Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Steyn, Jonker bring hul jeugboeke na Bfn-skole

“Gaan jy nou my opposisie word?” het die jeugboekskrywer Fanie Viljoen gevra toe sy suster haar eerste jeugboek vir hom stuur.

Cecilia Steyn het gewag totdat haar kinders die nes verlaat voordat sy aan die skryf gekom het terwyl broer Fanie verskeie jare al as ’n bekroonde skrywer van Afrikaanse jeugboeke bekend is.

Saam met Steyn in die voorportaal van ’n Bloemfonteinse hotel is nog ’n jeugboekskrywer, Marga Jonker. Hul uitgewer, NB, het Jonker uit Durbanville en Steyn uit Orkney gebring om saam-saam hul boeke by skole in Bloemfontein bekend te stel.

Passievol oor perde

Jonker se passie is perde en Maya se musketier, die nuutste van haar ses jeugboeke waarin perde net so ’n belangrike rol soos die hoofkarakter speel, vra jy of sy ander temas vir volgende boeke in gedagte het. “Ek glo nie ek sal ooit uitgeskryf raak oor perde nie. My volgende manuskrip wat reeds by die uitgewer lê, gaan ook oor perde, maar dié keer is die aanslag effens anders.

“Ek het navorsing gedoen oor die Basoetoe-ponies van Lesotho, die enigste inheemse perderas in suidelike Afrika. Ponies met goeie balans, wat dus nie sommer van ’n krans af sal val nie, en wat ’n flegmatiese temperament het, is gebruik om oor baie jare ’n eie ras te teel.”

Jonker se liefde vir perde is in haar kinderjare vasgelê. Sy het grootgeword op ’n plaas tussen Paternoster en Stompneusbaai aan die Weskus. Elke Saterdag het sy en haar perdry-maats van die omgewing mekaar op die strand ontmoet en ver ente langs die see gery.

“Nou nog wanneer ek perdry, glip ek in ’n borrel in, in ’n tienerwêreld. Ek lees steeds tienerboeke, nie om karakterontwikkeling of iets akademies te bestudeer nie; ek lees agter die storie aan.”

Dat Jonker jare lank al skoolhou, verklaar seker iets van haar belangstelling in die tienerwêreld. Sy is ’n onderwyser by die Voorbereidingskool Durbanville waar sy kinders Xhosa leer.

Al die perde wat ’n rol in Jonker se boeke speel, is werklike perde. Die temas, plekke en mensekarakters verskil egter – die boeke vorm dus nie ’n reeks nie.

Mal oor tweelinge

#PresiesAnders is Steyn se nuutste reeks van drie boeke oor tweelingsusters wat identies lyk, maar hemelsbreed verskil in hul optrede.

Steyn sê tweelinge fassineer haar. “Toe The Parent Trap met Hayley Mills destyds uitgereik is, het ek my ouers mal gemaak. Ek kon nie genoeg van die fliek met die maltrap-tweeling kry nie.”

Steyn, wat in Welkom grootgeword en in Orkney woon, het op ’n dag toe haar man rugby kyk en haar seun PlayStation speel, gewonder wat sy nou sal doen. “Skryf,” het sy gedink. “Ek lees baie en het stories in my.”

Sy het Fanie laat weet, wat nie toe besef het sy suster is lank nie meer ’n jong meisie wat swak gediggies skryf nie. “Net nie dit nie,” sê hy. Hy ondersteun nou sy suster en is “die beste klankbord” vir Steyn se idees en tekste.

Op skool het Steyn klere geteken, want haar plan was om ’n modeontwerper te word. Die lewe werk egter nie altyd soos jy beplan nie en ná skool het sy by ’n apteek gaan werk. Daar het sy mettertyd so gevorder dat sy eindelik in die finansies-afdeling beland het en met siekefondse onderhandel het. Twee jaar gelede het sy daardie tuig neergelê om voltyds te skryf, en steeds meld die een boek ná die ander hom by haar aan. “Jy skryf nie boeke nie, boeke skryf jou,” sê sy.

Steyn hou van afwisseling. Sy het al romanzas gelewer, boeke vir meisies en seuns van verskillende ouderdomme en sy skryf oor verskillende onderwerpe.

Kassie

Cecilia Steyn

In haar nuutste boek, Somerskool en spoke in die #Presies Anders-reeks vir 12- tot 14-jariges, woon die tweeling Zoe en Zoya ’n somerskool by waar ’n legendariese spook hul senuwees op hol jaag.

Ook uit haar pen: Die reeks Tienerharte en vier boeke vir volwassenes.

Uitgewer: Human & Rousseau

Steyn het reeds twee ATKV-Woordveertjies ontvang.

Kassie

Marga Jonker

Maya se musketier, haar nuutste tienerboek, speel in Bloemfontein af waar Simon probeer om ’n mishandelde perd se gedrag te normaliseer. Sy suster Maya sukkel om by haar nuwe skool aan te pas, en by die perdestalle het sy ook probleme.

Boeke uit haar pen: Brigadier en die raaiselponie, Jenna en die leesperd, Gabriella en die hertog van harte, en ander.

Uitgewer: Tafelberg

Van Jonker se gedigte is opgeneem in die Nuwe Kinderverseboek en Toulopers.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.