Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Steyn delf diep in donker kant van die mens se psige

Losprys

Martin Steyn

Misdaadfiksie

LAPA, 295

Die nuwe helder ster op die riller-horison, Martin Steyn, duik in sy jongste boek selfs dieper in die donker kant van die mens se psige in.

Steyn se debuutboek, Donker spoor, was vier jaar gelede die waardige wenner van die ATKV Woordveertjie. ’n Impakryke misdaadverhaal met tekstuur, unieke karakterisering en rare empatie met slagoffer, misdadiger en speurder. Raar, want die boek ís, tog, ’n riller.

Steyn se eie moraliteit skemer sterk deur in sy skryfwerk (hy is onder meer ’n uitgesproke vroueregtestryder); sy sosiale IK en bewussyn is vlymskerp – en sy karakters pure mens. Die boek is intussen in Engels vertaal en word in Amerika versprei, en dit gaan nou ook in Turks vertaal word.

Om vir bykans 400 bladsye die leser se aandag, meelewing en spanning met soveel moeitelose en atmosfeerryke grasie te behou, verg inderdaad ’n seldsame talent. En dit is nie anders met Losprys nie.

Peter Temple, Australië se vernaamste krimi-skrywer, het altyd gesê die belangrikste onderdeel van ’n suksesvolle riller is nie noodwendig die intrige nie, dis die karakters. En die dialoog. Steyn, wat meteoriese opgang gemaak het sedert sy eerste boek, is ’n klinkklare voorbeeld daarvan.

Met elke boek groei sy karakters. Afgeronde, geloofwaardige mense – en in Losprys verdiep hierdie tendens.

Steyn se manier om in vroue se koppe te klim is al bewys in Swartval, en op ’n vraag van hóé hy dit doen, sê hy eenvoudig: 'Baie versigtig. En bewustelik, want ek wil dit graag reg doen.'

Kortliks handel die verhaal oor ’n Amerikaanse rykmanskind in Llandudno wat ontvoer word vir ’n geweldige geldeis, en die rolspel tussen die span speurders, polisielede en ander wat aan die saak moet saamwerk.

Adjt. Enzo Ariefdien (’n baie kragtige, dog eerlike karakter) verkies moorde, want dan hoef hy nie nog vir ’n verdwene, lewende mens se lewe – veral ’n kind s’n – ook verantwoordelik te wees nie. Sy makker, sers. Fikiswa “Zap” Zaphalala, is ’n gedrewe vrou wat nie nonsens vat nie, en tussen haar Xhosa-Engels en Ariefdien se Kaapse Afrikaans vind hulle die regte plek om te kommunikeer.

Ook in die span is ao. Karla Blanckenberg as primêre onderhandelaar, ’n komplekse vrou met ’n swaar emosionele las – dié tipe werk kom lê tog in ’n mens se gemoed. Maar wanneer sy haar werk doen en met die ontvoerder praat, is sy kalm en gefokus. Jare se ervaring het haar geleer hoe om sulke knyptangsituasies te hanteer.

Steyn se manier om in vroue se koppe te klim is al bewys in Swartval, en op ’n vraag van hóé hy dit doen, sê hy eenvoudig: “Baie versigtig. En bewustelik, want ek wil dit graag reg doen. Ek lees gereeld oor vroue, want vroue en hul ervarings interesseer my. Al van skool af. Ek het altyd die briewe en persoonlike vrae in die rooi rose, Sarie, Fair Lady en Cosmo en watter vrouetydskrifte ook al in die omgewing was, gelees.”

Dan is daar die veeleisende kapt. Lubambo, wat aanhoudend druk vir resultate en ’n oplossing. Hier en daar duik onverwagte, soms snaakse, soms hartseer, karakters op – soos die bekkige Lospers wat Arafdien-hulle in ’n stadium in Mitchells Plain help om ’n moontlike verdagte op te spoor.

Dan bly die bykomende raaisel: Hoe het die ontvoerders geweet wat die gesin se roetine is?

Deur Steyn se oë leer jy ook Mitchells Plain beter ken. Toe hy destyds begin belangstel het in regte reeksmoordenaars en oor hulle begin lees het, was dit so 1993-’94. En in Januarie 1994 is seuns se lyke in die duine by Mitchells Plain ontdek. ’n Klomp. Uiteindelik het hulle daardie maand 11 lyke gekry. Steyn het die saak gevolg. In die proses het Mitchells Plain vir hom meer as net ’n dorp geword.

’n Mens kan Steyn beslis benoem as die outeur wat die beste sielkundige rillers in Afrikaans skryf. Hy sit die sielkunde voor die riller.

Later lees hy toe Micki Pistorius se boek Catch Me a Killer, en sy skryf met soveel deernis oor Mitchells Plain dat dit vir hom nog interessanter geword het. Hy het met die hoof van die Kinderbeskermingseenheid wat in Mitchells Plain gebaseer was, gaan praat.

Daar is ook goeie, en duidelik persoonlik ervaarde, beskrywings van areas soos Imizamo Yethu en ander townships. Dit is een van Steyn se bykomende sterkpunte: sy manier om met ’n valkoog die omgewing waar te neem en die leser te laat voel dat sy of hy dáár is.

Dit is landskappe wat dien as die ideale agtergrondpalet vir die raaiselagtige en duister gebeure.

’n Mens sukkel soms om te onthou wat die verkillende karakters doen, maar dit vervaag teenoor die drama wat afspeel tussen die hoofkarakters, die onderhandelaars en die skatryk Gordons, wie se seun Steven die ontvoerde is.

Die boek volg sy eie pas, en verskil in toon effe van sy vorige boeke, maar dit is die karakters en hul dialoog wat jou bybly en vas­geklou hou.

’n Mens kan Steyn beslis benoem as die outeur wat die beste sielkundige rillers in Afrikaans skryf. Hy sit die sielkunde voor die riller.

  • Ronel Nel is ’n vryskutresensent en -joernalis van Pretoria.
Meer oor:  Martin Steyn  |  Boekresensie  |  Boeke  |  Misdaadfiksie  |  Losprys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.