Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Steyn kan Mankell opvolg

Dit is ’n onvergeetlike leeservaring, sê Jonathan Amid.

Swartval deur Martin Steyn. Uitgewer: Lapa. Prys: R240.

Martin Steyn se derde krimi is ongetwyfeld die vreesaanjaendste, spannendste riller uit die korpus van Suid-Afrikaanse misdaadfiksie wat in 2016 uitgereik is. Geen geringe prestasie nie ná nuwelinge soos Irna van Zyl se Moordvis, Anel Heydenrych se Malhuis en Lerina Erasmus se Die leliemoordenaar, asook die werk van ander skrywers soos Henk en Dibi Breytenbach (onderskeidelik Moordlys en Vrediger) en Duane Aslett (Goudduiwel).

Steyn het in 2014 met die opspraakwekkende Donker spoor gedebuteer. Selde in die Suid-Afrikaanse letterkunde is al met ­soveel deernis oor die verhouding tussen ouer en kind, en veral die kwessie van genadedood, geskryf.

In 2015 het Steyn ’n puik vervolg, Skuldig, gepen – sonder om enigsins die suksesvolle debuut te probeer dupliseer. Hy het eerder kleim afgesteek met ’n nuwe hoofkarakter, die treffende gegewe dat slagoffers in hul laaste oomblikke die woord “skuldig” in hul eie bloed aan hul sitkamermure moet skryf, asook met dialoog wat soms aan ­Tarantino se aweregsheid herinner.

Swartval verteenwoordig die getuigskrif van ’n skrywer wat uitstaan as ’n plaaslike eweknie/opvolger vir die ontslape meester van die sogenaamde Nordic Noir, die Sweedse skrywer, dramaturg en humanitêre figuur Henning Mankell.

Soos Mankell op sy allerbeste in Faceless Killers, The Dogs of Riga en The Fifth Woman, skoei Steyn sy meedoënlose dog simpatieke blik op die verskillende wyses waarop geweld manifesteer in ’n samelewing wat gedurig aan die verander is.

Vir Mankell het die Sweedse samelewing iets van sy siel verkoop in die verbrokkeling van die welsynstaat en moet die Sweedse burger sy plek heroorweeg namate hy met die teenwoordigheid van die “ander” vir lief moet neem. Vir Steyn is die fokus veral op Suid-Afrikaanse vroue, jonk en oud, wat verbete veg in ’n wrede “oorlog” teen hul waardigheid, emosionele welstand en liggaamlike onskendbaarheid. Dat Suid-Afrika allerweë as die moord- en verkragtingsmekka van die wêreld beskou word, en dat die sterftesyfer van vroue tussen 16 en 49 volgens navorsing jaarliks van die hoogste ter wêreld is, bied vir skrywers soos Steyn ’n milieu om te tap soos min.

Steyn is klaarblyklik gefassineer met uiteenlopende vorms van trauma en isolasie en die kettingreaksie wat die verbrokkeling van gesonde familie- en intieme verhoudings op die (veral manlike) individu en die groter samelewing het.

Waar Donker spoor en Skuldig skokkende geweld – sowel interpersoonlik as seksueel – byna forensies deur middel van die “polisieprosedure” met twee manlike speurders aan die spits ondersoek het, is Swartval ’n perd van ’n heel ander kleur.

Eerder as om die verhaal oor te vertel sal dit deug om slegs aan te dui dat ’n ontkleedanseres, Claire, Swartval se spilpunt is. Sy word een bloedig warm somersdag ontvoer. Haar stryd om oorlewing, en haar fisieke en psigiese foltering aan die hand van ’n ma en seun wat self slagoffers van patriargale geweld is, is die grondslag vir Steyn se virtuose skryfvertoning.

Swartval is ’n aanklag teen die ineenstorting van die gesinslewe weens wreedheid en emosionele aftakeling, en ’n kloustrofobiese, haas ongelooflike uitbeelding van die lot van die geweldslagoffer. Dit is ’n onverskrokke misdaadriller wat die leser trakteer op eerstehandse ervarings van verkragting.

Swartval is die derde grensverskuiwende roman uit Steyn se pen, maar is vars omdat die skrywer bereid is om meer as die genrekontrak met die leser na te kom: dié Steyn-krimi bied die verruklike kombinasie van herkenbare skryfstyl, haarfyn plot, geloofwaardige karakters, puik navorsing, galgehumor, gekombineer met uiters onthutsende terugflitse en liriese beskrywings, en die houvas van die verlede op die hede.

Swartval is meer as net ’n roman wat jy lees; dit is ’n onvergeetlike belewenis.

  • Jono Amid is vryskutresensent, taalpraktisyn en ’n doktorale student by die Universiteit Stellenbosch. Die tema van sy proefskrif is “postapartheid-misdaadfiksie in Engels”.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.