Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Steyn stel gruwelvrate nie teleur
Martin Steyn met sy debuutroman Donker Spoor.

Toe Martin Steyn in 2014 met sy boek Donker Spoor debuteer, was hy, soos hegte gemeenskappe dikwels na nuwelinge verwys, ’n “inkommer”. Die Afrikaanse wêreld van die misdaadroman, met sy vele vertakkinge en nuanses, was reeds met knap en gewilde skrywers soos Deon Meyer, Peet Venter, Chris Karsten, Rudie van Rensburg en Karin Brynard bederf.

En daar was dadelik mededinging in die vorm van die Breytenbach-sibbe Henk en Dibi, en ook skrywers soos Irma Venter en Madelein Rust.

Steyn het begin skryf nadat hy veral gruwelverhale van Stephen King gelees het, en is ook onregstreeks deur flieks soos Pulp Fiction en Heat beïnvloed.

“Ek weet nie wat dit is van donker dinge wat my aantrek nie, maar dis so met boeke, films, selfs musiek. Ek het kleintyd nooit ’n episode van Nils Holgersson gemis nie en my gunsteling-episode was die een met die spookhuis. Ek onthou steeds die groot stel trappe en die vreemde man.”

Ander skrywers wie se werk hy ook lees, sluit in Tana French, Jodi Picoult en Jonathan Kellerman. Voeg hierby ’n akademiese agtergrond van kriminologie en sielkunde, en ’n voorkeur vir die werk wat die gewone speurder in die alledaagse misdaadwêreld moet doen, en ’n mens begin meer verstaan van die kreatiewe impulse wat hierdie skrywer stories laat skep. Want dit is wat hy doen – om met ’n “organiese proses, wat hoofsaaklik uit (sy) onderbewussyn kom” stories te vertel.

Vir Steyn begin sy storiemaakproses by homself as eerste leser. En sy navorsing en karakters neem hom vandaar op ’n natuurlike wyse agter die storie aan. Elke skrywer besluit, volgens hom, ook self waar hy ’n verhaal se grense sal stel en dít word deur die spesifieke verhaallyn bepaal. Realisme, waarheid en eerlikheid is vir hom belangriker as sensasie, hoewel hy bieg: “Ek geniet dit miskien ’n bietjie te veel om in detail te beskryf hoe die skedel in ’n outopsie oopgesaag word, maar dit is hoe dit gedoen word en vir my is dit interessant. En dis funksioneel in Skuldig, waar die slagoffers in die kop geskiet word en die patoloog die koeël moet kry. Dis belangrik om die gevolge van geweld uit te beeld, iets wat nogal prominent in my boeke is – hoe die slagoffers lyk en die impak wat dit op die mense het wat hulle liefhet.”

Sy laaste roman, Swartval, is juis ’n voorbeeld van die vernuf waarmee hy sowel die fisieke as emosionele brutaliteit van die misdadiger bekyk. Die broeiende woede waarmee die teks voortstu en die ingrypende emosionele foltering en skade wat mense mekaar kan aandoen, voel nooit soos ’n storie nie; dis nét te na aan ons bekende werklikheid.

Die moeite wat die skrywer met navorsing doen, is noemenswaardig: Onderhoude wat opgeneem en getranskribeer word, ballistiese feite wat in die forensiese wetenskapslaboratorium geoes word, besoeke aan polisieselle, gyselaaronderhandelings wat bestudeer word, spesifieke woord- en sinskeuses wat gemaak word. Die lys is lank.

Die drie romans wat sy aanhangers tot dusver te lese gekry het, het genoeg positiewe kommentaar ontlok, en het ook van gesaghebbende kritici gekom: Jeanette Ferreira, J.B. Roux, en Jonathan Amid, om enkeles uit te sonder. Daar was ook kritici soos Coenraad Walters, wat in ’n sekere sin die meeste lesers se gevoel opgesom het deur in sy resensie van Donker Spoor op te merk dat die “(storievrate) spoedig ’n opvolg vir dié lekker ‘krimi’ (sal soek)”.

Pluspunte in Steyn se werk is die gemaklike en geloofwaardige dialoog van die karakters, hoofkarakters sowel as medespelers. Hoewel die leser wat van grafiese detail hou met lekker grusame detail bederf word, is dit altyd binne konteks en verantwoordelik. En die humor en ironie wat Steyn op knap wyse hanteer, maak veral van die eerste twee romans tekste wat ’n mens vinnig en met afwagting wil lees.

In ’n uitstekende skrywersprofiel wat Riette Rust oor die skrywer gedoen het, verklap hy ’n paar persoonlike voorkeure, soos die musiek van Pearl Jam, Nirvana en Seether waarna hy graag luister, sy TV-kykstof (True Detective en House of Cards) en die feit dat hy empatie met vroue het. Die karakters in sy romans is deur die bank interessante, natuurlike mense by wie die leser dadelik aanklank vind. Waarskynlik omdat hul sképper weet waarvan hy praat.

Vir sy nuwe roman wat nou bekendgestel word, skryf Steyn die volgende reklameteks: “Ek het jou seun. Moenie die polisie bel nie. As julle alles doen wat ek sê, sal ek hom nie seermaak nie.”

Die omgewing waarin die aksie afspeel, is Houtbaai/Llandudno, waar die seun ontvoer word. Die kleur rooi speel ’n belangrike rol, verduidelik Steyn. Tot sover klink alles bedrieglik eenvoudig. Maar in die hande van hierdie meester-manipuleerder van misdaadgegewens en die vreemde paadjies wat die mens se psige alte dikwels volg, is dit maar die basisresep vir ’n volgende volbloedwenner.

Steyn is lankal nie meer ’n inkommer nie.

* Steyn stel op 6 November om 18:30 sy misdaadroman Losprys in Naln in Bloemfontein bekend.

Meer oor:  Martin Steyn  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.