Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Storie binne-in storie boei

Fiksie

Dooiegety

Bets Smith

LAPA, R285

’n Skrywer wat meer as 20 suksesvolle liefdesromans agter haar naam het en dan die misdaadgenre aanpak, verdien re­spek.

In Dooiegety – Bets Smith se vierde spanningsroman – word die fotograaf Daleen se vriendin vermoor op ’n vreedsame kusdorpie, waar alles idillies lyk en die verhouding tussen die plaaslike inwoners gemoedelik is. Maar daar skuil duidelik ’n skuldige tussen al hierdie gawe dorpenaars. Boonop is die gemeenskap reeds effens geskud nadat ’n tienermeisie die vorige vakansie daar verdwyn het. Een vir een ontmoet die leser die karakters om Daleen, wat van meet af aan met verbasende speurvaardigheid inspring om die skuldige te identifiseer.

’n Jaar of wat gelede verskyn ’n boek deur een van ons voorste misdaadskrywers. ’n Afwagtingskeppende opbou van gebeure, met as bonus ’n filosofiese ondertoon.

Maar toe materialiseer ’n karakter wat dwarsdeur die ontvouing van die verhaal slegs opgeduik het in die protagonis se herinneringe (sonder enige aktiewe aksie in die hede) ten einde net betyds op die dek om ’n byna monologiese verduideliking van alles te verskaf. Asof die skrywer in die pylvak self moeg geraak het om ’n skuldige te kies. ’n Leser wil tog eindelik, ná dophou van al die karakters, kan sê: “Hoe het ek dít gemis?” Wat ’n lekker kinkel moes gewees het, was te onoortuigend geïntegreer om bevredigend te wees.

Aan so ’n kunsmatige oplossing vir ’n raaisel maak Bets Smith haarself beslis nie skuldig nie.

Kyk, in Dooiegety is daar geen gebrek aan leidrade nie. Ongelukkig lê hierdie leidrade soms net te duidelik in karaktertekening: As die vreemdeling op die dorp ’n vierkantige ken en blitsende grou oë het, is hy nie die skuldige nie al “ontmoet sy wenkbroue mekaar in die niemandsland van ’n frons”. Die karakterpatroon is net te opvallend en hierdie leser het hom onmiddellik uit­geskakel as skurk, want helde in die liefdesroman-genre het altyd sterk kenne en flitsende oë.

Daarenteen is Daleen en haar tienerdogter, Dalri, wel só geloofwaardig ontwikkel dat die leser besorg oor hulle raak en enduit sal lees totdat hulle veilig is. Daar is ’n lekker storie binne die storie en almal, selfs die voorspelbares, word behoorlik in die ontknoping geïntegreer. Smith doen dit met ’n geoefende hand, en verder kan die leser saam met Daleen leer uit al haar internetnavorsing ten einde nie net die raaisel uit te pluis nie, maar ook haar dogter se leefwêreld beter te verstaan.

Dooiegety is spannend sonder om buitensporig moeilik te wees om te volg. Dis effe voorspelbaar weens die herkenbare karaktertipering, maar bevredigende ontsnapping.

Clari Niemand is ’n vryskutresensent van Pretoria.

Meer oor:  Boekresensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.