge sensuur het die kamera telkens dié geëmansipeerde heldin se lang bene boontoe gevolg – waar die ademlose Suid-Afrikaanse leespubliek van toeka waarskynlik ’n puntige ster sou verwag het. Vir kabouters had Tessa min geduld. Ál bultend en pruilend besorg sy byna eiehandig aan die alomteenwoordige fotoboekies hul slaapkamernaam.

As dit by dié klas van ding kom, is dit nou maar eenmaal wors. Selfs die neebroers moet vir Hofmeyr ’n voldonge ja gee.

Die klok draai vorentoe. In Hofmeyr se vernuftige hande kom dit so ruweg in die hede te ruste. Die vreesaanjaende wedervaringe wat die naamlose en deels gesiglose Sluiper in die vorige twee boeke beleef het ten spyt, is hy sinies en uitdagend wéér op die been.

Maar dis sy bék wat jêm kort. Anders as in die eerste boek, waar die Sluiper die vertellersrol met ’n alsiende derdepersoonsverteller deel, is die Sluiper hiér, soos in als behalwe die eerste hoofstuk van Die Lucky Strike, heeltyd aan die woord.

Dis derhalwe deur sý dikwels goedgelowige oë dat die leser die verhaal sien ontknoop. Én weer vir Tes, die harpspelende plaasmeisie met wie hy al sedert boek een in ’n gevaarlike kat-en-muis-spel gewikkel is, in die visier kry. Die kwesbares se doek vou immers met die onwaarskynlike vooruitsig oop dat die Sluiper en Tes hul skrede Mauritius-waarts sal wend – om happily ever after rus en stilligheid op te soek.

Op pad lughawe toe doen hulle by die Sluiper se bergingshokke in Honeydew aan en die leser word gou herinner dat die bekoorlike Tes ’n palimpses is wat oor die fotoboek-argetipe Tessa lê (bl. 31): “Daar was nie tyd vir koer en liefkoos nie. Klaarblyklik ook nie vir ontklee nie. Sy het haar ligblou blommetjiesrok tot op haar heupe gerol en met haar regterhand haar broekie voor die paradys weggetrek…”

Maar die lughawe sien hulle nooit nie. Die Veearts van Baia Farta, húl Kubaan, sal dit nie toelaat nie. En later moet die Sluiper, sonder ’n oordosis ironie of selfkennis, dít laat val (bl. 204): “Ek ken ’n heuninggesmeerde lokval.”

Albei vorige Sluiper-boeke het ek vir Rapport onder die loep geneem en lofliedere daaroor aangehef. As dit by dié klas van ding kom, is dit nou maar eenmaal wors. Selfs die neebroers moet vir Hofmeyr ’n voldonge ja gee. Van die opbou van ’n slim en telkens verrassende intrige en van die handhawing van ’n snelle tempo kan ’n mens hom weinig leer.

Soos die vorige twee boeke bestaan nommer drie ook uit kort en blitsig afgevuurde hoofstukke waarin Hofmeyr met ratse hale die toneelinkleding doen en dán sonder omhaal óf skroom sy karakters in die maalstroom dompel.

Hy ken die genre soos die palm van sy hand. Langs die weg vernuwe hy dit en stuur dit soms ’n bietjie op. Maar bowe als is sy doel eenvoudig: om ál pronkend en pierewaaiend ’n storie te spin wat lees weer lekker maak. Om in ’n tyd waar mense aan flitsende skerms vasgenael sit ’n beskeie wonderwerkie te skep: ’n klein papierboekie waarvan die bladsye as’t ware hulself voosblaai.

Want, as lesers die spel speel en hul ingegreinde twyfellus ophef, sal hulle gewoon nie weet wat om die draai wag nie. Of nee: As een ding vasstaan, is dit dat hulle sál weet daar wag om elke hoek en draai ’n verrassing. En húlle kan nie wag nie.

Maar soos die titel dalk wil suggereer is daar in dié derde aflewering ’n merkbare verdieping in Hofmeyr se karaktertekening. Al is daar nog baie genre-getroue tonele waar die karakters hulle in tekenprentgeweld verlustig – liggaamsdele wat vergruis en oë wat versuur word – kom die Sluiper hiér veel meer lewensgetrou en kwesbaar as tevore uit die verf. Dís deels weens die stadiger, meer realistiese tonele wat tussen die frenetiese aksie ingebou is én die Sluiper se vriendskap met Sherman de Villiers, sy MacGyver-agtige steunpilaar.

Hofmeyr se aanspraak om ’n plek aan die opvoutafel van die ernstige Afrikaanse letterkunde – wat hy reeds in sy vorige romans en kortverhale gemaak het – is ook hier te bespeur.

’n Duidelike voorbeeld is die vernuftige goëlary met parallelle openingstonele, wat ’n brug vanuit die Kalahari moet span, waar Die Lucky Strike bloedgietend afgesluit is. So ook die behendige wyse waarop karakters, storielyne en motiewe uit die vorige twee boeke opnuut hier opgeneem of sagkens geëggo word, byvoorbeeld Tes se broekie wat soos ’n mitologiese sirene blý fluister (bl. 209).

En Hofmeyr se grootste waagstuk? In die lig van sy ongelukkige openbare persona waarskynlik die oproep van ’n behoorlik outydse mannewêreld wat die broses onder sy lesers oor die gebrek aan sensitiwiteitsinjale sal laat mor.

Hoe beenaf die Sluiper ook al op Tes is, hy blý ’n seksis – juis ook omdat hy telkens homself as haar redder verbeel. Tog wys Hofmeyr uiteindelik waarop dié versugting uitloop.

Van die tonele waarin Tes verskyn, bly egter ontstellend. Omdat die leser hulle deur die prisma van die Sluiper se oë en sy ontsteltenis sien, vermy Hofmeyr egter die pornografie waarin dié beelde kon ontaard het.

Ook word die Sluiper in hierdie aflewering, verbasend, as ’n anti-Semiet ontsluier. Clive Joffe, wat reeds in Die Onaantasbares sy opwagting gemaak het, het die “grootste haakneus in Atlanta” (bl. 141) en beskik oor ’n aptyt vir “sikkels” (bl. 128).

Seker Hofmeyr se grootste slag in Die kwesbares is dat die Sluiper, met al hierdie tekortkominge, steeds ’n vreemd aantreklike karakter is. Hy is ontboesemend eerlik. Nóú is hy die ene wraaksugtige mannemoed, nóú kry selfvertwyfeling hom onder.

Dié prestasie behaal Hofmeyr, soos ook die geval met die vorige twee boeke was, deur die stem wat hy aan die Sluiper toevertrou: ’n uiters intelligente, spitsvondige en volkome individuele stem. Dié stem gebruik ’n rare, kordate Afrikaans wat in dieselfde asem ruimskoots uit ’n vervloë idiomeskat (“graswewenaars”, bl. 201), neologismes (“hyghok” op bl. 200 en “Tupper-tieties”, bl. 201) en skunnighede (“pispoel”, bl. 199) put. Tog kom dit ten volle outentiek en geloofwaardig oor. Maar natuurlik sal die Sluiper ’n ent hierdie eeu in só praat. Hoe dan anders? Dít wil gedoen wees.

Hofmeyr is ’n wafferse verkleurmannetjie. Enersyds is hy ’n siener (“[d]ie allemintige dak het soos ’n korona oor die heerlikheid gespan”, bl. 143) en andersyds ’n stoutmoedige kulturele argeoloog. In Die kwesbares toon hy opnuut dat hy ook ’n besonder vindingryke verteller van stories is.

’n Mens wonder wat nog in sy broek sit. ’n Gróót roman dalk?

  • Jean Meiring is ’n Johannesburgse regsgeleerde en vryskutresensent.
Meer oor:  Steve Hofmeyr  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.